top of page

Wegbreek na Arniston

Updated: Jan 25, 2023

ARNISTON, Bredasdorp, Agulhas, Elim.

Kapenaars is darem bevoorreg om relatief naby ‘n hele paar kusdorpies te woon en Bertie hou daarvaan om so nou en dan vir ‘n naweek weg te breek na hierdie rustigheid. (Dis nou buite-seisoen.)


Verlede week was dit weer sulke tyd, hierdie keer na Arniston. Donderdag vat ons die pad en kry ‘n winderige verwelkoming toe ons so laat-namiddag daar aankom. Ons tuiste vir die volgende paar dae is die pragtige Arniston Gastehuis wat lyk soos iets uit ‘n sprokie, kompleet met grasdak. Ons ruim kamer is groot genoeg om ‘n wals in te dans. Daar is sowaar ‘n kaggel in die slaapkamer EN in die badkamer! (Nie dat ons dit hoogsomer met dié kuier kan benut nie.)



Vrydagoggend, na ‘n stewige ontbyt, ry ons bietjie rond om die plek te bekyk. Kassiesbaai met sy mooi vissershuisies lê neffens die strand en ‘n paar neutbruin seuntjies draf druipnat van die strand af met hul boogie boards onder die arm. Ons gaan loer in by Willene se craft shop/eetplek en koop een van haar dogter, Enna, se kunswerke.


Ons vat die pad Bredasdorp toe om daar ook ‘n bietjie te gaan verken. Ons het, toe die kinders nog klein was, jare gelede daar gaan kuier by uncle Piet en antie Drine. Bredasdorp is ‘n mooi, netjiese dorp en ons drink lekker koffie voor ons bietjie in hul Skeepswrak-museum gaan rondloop.


Ongelukkig slaan Eskom toe en die vertrek met die seevaart-geskiedenis wat ons eintlik wou sien, is in donkerte gehul. Ons verkyk ons aan die ander oudhede in verskillende dele van die museum. Van massiewe ankers onder ‘n yslike Wildevy, tot ‘n ou brandweerwa en ‘n nog ouer lykswa wat lyk soos iets uit ‘n horror movie.



Daar is ook ‘n huis wat die leefwyse van baie jare gelede uitbeeld. Silwerware, meubels en ‘n kroegtoonbank vanaf die Portuguese skip, die Lisboa, is onder andere van die items waaraan mens jou verwonder.


Die bekende Audrey Blignaut wat in Bedasdorp gebore en getoë is, het ook ‘n ereplekkie in die museum. Nog ‘n bekende inwoner Nurse Pop, ‘n vroedvrou, word ook vereer in die museum. Dit was so interessant om haar geskiedenis ook te lees.



Ons gaan maak ook ‘n draai by Agulhas, die mees suidelike punt van Afrika. Ongelukkig kon ons nie dié keer tot by die bekende lighuis kom om fotos te neem nie. Die hele area is afgesper weens opknappingswerk.



Saterdag stap ons strand toe met die voorneme om by Waenhuiskrans uit te kom. Die steil trappies om by die bek van die grot uit te kom, laat my vierspoor vassteek. Miskien kom ek daar onder, maar van die terugklim boontoe weet ek nie so mooi nie. Jy sal ook deur die water moet gaan om tot by die grot te kom. Ons staan toe maar bo-op die rotse en bekyk die wondergrot van bo af. Die uitsig oor die baai is asemrowend.



By Mien se Teetuin, ook in Kassiesbaai, drink ons lekker koffie en tee en eet skons wat warm uit die oond kom. Mien het selfs kondensmelk vir my toe ek vra en toé geniet ek daardie koppie tee nog meer! Sy vertel dat ‘n mens ‘n boorling van Arniston moet wees om een van die geskiedkundige vissershuisies te mag koop.


Saterdagaand geniet ons eers 'n skemerkelkie by die hotel met sy see-uitsig voordat ons 'n dis van Geelbek vars uit die see geniet. Sondagoggend vertrek ons net na ontbyt. Die plan is om op pad huistoe eers in Elim ‘n draai te gaan maak, want ons was nog nooit daar nie. Terselfdertyd wil ons ook graag vir Attie, 'n ou vriend, gaan hallo sê.


Elim is doodstil toe ons daar aankom, want baie mense is kerk toe. Die Overbergse dorpie is in 1824 deur Duitse sendelinge gestig as ‘n Morawiese sendingstasie. Elim is ook bekend vir sy talenvolle grasdak-ambagsmanne.


Ons drink lekker sterk koffie by Attie wat ons gulhartig ontvang ten spyte daarvan dat ons so onverwags daar opdaag. Na ‘n lekker kuiertjie vat ons die pad huistoe, maar ek wil eers ‘n paar fotos neem. Die pragtige grasdakhuisies gee ‘n sprokiesagtige atmosfeer aan die plek en ek sien elke keer nog ‘n huisie wat ek eenvoudig net moét afneem.



Pootuit maar dankbaar kom ons Sondagnamiddag veilig by die huis. Wat ‘n salige lekkerte om op die manier ons mooie land te verken.


Mooiloop tot ons weer gesels.

Shirley Rose

 
 
 

Recent Posts

See All
Om 'n gegewe perd in die bek te kyk

Wie hou nou nie daarvan om ‘n geskenk te ontvang nie? Daardie afwagting terwyl jy die pakkie oopmaak en wonder: “Wat sou dit wees?” Die...

 
 
 
Op Robbeneiland

WAS JY AL DAAR? Op Donderdag 20 November 2024 besoek ek en Bertie Robbeneiland. Bertie vir die tweede keer en uiteindelik, my eerste...

 
 
 

Comentarios


bottom of page