top of page

Wat dink jy is snaaks?

Updated: Nov 21, 2023

‘n SIN VIR HUMOR


My ma en haar suster kon lag dat die trane loop vir iets wat net hulle snaaks vind. Ek onthou hoe my pa en oom ongesteurd deur die vrolikheid oor iets anders begin gesels of net stilbly. Dis nie asof hulle geen sin vir humor gehad het nie, hulle kon net so lekker uit die maag lag vir iets wat weer vir hulle snaaks was.


Mamma kon selfs, tot my verleentheid, in die kerk begin skud van ingehoue lag vir iets wat nie vir my snaaks is nie. Tog het sy verklaar dat sy nie hou van ‘n “snaakshouery” nie. Sy sou baie keer ‘n snaakse storie of komedie as “nie snaaks nie” verklaar.



So het ek vroeg al geleer dat ons nie almal vir dieselfde grappe lag nie en wat een mens komies vind, kan iemand anders glad nie raak nie of selfs aanstoot gee. Suid-Afrikaners is bekend vir hul vermoë om humor in die slegste omstandighede raak te sien, daarvan getuig allerhande spotprente en sêgoed wat ontstaan soos byvoorbeeld nou met beurtkrag.


Pieter-Dirk Uys het ‘n loopbaan gebou op die Suid-Afrikaanse politiek, Marc Lottering het met sy Antie Merle in almal se harte geklim en Trevor Noah het tot in Amerika naam gemaak met sy talent vir die komiese. Hulle is maar ‘n paar komediante wat ons land opgelewer het.


Aspekte soos kultuur, volwassenheid, vlak van opvoeding, intelligensie, konteks en selfs geografie, dra alles by tot wat mense snaaks vind. Tipiese grappe en karakters is eie aan ‘n land of streek en vir mense buite daardie konteks kan die fynere nuanses van ‘n situasie bo-oor ‘n buitestaander se kop gaan.


Tipiese Suid-Afrikaanse humor:


Daar is natuurlik baie verskillende tipes humor, van slapstick tot satire en wat is lekkerder as om ‘n situasie só snaaks te vind dat jy kraai van die lag. Sommige mense is net eenvoudig snaaks in die wyse hoe hulle hulself uitdruk, hulle het die vermoe om enigiets snaaks te laat klink terwyl sommige van ons ‘n grap vertel sonder om die verwagte skaterlag te kry.


Die onderwerpe vir komedie is legio: ouderdom en al die gepaardgaande skete, gewig en diëte, grappies oor drankmisbruik, ras, noem maar op; daar is min heilige koeie. Nie almal kan egter met dieselfde grap wegkom nie. Terwyl jy byvoorbeeld oor jou eie ras grappies kan maak en saamlag, waag jy dit nie oor ‘n ander ras se grense nie.



Daar is beslis grappe in omloop wat krenkend of rassisties is en het dit die teenoorgestelde effek van gesonde humor wat mense goed laat voel. Studies het bewys dat ‘n goeie skoot humor die meeste omstandighede kan verbeter. Of dit by die huis, skool, werk of in slegte toestande, byvoorbeeld siekte is.


Sommige mense kan jou letterlik dreineer met hul negatiwiteit; hulle sien altyd die nadele of donkerkant van enige situasie raak. Niemand kan permanent met ‘n glimlag rondgaan nie, maar probeer tog om te soek vir die silwer randjie, daar is gewoonlik een.

Spreuke 17:22 'n Vrolike mens is soos goeie medisyne. 'n Neerslagtige mens tap jou krag.

Tegnologie:


Gewoonlik maak ons nie grappe oor fisies-gestremde mense nie, hoekom is daar dan so baie grappe oor mense wat ons as minder intelligent beleef? Net soos met enige ander mens kan so ‘n persoon nie help dat hulle so gebore is nie. Die sarkastiese “grappe” oor “stupidity”, is ‘n kategorie wat my nogal onderkry. So ook vloekwoorde en vulgariteit in grappe.


Die lewe is moeilik genoeg sonder dat ons iemand anders met ons “grappie” verkleineer of beledig. Laat ons liewer lekker saamlag vir die absurditeite van die lewe, dit is nie net goed vir ons geestesgesondheid nie, maar dra ook by tot ons fisiese gesondheid.



Vrolike groete tot ons weer gesels.

Shirley Rose


Bronne: Pinterest, Wikipedia, www,litterm.co.za


33 views

Recent Posts

See All
bottom of page