Van Lutzburg (Kakamas) na Keimoes
- ferisshirley
- Jan 31, 2024
- 5 min read
Updated: Jul 8, 2024
DEEL 1
In 1964 trek ons gesin vanaf Lutzburg na ons buurdorp, Keimoes. Dié mooi dorpie is, nes Kakamas, geleë in die vrugbare benede-Oranjerivier streek en so halfpad tussen Upington en Kakamas.
Keimoes is lê soos ‘n groen oase aan die voet van Tierberg op die oewers van die Oranjerivier. Die vloei van die rivier het oor die jare verkeie klein eilandjies gevorm soos George-eiland, Langeiland, Skanskopeiland en nog vele ander.
Die woord “Keimoes” beteken “grootoog” en is afgelei van twee Khoi woorde: “kei”, wat “groot” beteken en “moes” vir “oog”. Daar is nie sekerheid of die woord verwys na ‘n standhoudende fontein in die omgewing waar die ou Katolieke Sendingstasie is nie, of na aanleiding van die wye uitsig op die omgewing wat mens het vanaf Tierberg het nie.
Tierberg in die agtergrond

Die streek is bekend vir uitvoer-gehalte sultana-druiwe, ander vrugte (perkes en waatlemoen), en droë vrugte. Die vele wingerde, wynkelder, Landbou-Koöperasie en Droëvrugte bedryf is die grootste werkskeppers in die streek.
Keimoes het ‘n kleurryke geskiedenis en is al in 1870 gestig deur Klaas Lucas, aanvoerder van ‘n Korana-groep (deel van die Khoikhoi). Die eerste skool en kerk is onderskeidelik in 1887 en 1889 gestig deur ‘n sendeling, Eerwaarde Schroeder.
Aavanklik het die eerste inwoners van Keimoes saam die kerkdienste in die historiese gebou bygewoon. In Maart 1916 is die eerste kerkgebou van die Nederduitse Gereformeerde (N.G.) gemeente ingewy.
Die historiese N.G. Sendingkerk-gebou

Die N.G.Sendingkerk is in 1946 afgestig van die “Moederkerk.” Die eerste kerkraad sluit mense in wie se nasate steeds in Keimoes woon: Thomas Green, Frederick W. Loxton, Andries Coetzee, Zedokus Feris, Willem Bezuidenhoudt, Frans Mentoor en Domin Feris as ouderlinge.
Die diakens was Pieter Groenewald, Sybrandt van Niekerk, Willem Meyer, Hermias Strauss, Thomas Swartz, Andries Scholtz, Stefanus Sylvester en Jan Strauss.
Die Sendingkerkgebou, asook die waterwiel oorkant die kerk, is in 1978 verklaar tot ‘n nasionale monument. Waterwiele het ‘n groot rol gespeel in die vroeë ontwikkeling van Keimoes, want dié uitvindsel was gebruik om water uit die vore na landerye en huise te herlei.
Die huidige waterwiel in die hoofstraat is ‘n replika van die eertydse modelle en is slegs ‘n toeriste-aantreklikheid. Die waterwiel is in 1964 deur Keimoes Smidswerke gemaak vir £150 en oom Piet Speelman het die oprigting daarvan behartig vir £60.
Die Waterwiel (Foto van Google Photo's) Kunstenaar: C.J. Hollenbach
Die Rooms-Katolieke kerk word op 30 Augustus 1925 op Keimoes ingewy en uitgebrei na ‘n sendingstasie en skool. Dit is by die einste skool waar ek St.6 (Graad 8) “eerstegraad” geslaag het en ook vir die eerste paar jaar in die onderwys (vanaf 1973 tot 1975) skoolgehou het.
Die eerste Rooms-Katolieke Kerk ingewy op 30 Augustus 1925

Eerwaarde Saul Damon sou ‘n groot rol speel in die geskiedenis van die Congregational Kerk in die streek en daarmee saam die vooruitgang van die gemeentelede.
Eerw. Damon was destyds leeraar op Worcester, maar is in 1929 gevra om eenkeer elke drie maande die gemeente in Kenhardt te gaan bedien. Tydens een van sy besoeke, het Keimoes en Upington se Congregational gemeentes gevra of Eerw. Damon nie terselfdertyd vir hulle ook sal bedien nie.
In Oktober 1933 beroep Upington se gemeente die 43 jarige Eerw. Damon wat die eerste bruin leeraar van die Congregational kerk word op die dorp. Eerw. Damon het gou besef dat sy gemeente nie net geestelike bearbeiding nodig het nie.
Hy het ‘n groot rol gespeel in die ekonomiese ontwikkeling van sy gemeentelede. Nie net het hy die gemeente aangemoedig om geld te spaar nie, maar het namens die Kerk, begin om plase op die oewers van die Oranjerivier aan te koop.
Op die manier is plase soos Bloemsmond, Soverby, Currieskamp en ‘n gedeelte van Geelkop aangekoop. Die lidmate kon dan grond teen minmale koste by die kerk huur.
“Op die nedersettings het lidmate van die Congregational Kerk stukkies besproeïngsgrond gehuur en koring, lusern en selfs katoen daarop verbou.”
“Die buiteveld is as gemeenskaplike weiveld aan alle nedersetters beskikbaar gestel.”
Eerw. Damon het ook tussen 1934 en 1949 twintig nuwe kerkskole gestig omdat hy die waarde van skoolonderrig besef het. Alhoewel Eerw. Damon nooit self leeraar was op Keimoes nie, reik sy positiewe invloed wyd en diep in die streek.
Hy was byvoorbeeld ook “gemoeid met die Onderwys Departement se toekenning van ‘n sekondêre skool, later Senior Sekondêre Skool Oranjezicht, vir Keimoes.”
Die Hoërskool Saul Damon in Upington is na dié merkwaardige man vernoem wat kort na sy honderdste verjaarsdag in 1990 oorlede is. Hy het wel voor sy dood vir jare in Keimoes gewoon.
Die magtige Oranjerivier
Ons gesin huur ‘n eenslaapkamer-huis in Kousas, dorp se kant van die treinspoor. Die huis is een van drie wat aan die Losper-gesin behoort; die grote waarin hulle woon en twee wat hulle verhuur. Die Kotze-gesin het uit De Doorns na Keimoes verhuis en het in die tweede huurhuis gewoon.
Die gebied Kousas is later deur die Groepsgebiede Wet van 1966 onteien en grond-eienaars soos die Lospers moes gedwonge verkoop en almal wat daar gewoon het is na nuwe uitbreidings 3, 6 en 7 Noord van die treinspoor verskuif.
Die eerste bou-erwe in Uitbreiding 3 is tussen £15 en £20 elk vanaf 1960 te koop aan Bruinmense gebied. Die eerste 14 kopers was A. Beukes, R.W. Beukes, P. Diergaardt, Z. Feris, H.J. Feris, I. Fortuin, M.J. Jansen, J.J. Kotze, S.A. Kotzee, C. J. Klaassen, W. J. Olivier en T. N. van Wyk.
Keimoes- omgewing met Akasiabome.
Aalwyne en Kokerbome
Die eerste staatskool, Môrelig Primêre Skool is ook in Uitbreiding 3 en is op 29 Mei 1976 amptelik in gebruik geneem met J. Friedberg as skoolhoof.
Voorheen was die Verenigde Kleurlingskool Keimoes in verskillende kerkgeboue gehuisves. Die Ned. Geref. Sending-, Congregational- en later die Lutherse Kerke het hul geboue kosteloos vir onderrig beskikbaar gestel.
Die Kerke se leeraars het jaarliks beurte geneem vir die bestuur van die skool. Vanaf 1930 tot 1961 was S. P, Zealand die skoolhoof en daarna J. Friedberg totdat Môrelig Primêre Skool geopen is.

Na die onteiening van Kousas was Uitbreidings 6 en 7 bestaande uit sub-ekonomiese huise (soos dit genoem was) ook gebou. Die inwoners van Lokasie A en Kousas is na hierdie uitbreidings verskuif in die 70’s.
Hierbo is maar ‘n fraksie van die geskiedenis van Keimoes en het miskien net waarde vir ons wat vandaar kom, maar ek wou graag ‘n kort opsomming daarvan maak.
Die meeste inligting oor die geskiedenis van Keimoes, is verkry uit die boek van Maria de Beer "Keimoes en omgewing 'n kultuurhistoriese verkenning."(1992)
Twee van my pa (C.J. Hollenbach) se gedigte verskyn ook in die boek:
Die plekke van ons komvandaan het 'n groot invloed op mens se ontwikkeling en sal seker altyd 'n plek in ons harte verdien.
In deel twee vertel ek verder van die Keimoes-jare in my lewe.
Groetnis tot dan.
Shirley Rose
Bronne: Keimoes en omgewing: 'n kultuurhistoriese verkenning Maria de Beer (1992)
Wikipedia
Foto's: C.J. Hollenbach; Alexnder Steward Congregational Facebook Page; Morelig Intermediere Skool (Vanaf 2021) Facebook Page.
Comments