top of page

Zonnebloem: Kollege-dae

ZONNEBLOEM; 'n OPVOEDING


 “Zonnebloem College was founded on 11 March 1858 by Sir George Grey and Bishop Gray. The school was opened so princes and princesses of African Kings and Chiefs from the eastern Cape Colony could receive an education.” Wikipedia


Die Kollege was aanvanklik gehuisves op die plaas “Proteaplaas”, vandag Bishops Court. (‘n Ander bron, www.sahistory.org.za, noem dat die plaas se naam “Zonnebloem” was. Volgens nóg ‘n bron, www.bcra.co.za, was die naam van die oorspronklike plaas “Bosheuvel” toe dit aan Jan van Riebeeck in 1658 “geleen” was.)


 Na die stigting van die Unie van Suid-Afrika in 1910, is Zonnebloem Kollege opgeneem in die Distrik Ses gemeenskap.


In 1989 is onderwys-opleiding by Zonnebloem gestaak en na Demokrasie in 1994, is Zonnebloem Kampus in die nuwe CPUT kampus geïnkorporeer.  Die ou Zonnebloem geboue huisves tans die Primêre en Sekondêre NEST Skool. (www.sahistory.org.za)




Die jare 1971 en 1972 toe ek daar was, was daar  behalwe die onderwys-studente, ook St.6- tot St.8-skoliere gehuisves. Mnr. C. Cullis was die Hoof en Mnr. Petersen die Onderhoof. Die etos van die Kollege was Christelik (Anglikaans) en formeel. Mnr Cullis het die weeklikse saalbyeenkomste kompleet met swart akademiese toga gelei.


 Mev. S. Swartz en Juff. Johannes was die twee klas- en metodiek-dosente. Elkeen het hul groep studente vanaf eerste- tot tweede jaar onderrig. My twee jaar van opleiding het ek onder die streng hande van Mev. Swartz deurgeloop.


Stories van hoe sy studente se apparaat wat nie aan haar hoë standaarde voldoen het nie, opgeskeur het, was met smaak deur tweedejaars aan ons eerstejaars oorvertel.


Ek het self in my eerste jaar ‘n onaangename ervaring met haar beleef toe ek nie ‘n spesifieke handboek by my gehad het nie. Ergste was dat ek dit doelbewus by die koshuis gelos het, want volgens ons rooster sou ons dit nie daardie dag gebruik het nie.


Al die ander studente in die klas het egter die boek by hulle gehad, want teen daardie tyd het hulle besef dat jy nie kanse vat met “Swartsie” nie. Nadat sy my die leviete voorgelees het, stuur sy my na die skool-sekretaresse gestuur om ‘n “Report Card” te kry.


Ek het nie ‘n clue gehad watter big deal dit was om ‘n “report card” te kry nie. Dit was vir herhaalde, ernstige oortredings in die klas en moes na elke periode deur die dosent geteken word indien jy jouself gedra het. Aan die einde van die week moes jy dan die hoof gaan sien om jou gedrag te verduidelik.


Aan die einde van daardie dag was ek in trane nadat almal (dosente en mede-studente) simpatiek en verontwaardig was omdat ek nie so 'n oordrewe straf verdien het nie. Mnr. Oliphant wou terstond die kaart opskeur, maar ek dog dan kom ek in nog groter moeilikheid.


Mnr. Cullis kon ook glad nie verstaan waarom ek ‘n “report card” kry omdat ek vir die eerste keer ‘n boek vergeet het nie. Ek het nog in my swak Engels so tussen die trane deur probeer verduidelik dat ek nie eens my boek vergeet het nie.


Mev. Swartz is natuurlik voor stok gekry oor haar onregverdige optrede. Na die ongelukkige voorval het sy my min of meer geïgnoreer en het ook nooit weer daarna verwys nie.

Dit het my aanvanklik erg emosioneel geraak, maar met die ander dosente en mede-studente se ondersteuning, het ek vir die res van die twee jaar op Zonnebloem so baie ander aangename ervarings beleef.


Ons opleiding was deeglik en baie prakties en as gevolg daarvan het Zonnebloem-opgeleide onderwysers ‘n goeie reputasie gehad. Die weke waneer ons “Praktiese Onderwys” moes doen, was egter nie iets waarna studente uitgesien het nie.


Elke kwartaal moes ons vir 'n week op ‘n keer voorberei om by verskillende skole proeflesse te gaan gee. Die lesse was volledig uitgeskryf en vir elke les moes daar “apparaat” wees; hulpmiddels om te help met begrip van die les.


Die klasonderwysers by die proefskole was oor die algemeen gaaf en ons het baie by hulle geleer, want vir daardie week moes ons ook in die klaskamer waarneem. Dit was maar ‘n senutergende besigheid wanneer ons dosente gekom het vir “krit-lesse”. Hulle was dan teenwoordig vir ‘n les en moes agterna kritiek lewer.


Al ons dosente was professionele, redelike mense en dit was nie nodig om hul besoeke weg te wens nie, maar vertel dit nou vir ‘n groentjie. Hul kritiek was altyd opbouend en was bedoel dat ons daaruit leer. Tog was almal verlig as nóg ‘n week van prakties verby was.


Elke jaar het die Kollege ‘n operette opgevoer. Die spelers was gekies uit die tweedejaars wat oudisies moes aflê, want hulle moes kon toneelspeel en sing ook. Ansie-hulle het “Aspoestertjie” op die planke gebring en dit was nie sommer net ‘n konsert nie.

Die eindproduk was van hoogstaande gehalte onder leiding van Mev. Hindle, ons Engels-dosent.


 Die voorbereiding was wel ‘n spanpoging waarin die ander dosente sowel as studente almal kliphard gewerk het. Die eerstejaars, onder leiding van die kunsonderwyser en Mnr Hopley, hoof van die Kunsskool, was verantwoordelik vir die dekor en kostuums.


In my tweede jaar het ons “Dick Wittington, Lord mayor of London Town” opgevoer. Lorraine Donough het die rol van die hoofkarakter vertolk en ek was haar “understudy”.

Lorraine het die rol briljant vertolk en dis ook maar goed dat dit nie nodig was dat ek om een of ander rede moes instaan nie.


Ek het ook ‘n klein rolletjie as “Lavender seller” vertolk. Daardie paar sekondes op die verhoog toe ek moes sing: “Lavender, sweet lavender! Buy my lavender, sweet lavender!” was vir my ‘n angswekkende ervaring. Net daar het enige drome om akteur te wees, vir my gesneuwel.


Vida Hartman, (sy moes sekerlik familie wees van Sydwill Hartman), met haar suiwer sopraan-stem het die vroulike hoofrol vertolk. Ons finansiële sekretaris, Mnr, Ramsdale, het die nie-praat-rol van Dick Wittington se kat met ongelooflike talent vertolk.


Mnr. M. Dyers, ons Afrikaans-dosent op wie ek ‘n groot “crush” gehad het, het die rol van ‘n gedistingeerde ryk man en pa van die vroulike hoofkarakter, vertolk.


Beide die produksies het my geleer hoeveel tyd, oefening en moeite dit verg om ‘n goed-afgeronde eindproduk op die verhoog te kry. Dit was egter nie net harde werk nie, ons het die proses ook geniet en was so trots op die resultate.


Nog ‘n onvergeetlike ervaring was ‘n uitstappie na Maynardville Opelug-teater waar ons ‘n Shakespeare-produksie, “A Midsummernight’s Dream” gaan kyk het. Dit was magies.






Elke jaar was daar ook die onvermydelike atletiek-oefeninge. Weer en weer moes ek vir weke lank laaste kom in die 100m resies totdat die onderwysers tevrede was dat die beste atlete gekies is.

Ek het spies- en diskus-gooi verkies, maar was ook nie baie goed daarin nie.


Op die sportveld was daar ook studente wat uitgeblink het, ek onthou veral vir Avril Fielies. Sy was nie net atleties nie, maar ook baie mooi met lang, swart hare. Jare later het ek verneem dat die einste Avril met Mnr, Oliphant, ons destydse Aardrykskunde-onderwyser, getrou het.


Aan die einde van elke jaar was daar ‘n afskeidsdans vir die tweedejaars en vir baie van ons was dit ons eerste formele dans-geleentheid. Elke student kon familie of vriende nooi en na die onvermydelike speeches, was dit ‘n gesellige affêre.


1971 was jaar toe die “hotpants” hoogmode was en van die meisies het dit wel oor naweke gedra, maar niemand het gedroom daarvan om iets anders as ‘n lang rok na die afskeids-geleentheid aan te trek nie.


‘n Hosteliet van wie ons dit die minste verwag het, daag toe die aand op in ‘n wit bloes, swart hotpants met kruisbande, hemelhoë hakskoene, perfekte grimering en stylvolle “updo”. Het sy ons vir ‘n ses geslaan!


Ek kan glad nie onthou wat ek in my eerstejaar gedra het nie, maar onthou my tweede-jaar se rok vir die geleentheid goed. Dit was ‘n vollengte, empirestyl wit en navy rok. Die onderste gedeelte was wit crépe en die bokant navy chiffon met wit polka dots. Ongelukkig het ek ‘n foto van die geleentheid verloor.


My twee jaar op Zonnebloem was soveel meer as net opleiding as kindertuin-onderwyser, dit was ‘n opvoeding. As ‘n leser kon ek al van ‘n jong ouderdom af ‘n idee vorm van hoe klein my wêreldjie is en hoe groot die wêreld daarbuite moet wees.


Zonnebloem het my help besef dat een leeftyd te kort is om alles te leer, en hoe nodig dit is om jou lewe lank ‘n student te bly.

 

Ek groet met Zonnebloem se leuse: “Walk as children of the light.”


Tot ons weer gesels.

Shirley Rose

34 views

Recent Posts

See All
bottom of page