Wegkomkans na Montagu
- ferisshirley
- Jan 24, 2024
- 4 min read
SALIG!
Die afgelope week nooi vriende ons saam vir ‘n paar dae na hul tyddeel-eenheid in Avalon Springs Resort en Bertie en ek aanvaar graag hul uitnodiging.
Montagu is 'n plek waar daar, net soos by Goudini Spa, natuurlike, warm minerale-waterbronne is. Die temperatuur van die water wissel tussen 40 en 43 grade C en mense glo dat die water ‘n helende effek het vir die verligting van artritis en ander krankemente.
Die pragtige omgewing rondom Montagu is lowergroen met welige plantegroei, vrugteplase, wingerde en ruwe, klipperige koppe. Die dorp self lê soos ‘n vrugbare oase tussen die berge en beloof rus vir die siel.
Saam met gasvrye vriende soos Johene en Frikkie, beloof dit om ‘n verfrissende wegkomkans te wees.
Bertie reël vir Woensdag ‘n rit in klassieke 1953 Cadillac. Ons bestuurder en gids, Bill, bestuur die ou dame, vertel interessante brokkies oor Montagu en wys interessanthede uit waar mens gewoonlik net verby sou ry.
Soos baie klein dorpies, brei Montagu ook uit soos mense rustigheid soek oor naweke en vakansies. Afgetredenis vind hier ‘n holte vir die voet en die aanvraag na huise neem toe.
Historiese huisies word opgeknap en gerestoureer en teen ‘n berghang kruip ‘n splinternuwe woonbuurt teen die hange uit.
‘n Allemintige grondverskuiwings-masjien is besig om ‘n nuwe bou-erf teen 'n skuins helling gereed te kry vir 'n toekomstige nuwe huis met 'n uitsig. Volgens Bill kos dié operasie meer as die huis self. Die mens het al van her af 'n obsessie met 'n mooi uitsig.
Net buite Montagu hou ons stil en Bill wys nog iets uit aan ons: Indien mens mooi kyk, sien jy gevorm deur die rotse van ‘n berg, die fassinerende beeld van ‘n vrou wat op haar rug lê met lang, vloeiende hare. Die mense van die omgewing het haar terstond “Lady Montagu” gedoop.
Ons volgende stop is die plaas Zandvliet waar ons ‘n wynproe geniet. Ek besef weereens hoe bevoorreg ons is om uit so ‘n verskeidenheid goeie wyne in Suid_Afrika te kan kies. Zandvliet het goue toekennings gewen vir die plaas se Chardonay, Syrah Rosé en Muscat en ons kan proe waarom.
Zandvliet roem daarop dat dié landgoed die “Tuiste van Shiraz” is, onder andere te danke aan die tipe grond van die plaas. Die oudste wingerde daar is reeds in 1870 geplant.
Die plaas se Shiraz-reeks is hul trots en terwyl rooiwyn nie my voorkeur is nie, stem my mede-proeërs saam; die Shiraz is eersteklas! Die Kalkveld Shiraz en Hill of Enon Shiraz het dan ook al vele pryse en toekennings verower.
Later geniet ons middagete by “Christina’s” op Van Loveren. Ons besluit om buite onder die bome te sit. Die menu bied ‘n verskeidenheid opsies, die een klink smaakliker as die ander. Die keuse vir vegetariërs is egter beperk, want Suid-Afrikaners is groot vleis-eters.

Montagu Springs en Avalon Springs is op dieselfde perseel en daar is verskeie swembaddens waarin mens die water kan geniet. Die Avalon Spa bied ontspannende bederf-opsies.
Dagbesoekers is welkom en mens hoef nie noodwendig by een van die chalets of hotel in te boek nie, daar is talle gastehuise om van te kies rondom die oord. Kinders word vermaak met daaglikse aktiwiteite wat deur die personeel gereel word en ‘n blaaskans aan ouers bied.
‘n Voordeel om in een van die chalets te wees, is dat elke chalet met 'n private jacuzzi kom. Dit is ‘n groot voordeel vir die skames en diegene wat meer privaatheid verkies.
Ek bewonder mense wat hul lywe aanvaar, hul swempak aantrek by die swembad of see en basta! Ek is ongelukkig nie een van hulle nie.
Terwyl ek daagliks my lyf met al haar tekortkominge aanvaar, weet ek dat die meeste van ons beter lyk met klere aan. My een groot insecurity is om voor enigiemand in ‘n baaibroek te verskyn en is ek doodgelukkig om ten volle geklee langs die swembad te lê.
Johene is ‘n inspirerende kok en kan moeiteloos ‘n lekker ete optower. Ons het net eenkeer ‘n groot ontbyt gemaak, die ander twee oggende het elkeen hom- / haarself gehelp. My bydrae was burgers vir een ete en Frikkie braai een aand vir ons die sappigste steaks.
Cogman’s Restaurant, ‘n kafee en Dassies Cove poolside bar is op die perseel vir gaste wat nie self wil kosmaak nie. In die dorp self is ook verskeie restaurante en eetplekke om te besoek en bied enigiets van A la Carte- tot wegneem-etes aan.
Vrydagoggend groet ons die mooie Montagu en maak eers ‘n draai op Worcester. Ons het ‘n koffie-afspraak met vriend Charles en die koppie koffie rek uit na middagete terwyl die gesels nie opraak nie.

Op pad huistoe wys die kar se temperatuurmeter tussen 40 en 41 grade Celsius, die kraaie gaap behoorlik.
Dit was ‘n besondere lekker kuier saam met goeie vriende en ‘n welkome wegkomkans, maar tog bly “oos wes, tuis bes”, altyd waar vir my. Die vakansie kan hoé lekker wees, ek is altyd bly om weer tuis te kom.
Mag almal met nuwe woema die jaar wat voorlê aanpak, maar ook tyd inruim vir ‘n verkwikkende wegbreek deur die jaar om die tenk te vul.
Groetnis tot ons weer gesels.
Shirley Rose
Addisionele bronne: www.montagusprings.co.za
Comments