top of page

Om 'n gegewe perd in die bek te kyk

Updated: Dec 20, 2024


Wie hou nou nie daarvan om ‘n geskenk te ontvang nie? Daardie afwagting terwyl jy die pakkie oopmaak en wonder: “Wat sou dit wees?”



Die vreugde van ‘n geskenk wat nommerpas vir jou is, kan mens sommer op die ontvanger se gesig lees. Ongelukkig voldoen die geskenk nie altyd aan die verwagting nie en dit het niks met die prys daarvan te doen nie.


Om die “regte” geskenk te gee, vereis dat die gewer die ontvanger se persoonlikheid, voorliefdes en tydverdrywe moet ken. Wat beteken ‘n bottel duur whiskey vir ‘n geheelonthouer byvoorbeeld? Selfs al kan hulle dit vir gaste aanbied, kan die persoon nie sy/haar eie geskenk geniet nie.


Ek luister nou die aand na ‘n potgooi oor iemand wat sowaar ‘n studie gemaak het oor die waarde van die “regte” geskenk. Hy stem saam dat prys min invloed op die ontvanger se genot van die geskenk het. Hy vertel dat hy as klein seuntjie een Kersfees ‘n groot toegedraaide geskenk by ‘n oom gekry het. Sy verwagting om ‘n speelding in die pakkie te kry, het platgeval toe hy ‘n boks popcorn daarin ontdek.


Dit laat my dink aan iemand wat baie jare gelede my raad gevra het oor ‘n gepaste geskenk wat hy vir sy vrou kan gee op haar eerste verjaarsdag na hul troue. My raad was dat hy tog net nie iets vir die huis moet koop nie, maar iets wat net sy kan gebruik. Die nuwe mevrou was glad nie beïndruk toe hy vir haar badprodukte as geskenk gegee het nie!


Almal van ons het natuurlik al ‘n geskenk ontvang wat mens laat wonder hoekom die gewer gedink het dis ‘n goeie idee om juis dít aan jou te skenk. Baie geskenke word gereeld gesirkuleer, ander lê iewers ‘n ‘n kas.


Selfs my filosofie dat niemand vir my enigiets hóéf te gee nie en dat enige geskenk welkom is, het nie verhoed dat ek nou die dag present- wynglase na 35 jaar weggeggee het omdat ek dié geskenk nooit gebruik het nie.


Mense wat my ken sal weet dat boeke, kerse, blomme en geskenkbewyse vir ‘n facial of pedikuur altyd welkom sal wees. Sommige mense reken dat ‘n geld-geskenkbewys te onpersoonlik is, maar liewer dit as ‘n geskenk wat in die kas bly. (So nou en dan sal ek parfuum of ‘n stukkie juweliersware van manlief waardeer.)


Sommige paartjies maak wenslysies van moontlike geskenke vir mekaar. Dit is steeds ‘n verrassing watter geskenk jy gaan kry en dit is iets wat die persoon graag wou hê. Ervarings soos teaterkaartjies of kooklesse wat saam geniet kan word, is ook goeie idees.


Ouer mense veral waardeer ervarings as geskenke omdat hulle reeds alles anders het óf geen behoefte aan nog goed het nie. Die meeste ervarings kos wel meer as wat jy wil/kan spandeer, maar evarings soos om kinders op te pas terwyl die ouers na ‘n restaurant gaan of selfs ‘n naweek weg, kos niks. Jou tyd en teenwoordigheid is ‘n kosbare geskenk om aan omtrent enigiemand te gee.


Vir diegene met handwerk-talente, kos selfgemaakte geskenke soos ‘n handgemaakte tafeldoek, konfyt of tuisgebak net die lap en bestandele se uitgawes en jou tyd. My dogter se partner Neil, het op my en Bertie se laaste verjaarsdag ‘n portret van ons drie kinders, deur homself geskilder, aan ons geskenk. Dit was ‘n wonderlike geskenk vir ons.


Die Kersfees dink ons natuurlik aan die perfekte geskenk aan die ganse mensdom: Jesus Christus. Die Jesuskind wat gebore is om vir ons sondes te sterf, vul ons met diepe ootmoet en dankbaarheid.


ree

Mag ons almal die kuns onder die knie kry om die “regte” geskenke te gee aan ons geliefdes.


Geseënde Kersfees 2024.

Shirley Rose

 
 
 

Recent Posts

See All
Op Robbeneiland

WAS JY AL DAAR? Op Donderdag 20 November 2024 besoek ek en Bertie Robbeneiland. Bertie vir die tweede keer en uiteindelik, my eerste...

 
 
 

1 Comment


Neil Horne
Neil Horne
Dec 17, 2024

Die meeste van my lewe het ek geglo daar's net twee soort persone: die wat vir jou die geskenk gee wat hulle dink jy wil he, en die wat gee wat hulle wil he jy moet he. Maat toe ontmoet ek 'n bystander in 'n viswinkel. Volgens haar is daar net twee sort persone: Die wat glo daar's net twee tiepes, en die wat nie.

Like
bottom of page