top of page

Wie wil nou vaal lyk?

Updated: Jul 12, 2021

Wie wil nou vaal lyk?

Ek kan my nie indink dat enigiemand “ja” sou antwoord op so ‘n retoriese vraag nie. Volgens Glam Guru Hannon, is “vaal’ nie ‘n kleur nie, dis ‘n toestand. Die beste nog, is sy nuutskepping: “treurkoeklik”. Ons almal wil mos darem lyk of ons ook in die twee-en-twintigste eeu leef.


Bring jou voorkoms na die hede met die volgende wenke:


1. Niks kan jou so uit pas laat lyk as ‘n haarstyl wat al van die jaar toet deel is van jou nie. Selfs ‘n klassieke haarstyl soos ‘n “bob” word so bietjie aangepas om vars te lyk. Ek stel nie noodwendig weeklikse besoeke aan ‘n haarsalon voor nie, maar ‘n haarsny so elke ses of agt weke in ‘n styl wat jy self kan behartig, sal wondere vir jou doen.


Ek kan nie my eie hare droogblaas nie, maar was en draai my hare in met my staatmaker-rollers en sit dan onder ‘n haardroёr. Daarna kom ek dit by met my GHD, baie van ons se beste vriendin. Ek hou nie van my hare baie “glad” nie en verkies ‘n krul daarin. My weeklikse harewassery is ‘n langdradige proses en nie almal het die geduld of tyd daarvoor nie, maar ek het - nadat ek afgetree het.


2. Met die regte grimering kan mens beslis beter, en selfs gesonder lyk, maar baie vroue verkies om glad nie grimering te gebruik nie. Dit is jou keuse; elke diertjie het sy plesiertjie, sê ek. Wat jou kan pootjie, is ‘n swaar grimeerhand, so hou dit maar lig.


3. Bly op hoogte van wat in die modewêreld aangaan. Dit beteken nie dat jy noodwendig elke modeneiging gaan dra nie, maar met klein aanpassings kan dit miskien by jou persoonlike styl aangepas word. Alle modes vlei ook nie noodwendig almal nie. Die huidige pofmou-mode byvoorbeeld, sal vreemd lyk aan ‘n goeie persentasie van ons.


Jaarliks word een of twee modekleure gekies. Grys en Geel is byvoorbeeld vanjaar Pantone se gekose kleure. Skakerings van Pienk is ook al vanjaar op baie internasionale loopplanke gesien. Sulke kleure hoef nie noodwendig in ‘n kledingstuk gedra te word nie; bykomstighede in modekleure kan ook 'n basiese voorkoms moderniseer.


4.Trek ‘n denim- of leerbaadjie saam met ‘n rok of broek aan en jy lyk onmiddelik meer modern.


5. Tekkies of plat stewels in plaas van ou, uitgetrapte skoene, is net so gemaklik, maar lyk stukke beter. Daar is deesdae ‘n wye verkeidenheid van plat, gemaklike skoene om van te kies.


6. Let op na modeneigings in juweliersware. Soms is silwer/witgoud hoogmode, ander jare geelgoud; een jaar bonkige stukke, vanjaar byvoorbeeld, delikate hangertjies waaarvan ‘n paar saam gedra word. Selfs pêrels kan op meer moderne maniere gedra word.


7. Dra jy nou al vir jare dieselfde brilraam? ‘n Moderne brilraam plaas jou moeiteloos in ‘n nuwe era. Sommige mense spog sommer met ‘n hele paar.


8. Alle donker kleure is verslankend, nie net swart nie. Klere wat groot en los is, laat mens groter lyk as wat jy is. Kamoefleer net die dele van jou lyf wat jy nie wil tentoonstel nie, en dra klere wat jou bates beklemtoon.


9. Die regte bra maak ‘n ongelooflike verskil aan jou silhoeёt. Gaan vir ‘n professionele bra-meting as jy kan.


10. Wees bewus van jou postuur en versorg jou gesig, nek, hande en tande. Gereelde bevogtiging met bekostigbare produkte is beter as om nou en dan ‘n duur produk te gebruik. Elke vrou is tyd vir selfversorging aan haarself verskuldig.


Op youtube is daar baie stylvloggers wat hul stylwenke deel indien jy belangstel. Ek hou veral van Beth Djalali, Susan Street, Kay Harms, Cindy Hattersley en vele meer.



Tot ons weer gesels, vriendelike groete.

Shirley Rose

99 views

Recent Posts

See All
bottom of page