top of page

Wat is jou waarde?

Updated: Jun 22, 2022

VROU: KOSBAARSTE PêREL. ONTDEK OPNUUT JOU WAARDE AS VROU

Vanjaar is ek genooi om op Vrouedag ‘n praatjie te gee by Suzie’s Coffee Shop. Die tema aan my gegee: Jy as Vrou. Kosbaarste Pêrel. Ontdek opnuut jou waarde as vrou.


Pêrels het vandat ek kan onthou ‘n besondere bekoring vir my ingehou. Hierdie elegante dog beskeie juwele het nog altyd vir my ‘n byna magiese aantrekkingskrag gehad.

‘n Stringetjie pêrels was omtrent deel van my “uniform” toe ek skool gehou het. Eendag het ‘n skoolouer juwele wat sy self gemaak het, by die skool kom bemark. Deel van haar verkoopstegniek aan my was dat sy al gesien het dat ek altyd dieselfde stringetjie krale dra. Natuurlik het ek haar ondersteun, maar het steeds “dieselfde stringetjie krale” meeste van die tyd gedra.

Geskiedenis van pêrels

Niemand kan sê wie pêrels “ontdek” het nie, waarskynlik is dit gevind deur mense van antieke volke wat gesoek het na kos. Die Romeine en Egiptenare het alreeds in die 5de eeu voor Christus pêrels as kosbaar beskou en dit gebruik as versiering. So lank terug as 2300 jaar voor Christus, was pêrels al aan Chinese koninklikes as geskenke gegee.


Pêrels word as ‘n edelsteen geklasifiseer, maar is uniek omdat dit in ‘n lewende organisme, die oester, gevorm word. Dit kom nie uit die aarde soos ander edelstene nie, maar uit die dieptes van die see. Pêrels vereis geen verdere verwerking soos polering of slyping nie; dit kom reeds glansend en mooi uit die oester.


‘n Japanese man, Kokichi Mikimoto, het in 1893 ontdek hoe om pêrels te kweek en sodoende hierdie raar skat toeganklik gemaak vir meer mense. Dit beteken nie dat pêrels veel goedkoper geword het nie; selfs vandag nog is Mikimoto-pêrels die duurste gekweekte pêrels. Enigiets vanaf R55,000 vir ‘n gewone stringetjie. Slegs top kwaliteit Akoya pêrels, mag as Mikimoto pêrels geklasifiseer word. (R1000 vir ‘n Akoya pêrelhangertjie met een pêrel). Varswaterpêrels uit China kos vanaf R1,400, afhangende van die grootte en kwaliteit van die pêrels. ‘n String Suidsee pêrels kos vandag R1,400 000!


In die gelykenis van Die Kosbare Pêrel word die waarde van die Koninkryk van die Hemel met ‘n kosbare pêrel vergelyk. Mat. 13:45-46 Jesus sê ook in Mat. 7:6: Moenie dit wat heilig is vir die honde gee nie; en moenie jou pêrels voor die swyne werp nie. Hulle sal dit onder hul pote vertrap.


Pêrels moet gereeld gedra word, anders verloor dit hul glans. Wit pêrels simboliseer ‘n nuwe begin, onskuld, skoonheid en opregtheid. Dit is die rede waarom pêrels as die ideale juwele vir ‘n bruid beskou word. Pienk pêrels simboliseer liefde en vriendelikheid en blou pêrels kalmte, lojaliteit en dapperheid. Swart pêrels simboliseer ewige liefde.

Soorte Pêrels

Ø Swart pêrels van Tahiti.

Ø Wit en Goue Suidsee pêrels; baie skaars en duur.

Ø Japanese Akoya pêrels; die ikoon van gekweekte pêrels.

Ø Varswater pêrels wat in riviere en mere in China gevind word. Die pêrels word in mossels en nie in oesters nie, gekweek en het ‘n rewolusie in die industrie veroorsaak. Dit is net so mooi soos Suidsee pêrels, maar kos ‘n fraksie van die prys.

Die gradering van pêrels

o Elite/Juweelgehalte: Slegs 0.3% van jaarlikse oeste is topklas met byna geen defekte. Dit is perfek rond met ‘n mooi glans.

o AAA-gehalte: Slegs 1% van jaarlikse oes; Meestal rond.

o AA+ gehalte: Slegs 5% van jaarlikse oes. Nie perfek rond; glans is steeds goed.

o AA-gehalte: 10% van jaarlikse oes. Opsigtelik ovaalvormig; glans tussen goed en gemiddeld.

o A-gehalte: Kommersiёle gradering; opsigtelik ongerond; glans tussen gemiddeld tot swak. Opsigtelike merke op pêrels.


Vier maniere om te toets of pêrels eg is:

  • Uniformiteit: Egte pêrels is nie identies nie, maar het klein imperfeksies as mens mooi kyk. Kostuumpêrels is perfek rond en eenders.

  • Gewig: Egte pêrels voel swaarder as nagemaaktes.

  • Temperatuur: Pêrels wat nie om jou nek is nie, voel koeler as die omgewingstemperatuur.

  • Egte pêrels voel grof teen jou tande, onegtes voel glad.

Pêrelvorms: Perfek rond is die vorm met die hoogste waarde.

Rond, Halfrond, Knoopvorm, peervorm, Druppel; Ovaal; Barok en Geringd.


Interessante feite:

  • Natuurlike pêrels is die skaarste en duurste a.g.v. menslike verbruik, maar self in die vroegste tye het drie ton oesters slegs drie tot vier pêrels gelewer.

  • Dit is beskikbaar in verskillende lengtes: Collar- sit hoog teen die nek; Choker; Princess; Mattinee; Opera en “Rope” wat verskeie kere om die nek gedraai kan word.

  • Pêrel is die geboortesteen vir mense wat in Junie verjaar. Die steen simboliseer reinheid en getrouheid. Draers van ‘n pêrel beleef toenemende integriteit en geestelike groei.

  • Die kleur van pêrels hang af van die binnekant van die mossel of oester waarin dit groei. Kleure wissel van wit tot goud en van pers tot swart.



Ons tema vandag is: VROU: KOSBAARSTE PêREL. ONTDEK OPNUUT JOU WAARDE.


Die rede waarom ek al hierdie inligting oor pêrels met julle wou deel, is omdat ek wil hê dat almal die outentieke, inherente waarde van ‘n pêrel moet verstaan. Jy as vrou IS ‘n kosbare pêrel en moet na waarde geag word.

Hierdie juwele is skaars en verdien om met sorg hanteer te word. Alhoewel pêrels vir eeue mooi kan bly, kan ons dit beskadig met dinge soos parfuum, haarsproei en lyfroom.


Baie vroue voel egter nie soos ‘n kosbare pêrel nie en dit is nodig dat ons vandag daaroor praat.

Ø Eerstens, jou eiewaarde hang NIE af van enigiemand anders se opinie van jou nie. Jy is genoeg, sonder enige titels, geld of besittings. Jy as mens het waarde en is belangrik. EN vir my die belangrikste, jy is ‘n kind van God.


Ø Ons weet nou al teen die tyd dat jy nie iemand anders kan verander nie, net jouself. Dit is dus vrugteloos om te probeer om mense se opinie van jou te verander.


Ø Begin by jouself en sien die kosbare pêrel wat jy is. Moenie toelaat dat mense oor jou loop nie, jou opinie is geldig en jy is waardig. Mense behandel jou soos jy hulle toelaat om te doen. Moet niemand se disrespek duld nie. Dit beteken nie dat ons gedurig in konflik met almal rondom ons moet wees nie. Respek gaan na beide kante. Daar is verskillende maniere om sonder agressie onsself te handhaaf. As iemand bv op jou skree, moenie terugskree nie; dit gaan niks oplos nie. Sê kalm dat jy nie toelaat dat jy sonder respek behandel word nie en stap weg.


Ø Ons kan ook nie altyd wegstap van konflik nie. Kommunikasie is nodig om konflik op te los en suksesvolle verhoudings kan nie daarsonder bestaan nie. Om beter te kommunikeer, is 'n vaardigheid wat aangeleer kan word.


Ø Jy het ‘n opinie en niemand kan jou voorsê hoe jy moet voel nie. Bly oop vir oortuiging en natuurlik kan mens van opinie verander. Indien jy egter oortuig is van 'n saak of dit gaan om 'n beginsel, staan ferm op vir jouself.



Ø Vergewe. Die Bybel sê sewentig maal sewe keer. Vergifnis is nie ‘n eenmalige verklaring nie. Soms sal jy dit oor en oor vir jouself moet sê: “Ek vergewe.” Dit is nie altyd maklik nie, maar dit is nodig. Jy is die persoon wat die meeste skade ly deur ‘n wrok te koester of met kwaad in jou hart rond te loop. Soek hulp indien jy dit nie op jou eie regkry nie.


Ø Gebruik jou sterkpunte tot voordeel van die samelewing en aanvaar jou tekortkominge, maar werk daaraan. Behandel jou medemens met begrip, niemand is volmaak nie en hulle gaan ook maar met hul eie bagasie deur die lewe. “Those who understand, don’t judge.”



Ø Maak tyd om in die natuur deur te bring en om dinge te doen wat vir jou genot verskaf. Omring jou met mense met ‘n positiewe ingesteldheid wat slegte omstandighede as ‘n geleentheid sien om as mens te groei.


Ø Tyd om jou lyf te versorg behoort ononderhandelbaar wees. Ons kry net die een ligaam wat ‘n leeftyd moet hou. Versorg dit met gesonde eetgewoontes, matige oefening, bevogtig jou vel daagliks, gereelde maskers vir jou hare en gesig en weeklikse versorging van jou naels.


Geniet die vreugdes van vrou-wees en moet nooit jou waarde onderskat nie.

Ten slotte hierdie aanhaling uit The Ruffled Daisy.org:

“Just like a pearl made from an oyster, all of the imperfections of our being and the attacks received from the outside world work together to create an amazing heart that is unique to you. It is time to open your shell and show your pearl to the world.”


Goedheid en guns tot ons weer gesels.

Shirley Rose

74 views

Recent Posts

See All
bottom of page