top of page

Wanneer laas het jy 'n boek gelees wat jy in die maag gevoel het?

Updated: Jan 17, 2022

BOEKE WAT TREF

Toe ek so 5 jaar jaar oud was, het ek die wonder van lees ontdek en van toe af was my neus altyd in ‘n boek. Ek onthou voorvalle soos toe my ma my een voordagmôre kom sê het om nou daardie kers dood te blaas, of die dag toe almal oral na my gesoek het. Ek was verlore in ‘n boek en het agter die skool gesit en lees waar my pa my uiteindelik opgespoor het.


My leessmaak is wyd en ek verslind boeke in Engels en Afrikaans, Speurverhale, Dramas. Selfhelpboeke, Letterkunde, Nie-fiksie, Poёsie, Tydskrifte en ander ligte leesstof. Sommige boeke lees lekker, maar jy vergeet dit min of meer onmiddelik, maar dan lees mens soms boeke wat diep tref.



Twee boeke wat ek so pas klaar gelees het, val in hierdie kategorie. “Onverskrokke vroue” van Bettina Wyngaard en “Mission of Malice” van Erika Bornman. In haar boek ondersoek Bettina die pad wat vroue vanaf Bybelse tye tot nou toe geloop het. Erika se verhaal is haar eie en vertel van haar grootwordjare in en latere ontvlugting uit KwaSizabantu, ‘n Christelike Sendingstasie in Natal.


Op nugtere trant en in duidelike taal vergelyk Wyngaard die omstandighede en lot van vroue uit die Bybel met die omstandighede waarin vroue hulle vandag bevind. In die inleiding van die boek vra sy hoe, indien enigsins, die vrou se rol van daardie tye af verander het.


In die Bybelse tyd het vroue geen regte gehad nie, hulle kon nie aanspraak maak op opvoeding nie, kon nie eiendom besit of selfs erf nie en was weinig meer as besittings van mans wie se woord gegeld het. Daar is egter al van die vroegste tye af vroue wat hulle teen die stand van sake verset het. Bettina vertel byvoorbeeld van die vyf dogters van Selofgad (in Numeri 27), wat volgens gebruik nie hul pa se eiendom kon erf nie. Die eiendom moes, as die oorledene nie ‘n seun gehad het nie, teruggaan na sy stam.


Die vyf susters het dit nie net so aanvaar nie en het die saak voor Moses tydens ‘n stamme-vergadering gebring. Hul versoek om te erf was heftig deur baie mans teengestaan, maar met slim redenasies van hulle kant is daar uiteindelik besluit dat hulle hul pa se eiendom mag erf. Daar is baie ander voorbeelde van dapper vroue wat ten spyte van hul omstandighede die byna onmoontlike reggekry het.


Aan die ander kant is daar onstellende stories in die Bybel van die verkragting van vroue, vroue wat owerspel gepleeg het en dan alleen verhoor/ gestraf word terwyl die man met wie owerspel gepleeg is, nêrens genoem word nie. Hoe ironies is dit om in Erika Bornman se verhaal te lees hoe vroue vandag nog in die opset van KwaSizabantu (en daarbuite), as verleidsters gesien word wat mans in versoeking lei om te sondig. ‘n Manlike berader wat ‘n onskuldige kind seksueel gemolesteer het, is vrygespreek toe hy by die leier aangekla is terwyl die meisie later ‘n “hoer” genoem is.


Erika beskryf in haar boek die ongelooflike emosionele en fisiese mishandeling wat onder die dekmantel van Godsdiens gepleeg word teenoor kinders. Almal wat nie meedoen aan die “rituele vernederings, breinspoeling en mishandeling” nie, word uitgeskop. Ouers en kinders word teenoor mekaar gestel en familiebande word gebreek met diegene wat hul belaglike reёls bevraagteken.


Toe Bornman as 21-jarige uiteindelik wegbreek van hierdie “Mission of Malice”, begin haar stryd om by die lewe buite hierdie inperkende omgewing aan te pas. Met haar onblusbare gees, dapperheid, terapie en die liefde en ondersteuning van haar broer en ander familielede, kon Erika dit regkry om haar lewe te herskonstrueer. Haar niggies en ander kinders wat agtergebly het, het by Erika bly spook en ter wille van hulle kon sy nie net aangaan met haar lewe nie.


Sy het besluit om haar storie te vertel en deur haar moed het ander wat dieselfde trauma beleef het, ook na vore gekom. Die Sendingstasie se bestuur het alles ontken en diegene wat teen hulle getuig het, probeer verdag maak. Selfs Erika se ma en suster, wat met haar gesin in KwaSizabantu agtergebly het, het teen haar getuig. Kommissies is aangestel om al die beweringe te ondersoek, maar nog geen bevredigende uitkoms is bereik nie en bestaan die Sendingstasie nog.

Hierdie boek is ‘n aanklag teen veral die breё Kerkstrukture, maar ook die hedendaagse samelewing as plekke soos KwaSizabantu toegelaat word om weg te kom met die wandade waarvan baie getraumatiseerde mense getuig het.


Bettina Wyngaard se boek belig aktuele onderwerpe soos “Die vrou en die arbeidsmark, Die vrou en veiligheid, Die vrou en familie en Die vrou en die openbare lewe.” Onder hierdie opskrifte word vele dilemmas waarmee vroue daagliks te doen kry, bespreek en ooreenkomste tussen Bybelse - en hedendaagse vroue, word uitgewys. Sy lig ook talle voorbeelde uit waar Jesus nie net die status quo bevraagteken het nie, maar ook hoe Hy, teen die gebruike van daardie tyd, vroue as gelykes gesien en behandel het.


Wette wat die vrou beskerm, word ook deur die skrywer bespreek. Goeie wetgewing beteken egter nie veel net op papier nie, dit moet toegepas word. Dit is ongelukkig die werklikheid dat wette deur watter omstandighede ookal, nie altyd uitgevoer word nie.

Aan die einde van haar boek kom Bettina tot die slotsom dat vroue tog gevorder het op die pad na gelykheid, maar dat daar nog baie werk is wat gedoen moet word.


Vir my is hierdie twee boeke besonder insiggewend en verrykend. “Onverskrokke vroue” het waardevolle inligting verskaf en is “’n wekroep vir almal” “Mission of Malice” is weereens ‘n bewys van die onblusbare gees van ‘n vrou wat teen ‘n Goliat opstaan en veg vir haar vryheid en menswaardigheid. Erika Bornman veg egter nie net vir haarself nie, maar ook vir die agtergeblewenes wat steeds in dieselfde bootjie is.


Gelyke status met gelyke regte is die onvervreemde geboortereg van vroue en tot dit so beskou word deur almal, is dit my plig ook om daarvoor te baklei.


Groetnis tot ons weer gesels.

Shirley Rose

45 views

Recent Posts

See All
bottom of page