MAGIESE NAMIBIË (die Suide)
- ferisshirley
- Sep 4, 2024
- 5 min read
Wat ‘n stowwerige, pragtige, asemrowende voorreg om deur die Suide van Namibië te reis!

Op ‘n Woensdag in Augustus laai ek en my reisgenoot ons tasse in die kar en vat die pad na Namibië. Soos met enige sloertoer is daar geen haas en ons beplan om in Springbok oor te slaap. Vanaf Vanrhynsburg is die veld lowergroen na die goeie reëns en na die dorpie Nuwerus begin ons kol-kol blomme te sien.
By Kamieskroon moés ons net afdraai om ‘n paar foto’s te neem; die oordaad van blomme lê soos ‘n oranje tapyt so ver soos die oog kan sien. Rondom Springbok en binne-in die dorpe lyk dit asof elke oop kolletjie besaai is met blomme.
Donderdagoggend val ons weer in die pad en is verbaas om geen blomme rondom Steinkopf te sien nie.
Met ons terugkoms was dit ‘n ander storie; Steinkopf se blomme het intussen geblom, maar ongelukkig was dit bewolk en reënerig en daarom was die blomme toe.
Dit is ‘n aanduiding dat indien mens wil gaan blomme kyk in Namakwaland, moet jy huiswerk doen; die weer en ‘n paar dae kan ‘n groot verskil maak aan hoeveel blomme jy gaan sien.
By die grens op Noordoewer / Vioolsdrif, stap ons van bakboord na stuurboord vir al die formaliteite. Die amptenare lyk taamlik nors en ons stap per ongeluk by ‘n verkeerde deur in. Die man blaf behoorlik toe hy vra wat ons daar wil doen; “Het ons iets om te verklaar?” “Nee”, sê ons en stap na die volgende deur.

Ons ry verder tot by Grunau waar ons afdraai op ‘n grondpad tot by Gondwana Canyon Village. Die grondpad is nie sleg nie en ons ry sonder voorval tot by ons bestemming. Die kompleks laat my wonder of dit eers ‘n Rooms-Katolieke Sendingstasie was, maar ‘n kelner vertel dat dit eers ‘n privaat-plaas was.
Die plek is in die middel van nêrens en vir kilometers sien jy net vlaktes totdat Gondwana Canyon Village soos ‘n aangename verrassing anderkant ‘n kop verskyn. Die twee aande daar sien ons die mooiste sonsondergange terwyl ons ‘n skemerkelkie geniet.
Vrydagoggend na ontbyt ry ons tot by Hobas-ruskamp waar daar ‘n restaurant, chalets en kampeerplekke is. By die hek betaal ons die dagtariewe van R100 per persoon en R50 vir die voertuig om die asemrowende Visriviercanyon, sowat 10 km verder, te aanskou.
Die Visriviercanyon voldoen aan al ons verwagtings en slaan ons asems weg. Natuurlik neem ons foto’s, maar geen kamera kan die magtige natuurwonder vasvang nie. Daar is verskillende uitkykpunte en die een uitsig kompeteer met die ander vir die eersteplek.
‘n Gids kan jou op ‘n afdraende Jeep-rit neem tot onder in die Canyon, maar daarvoor sien ek nie kans nie.
Saterdag kom groet die dassies ons by Gondwana Canyon Village en ry ons ‘n lang, slegte pad tot by Aus waar ons die wilde perde by die Garub-watergat raakloop. Daar pronk ‘n wilde hings en waarsku ‘n bedremmelde paar perde wat ook kom water soek, dat hulle hul beurt moet afwag.
Later die middag kom ons in Luderitz by die Shark Island Guest House aan. Hier moet ons eers onderhandel vir ‘n kamer met ‘n see-uitsig soos ons bespreek het, voor ons uiteindelik kan bene rek. Aandete is in ‘n restaurant met vars vis uit die see by Luderitz se Waterfront.
Die spookdorp Kolmanskop, 10 km buite Luderitz, wemel van oorsese toeriste op die Sondag. Die woestynsand het die voorheen florerende dorpie totaal ingeneem. Soos in vele gevalle, het die ontdekking van diamante daartoe gelei dat ‘n dorpie hier in 1912 gevestig is.
Die dorp het gespog met 'n poskantoor, slaghuis, en ‘n bakkery. Soos die diamante minder geword het, het die dorp geleidelik begin leegloop en teen 1956 was daar niemand meer nie. Vanaf 2002 is daar met “spookdorptoere” begin en het Kolmanskop ‘n groot toeriste-aantreklikheid geword. www.nationalgeographic.com
Maandagoggend is ons weer ure op die grondpad na Kanaan Na/an ku sê Desert Retreat. Op die middag, tussen niks en nêrens, kry ons ‘n papwiel en moet Bertie die band omruil. Agterna is hy bloedrooi van die hitte en ek laaf hom met ‘n nat sakdoek.
Op ons pad verder sien ons ‘n gemsbok en eindelose vlaktes. Hier wil jy nie gestrand wees nie; veral nie sonder water nie.
Dis warm toe ons op Kanaan aankom en ons word met ystee verwelkom by Ontvangs.
Jy ry nog ‘n kilometer of twee tot op ‘n rantjie en daarna stap jy afdraand reen die hang af om by jou tent/kamer te kom. Gelukkig is daar mense om te help met die bagasie. Die draagbare lugverkoeler in die tent maak darem ‘n effense verskil in die hitte.
Weereens word ons laatmiddag beloon met ‘n skilderagtige sonsondergang en ons vergaap ons aan die wisselende kleurespel. Vir aandete klim ons omtrent ‘n honderd trappe uit na die restaurant, maar word beloon met ‘n vyfster ete. Ons groet en gesels met twee Franse gesinne wat ook die vorige dag by Kolmanskop was.

Dinsdag vertrek ons na Sossusvlei Lodge op Sesriem waar ons weereens met ‘n koue drankie en ‘n nat lappie verwelkom word. Die Lodge is groot en die kamers is ruim en daar is effektiewe lugreëling. By Na/an ku sê was daar wifi slegs by die restaurant en by Sossusvlei Lodge is daar wifi slegs in die kroeg. Ons kan darem die familie laat weet waar ons is en hoe dit gaan.
Woensdag kwart oor sewe vertrek Bertie en ander toeriste na Sossusvlei, sowat 60 km vanaf die Lodge. By die vlei se parkeerarea moet mens nog vir ‘n kilometer deur sand en oor lae duine loop om by die pan uit te kom. My knie pla en ek kies om liewer by die Lodge te bly.
Bertie neem die mooiste foto’s by Sossusvlei en hulle word met ‘n laat ontbyt daar by die pan gelaaf na die 2km stap deur die sand. In teenstelling met die kilte van die oggendrit, is die terugrit warm en hulle kom eers teen halftwee terug by die Lodge.

Ons geniet twee onvergeetlike aande waar ons elke aand bederf word met ‘n prentjiemooi sonsondergang en ‘n vyfster buffet aandete. Wildsvleis soos Eland, Kudu en Springbok is onder vele ander disse op die spyskaart. Die tafels word buite gedek en dit is heerlik om onder die sterre aandete te geniet.

Donderdag vertrek ons na Keetmanshoop, ons laaste stop in Namibië. Die ent pad tot by Maltahöhe is sleg en die stof van ander voertuie hang verstikkend in die lug. Op Maltahöhe hou ons by die Pappot padstal stil vir ‘n bietjie koffie.
Die pad na die volgende dorp, Mariental en daarna tot in Keetmanshoop, is gelukkig teerpad. Op Keetmanshoop klok ons in by die Quivertree Guesthouse en is betyds vir ons tee-afspraak met Godfrey en Sandra, twee universiteisvriende van Bertie. Die kuiertjie is te kort om al die verlore tyd in te haal, want ons het nog ‘n afspraak met Bertie se niggie.
Alta en haar man Lawrence bederf ons met ‘n heerlike ete by hul gunsteling restaurant en Lawrence verwyt ons omdat ons in ‘n gastehuis slaap terwyl hulle ons met plesier sou akkommodeer.
Vrydagoggend val ons in die pad na Springbok waar ons vir oulaas gaan oorslaap. 'n Irriterende skuurgeluid by die linker- agterwiel laat ons weer stop op Grunau waar die mekaniek die wiel afhaal en 'n groterige klippie uit die wiel loskom; die oorsaak van die geraas.
By die grens verloop die formaliteite die keer vinniger en ons kom so teen vieruur in Springbok aan waar ons by die Blue Diamond Lodge tuisgaan.

Die son sak in Springbok bokant die Blue Diamond Lodge
Saterdag pak ons die laaste skof aan huistoe en kom veilig, maar pootuit tuis na ‘n onvergeetlike toer deur die magiese Namibië.
Tot 'n volgende keer.
Mooiloop.
Shirley Rose
Comments