top of page

Zonnebloem: Koshuisdae

Updated: Mar 25

St. Clare's Hostel


Zonnebloem wapen en motto: Ut Filii Lucis Ambulate: Walk as children of the light


Deel 1: St. Clare’s Hostel


My niggie Ansie was vanaf 1970 op Zonnebloem vir onderwys-opleiding. Toe uncle Saal en neef Bokkie haar met die motor wegneem, het sy my saamgenooi.


Dit was die eerste keer dat ek in die Kaap kom en ons het by Uncle Saal se ouer broer en sy vrou in Soutrivier oorgebly. My eerste indrukke van die Kaap waaroor mense so bewonderend praat, was alles behalwe gunstig.


Die strate (in Soutrivier) was nou en besig; die karre moes so half in die straat, half op die sypaadjie parkeer. Die huise in Soutrivier het omtrent geen spasie tussen-in gehad nie, anders as op die platteland. In die huis was dit byna altyd skemer met min natuurlike lig.


Die hartlike ontvangs was egter soos waaraan ons gewoond was en ons het dadelik tuis gevoel. Die volgende paar dae kon die finale reëlings gemaak word vir Ansie se opname in die Saint Clare's hostel.


‘n Tradisionele straatfotograaf het ‘n mooi foto van ons geneem terwyl ons verby die Poskantoor gestap het. Ons het heel op ons gemak gelyk in die groot stad, maar tot my spyt het dié foto ( en ander van daardie tyd), spoorloos verdwyn.


Ek sou my niggie en beste maat mis, maar is getroos deur die wete dat ek die volgende jaar by haar sou aansluit.





In 1971 meld ek toe by St. Claire’s Hostel aan vir die volgende twee jaar se opleiding. Ek kry ‘n gulle ontvangs as Ansie se niggie van die tweedejaars. Ek begin uitsien na die koshuislewe.


Die hostelgebou bestaan uit twee verdiepings met die eerstejaars op die eerste vloer en die tweedejaars op die grondvloer. Al die studente het in sale (dormitories) geslaap en twee prefekte het saam met die eerstejaars in hul slaapsaal geslaap. Die enigste teken van hul status was dat hul dubbel-slaapbank ‘n gordyn gehad het wat hulle kon toe-trek vir privaatheid.


Die koshuismoeder was ‘n Engelse vrou, Miss Hooke. Haar piepklein woonstelletjie was ook op die grondvloer aangrensend aan die tweede-jaars se slaapsaal.

 

Die koshuis se waskamer het drie badkamers en ‘n ry wasbakke gehad waar ons elke oggend ons moes gereed kry vir die dag. Die sirene het soggens sesuur afgegaan en

indien jy een van die badkamers wou gebruik, moes jy beslis voor ses-uur reeds daar wees.


Die prefekte het hul eie "Study" gehad waar hulle gedurende studietyd kon werk. Die ander het in die eetsaal hul skoolwerk gedoen. In my tweede jaar was ek gekies as prefek by die koshuis en "Second Head Prefect" by die Kollege.


Langs die eetsaal was die kombuis met ‘n kombuis-matrone en drie of vier vroue wat verantwoordelik was vir etes vir die vyftig hosteliete. Ons het almal beurte gekry om “kombuisdiens” te doen om te help met die voorbereiding van etes.


Naweke kon ons besoekers ontvang in die “Common Room”, ‘n groot sitkamer met gerieflike stoele en selfs ‘n paar tafels en ‘n klavier. Saterdagoggend mag ons, geklee in ons skool-uniform, “stad toe” gaan.


Ons het gewoonlik al die pad met Hanoverstraat tot in die stad gestap. Die beelde, klanke en reuke van Hanoverstraat het diep binne-in my nesgeskop. Ek het eers jare later besef watter vooreg dit was om op die manier hierdie geskiedkundige straat te kon beleef.


My broer, Robby, het daardie tyd by Jack Lemkus Sportwinkel gewerk en elke Saterdag het ek vir hom gaan hallo sê en sommer ook soms gevra of hy asseblief my maandelikse sakgeld (R10) kan aanvul.


Fotos: 1.Robby en neef Bokkie 2. Ekke (Tweede jaar) 3. Robby en ek by sy jongste se troue


 Etlike kere het ek R5 by hom gekry en het hy selfs vir my toestemming gegee om ‘n rok te koop vir 'n spesiale Sondag-ete. Ek het nie ‘n idee gehad dat sy salaris nie watwonders was nie en dat hy dit beswaarlik kon bekostig om my te help.


Ons het beurte gekry om die slaapsaal daagliks uit te vee en Vrydae het ons die plankvloere gepolitoer en gepoets met 'n groot, swaar poleerder. Saterdag-namiddae het ons hare en wasgoed gewas en met veelkleurige rollers in die hare ons ander take verrig.


 Behalwe die skoolgebou en koshuis, was daar op die Zonnebloem-kompleks ‘n klein kapel en pastorie vir die Anglikaanse priester, Vader John en sy gesin. Saterdag-aande het ons gesange in die Kapel gaan oefen, begelei deur Vader se vrou.


Sondagoggende was daar ‘n diens wat almal moes bywoon. Ek was geskok toe een van die meisies uit Pietermaritzburg een Sondagoggend sarkasties opmerk; “We have to go to the chapel for some hot God.”


Vir ‘n kind uit Keimoes wat nooit kerktoe-gaan bevraagteken het nie, sou ek nie verbaas gewees het as sy as straf net daar neergeslaan het nie! Die meeste van ons het uit taamlik konserwatiewe huise gekom, maar daar was tog meisies wat die streng koshuisreëls uitgedaag het.


Sommige het begin rook, verlei deur diegene wat reeds gerook het. Ander het Saterdagoggende met boyfriends uitgegaan in plaas van saam met die ander meisies “stad toe” te gaan. Hulle het net gesorg dat hulle etenstyd aan tafel was. Niemand het geklik nie en niemand het ooit in die moeilikheid beland nie.


Die hosteliete het van oral in die land gekom, onder andere Springbok, Okiep, Pietermaritzburg, Ixopo, Beaufort Wes, Mosselbaai, Riviersonderend, Worcester en Ceres. Almal het goed met mekaar oor die weg gekom en baie vriendskapsbande is gesmee.


Fotos van links na regs: Lorna in die Chapel, Naomi, Sandra op 'n Saterdagoggend teen-die-reels-uitstappie, Naomie, Lynn (Lorraine se suster. Sy het al gewerk en ek was saam met haar en Lorraine op 'n bustoer aan die einde van 1972.) Farieda, 'n day scholar. Sy was bietjie ouer as ons, want sy het eers verpleeg. Sy het 'n paar van ons na haar huis genooi vir Sondag middag-ete.


Daar was net een meisie wat nie op koshuis kon aanpas nie en sy het vanaf haar tweede jaar privaat loseer. ‘n Ander meisie het gedurende ons tweede jaar swanger geraak en moes ongelukkig haar opleiding staak.


Koshuislewe was vir my grotendeels ‘n positiewe ervaring en ek dink dit kan nogal help karakter bou. Die twee jaar op St. Clare's Hostel sou ek nie noodwendig weer wil oorhê nie, maar ek sal dit ook nie wil verruil nie.


Ek het veral goed bevriend geraak met Lorraine Donough en Una van Hawston, maar het ongelukkig nie kontak behou nie. Dit was ‘n aangename verrassing te ek ‘n paar jaar gelede vir Una by die Baxter raakloop en kon ons gesels oor die jare wat tussenin verloop het.


Nadat ons in 1989 Kaap toe getrek het, was ek weer aangenaam verras om te ontdek dat twee van my Zonnebloem-vriende Hazel, ons destydse hoofprefek en Cynthia van Leeugamka, met hul gesinne om die draai van my af in Belhar woon. Later het Olivia van Oudtshoorn ook in Belhar kom woon.


Deesdae is koshuisreëls baie minder streng en word studente soos verantwoordelike grootmense behandel. Na matriek sou mens hoop dat studente met 'n mate van verantwoordelikheid sal optree, maar dit gebeur nie altyd nie.

Die redes daarvoor is legio, maar die oplossing is ook nie die voorskriftelikheid wat ons ervaar het nie.


Die twee jaar op Zonnebloem was 'n tyd wat my lewe help vorm het en ek sal altyd die lewensless wat ek daar geleer het onthou. Was jy ooit op 'n koshuis en wat is jou ervaring?


Volgende keer vertel ek van my kollege-ervaring.


Nostalgiese groete.

Shirley Rose

142 views

Recent Posts

See All
bottom of page