Ydelheid
- ferisshirley
- Nov 22, 2024
- 2 min read
IS JY 'N YDELTUIT?

Ek wonder soms wat my ma sou gesê het van die hedendaagse gewoonte om selfies te neem. Pure ydelheid? Wat is dit met ons beheptheid met ons eie beeld? Meeste mense ken die mite van Narcissus wat nie genoeg van sy weerkaatsing in die water kon kry nie. Hy het op die ou einde in die water geval en verdrink.
Dit laat my dink aan die anderdag toe ek lash extentions vir ‘n geleentheid gekry het. Desne van De Lashes, gee toe sommer vir my my heel eerste brow tint pasella. Ek skrik my boeglam toe sy vir my die spieël gee om my nuwe lashes te bekyk. Al wat ek sien is die pikswart ink op my wenkbroue en ek lyk soos ‘n heks in ‘n sprokie.
Ek gee ‘n gillettjie en Desne dag ek is ongelukkig oor hoe die lashes lyk. Ons lag lekker toe sy hoor waaroor my konsternasie gaan. Die tint moes nog verwyder word. Ek is toe heel in my skik met my nuwe wenkbroue en lashes, want ek lyk vir myself sommer ‘n bietjie “duideliker”.
Die lyn tussen selfversorging en ydelheid is soms vaag. Wat is byvoorbeeld die verskil tussen lash extentions en ooggrimering met maskara? Vir my bespaar lash extentions tyd en dit lyk mooi. Die enigste probleem is koste, want jy betaal nie net eenmaal nie; daar is ook die koste om dit elke twee of drie weke die lashes wat uitgeval het weer te “vul”. Sien jy nie daarvoor kans nie, moet jy ook betaal om dit weer af te kry.
Deesdae hoef jy ook nie ‘n face lift te kry om jare jonger te lyk nie. Mens slaan jou hande saam vir al die “non-evasive” behandelings wat vir diegene met geld beskore is. Kies tussen laserbehandelings, microneedling, chemical peels en ander velverjongings-behandelings. Asof dit nie genoeg is nie, kan jy jou plooie weg-botox en vet in jou wange laat inspuit!
Wat het geword van natuurlik oudword? Met gereelde, goeie velsorg kan jy goed lyk, ongeag jou ouderdom. Hoekom kan ek nie lyk ek is 70 jaar oud nie? Ek bewonder Hollywoodsterre wat genoeg geld het, maar kies om natuurlik oud te word. Dis tog op ons almal se pad.
Alles is ydelheid: Alles op aarde is verganklik en hou dus nie lank nie. Al die facelifts in die wêreld kan nie die blos van jeugdigheid namaak nie; mens lyk myns insiens maar net soos iemand wat ‘n facelift gehad het.
Nog iets wat my verwonder, is dat die meeste filmsterre (en ook gewone mense), nie maer genoeg kan wees nie. Mamma het altyd gesê dat ‘n vrou nie té maer moet wees nie. ‘n Ander gesegde stel dit so: “You have to choose between your face and your butt.” Sela.
Ydelheid het geen geslag of ouderdomsbeperking nie. Ons dra sekerlik almal so ‘n klein bietjie ydelheid saam met ons en dit help om ons aan te spoor om onsself te versorg. Dit is nie nodig om ‘n ydeltuit te wees nie, maar dit is eintlik ‘n bietjie sad as jy iemand teëkom wat heeltemal boedel oorgegee het wat hulle voorkoms betref.
Goeie selfsorg dui op goeie fisiese- en geestesgesondheid asook selfrespek. Alles binne perke.
Klink die seisoen sommer ook 'n glasie op die ouderdom!
Comentarios