Op Robbeneiland
- ferisshirley
- Nov 29, 2024
- 3 min read
Updated: Nov 30, 2024
WAS JY AL DAAR?
Op Donderdag 20 November 2024 besoek ek en Bertie Robbeneiland. Bertie vir die tweede keer en uiteindelik, my eerste keer. Ek stap daar weg met gemengde gevoelens.
Verwondering, bewondering, dankbaarheid, verbystering en hartseer spoel om die beurt deur my hart terwyl ons die bustoer, maar veral die besoek aan die tronk meemaak. Die geskiedenis van die eiland weerspieël onmenslikheid en wreedheid teenoor die mense wat daarheen verban is.
Die Hollanders het al vanaf die laat sewentiende eeu Robbeneiland gebruik as tronk waarheen politieke vyande gestuur is. Vanaf 1892 was mense met melaatsheid na die eiland gestuur om verspreiding van die gevreesde siekte te probeer voorkom.
Die Suid Afrikaanse regering het vanaf 1961 politieke gevangenis saam met gevaarlike kriminele Robbeneiland as ‘n tronk gebruik. Die politieke gevangenis in maksimum- en ander kriminele in medium sekuriteit- veiligheid tronke.
Ons vaar uit die Tafelbaai-hawe op die Krotoa terwyl ons na ‘n video kyk oor die mense wat op Robbeneiland aangehou was. Na sowat ‘n halfuur stap ons aan wal en neem ons eers ‘n busrit op die eiland terwyl ons gids, wat vir vyf jaar op die eiland aangehou was, interessante geboue uitwys en vertel van die destydse lewe daar.

Die gids lê klem daarop dat ons Vryheid nie net deur een man bewerkstellig is nie, maar deur al die ander aangehoudenes en druk van die mense wat buite die tronk protesteer het, sowel as druk uit ander lande om Apartheid op te hef.
Hy het ook besondere agting vir Robert Sobukwe wie hy dink nie die nodige erkenning vir sy aandeel in die bevrydingstryd kry nie. Robert Sobukwe is op 5 Desember 1924 in Graaff Reinet gebore en is op 27 Februarie 1978 in Kimberley oorlede. Hy was die stigter van die Pan Africanist Congress en is aangehou in eensame opsluiting op Robbeneiland van 1960 tot 1969.

Die gees op die bus is egter nie swaarmoedig nie en ons gids het ‘n fyn sin vir humor. Die algemene indruk is dat ons trots is op en erkentlik teenoor diegene wat so baie vir ons vryheid opgeoffer het.
Die hele eiland is vanaf 1999 ‘n lewende museum en is ‘n Suid-Afrikaanse Nasionale Erfenisterrein, sowel as ‘n UNESCO world Heritage Site. Ons ry verby die Kalksteen kwarrie waar Nelson Mandela en sy tydgenote klippe gekap het. Die skerp lig het oogprobleme veroorsaak en Madiba moes selfs later in sy lewe ‘n oogoperasie ondergaan.
Daar is ‘n hopie klippe wat hy en ander vorige aangehoudenes jare later, toe hulle weer die eiland besoek het, as herinnering daar gelos het. Die indrukwekkende teenwoordigheid van Tafelberg is van oral op die eiland voelbaar en sigbaar.
Hierdie gesig was egter nie aan diegene in die tronk beskore nie; selfs buite die selle in die court yard is die mure so hoog dat net die lug bo sigbaar was. Wat ‘n misrabele bestaan was dit om daar gevange te wees.
Die klein, reghoekige sel, ‘n bankie, rakkie en ‘n slaapmat asook ‘n emmer as toilet, is die somtotaal van die aangehoudenes se “geriewe”. Een besoek van een mens elke ses maande en ‘n transistor radio was latere voorregte.
Die gesegde “Each one teach one” het hier op die eiland ontstaan. Die leiers het almal geïnspireer om aan te hou leer. Daar was nie hand- of skryfboeke nie en stukke bruinpapier van sementsakke is gebruik om op te skryf. Selfs dié papier moes skelm verkry en gebruik word.
Nog ‘n teken van positiwiteit is ‘n groen stukkie prieël wat deel was van ‘n tuintjie wat deur die gavangenis begin is. Min mense sou ongeskonde van Robbeneiland kom en dit beklemtoon weereens die kaliber mense wat Nelson Mandela en sy mede-gevangenis was. Hulle was leiers in die ware sin van die woord.

Na ongeveer drie ure op die eiland, neem ons die Krotoa terug na Tafelbaai. Die terugvaart is bietjie meer bumpy en almal is stil. Niks van die opgewonde gesels soos op die vaart daarheen nie. Die meeste mense op die boot is toeriste, net twee of drie mede-volksgenote.

Ek is so bly ek kon uiteindelik Robbeneiland beleef en wens die ervaring toe vir almal wat nog nie daar was nie.
Comments