top of page

The climate is changing, why aren't we?

Updated: Nov 6, 2022

HIER VOLG DIE (SLEGTE) NUUS


Kyk jy nog nuus of vermy jy dit liewer?

“Wat baat dit tog, mens raak net swaarmoedig en ek kan tog niks daaraan doen nie.” O né? Henry Ford het gesê “Wether you think you can or think you can’t, you’re right.”

Vir hierdie gesels los ek politiek en korrupsie vir ‘n ander keer, vandag gaan dit oor aardverwarming en die rampspoedige gevolge daarvan.


Aardverwarming verwys na die toename in globale temperatuur as gevolg van die verhoging van koolstofdioksied in die atmosfeer. Hierdie verwarming gaan gepaard met globale klimaatsveranderinge soos verandering in reënvalpatrone en verwoestyning. www.wikipedia.org



Almal van ons is teen die tyd bewus daarvan dat dit elke jaar warmer en droeër word, maar waarskuwings word al lank reeds deur verskillende instansies uitgereik. Die United Nations Framework Convention on Climate Change (UNFCCC) is ‘n liggaam wat al in 1992 gevorm is om aardverwarming aan te spreek.

Dertig jaar later leef baie van ons nog in La-La Land.


Na die laaste UNFCCC Kongres (06/11/22 – 18/11/22), het die Sekretaris-Generaal Antonio Guterres gewaarsku dat indien lidlande nie beter beheer toepas nie, daar binnekort geen kans sal wees om aardverwarming om te draai of te verminder nie.


Wat is die hoofoorsake van aardverwarming?


1. Die KWEEKHUISEFFEK

Kweekhuisgasse is koolstofdioksied, metaan, stikstof en waterdamp wat natuurlik op die aarde voorkom. Die probleem ontstaan wanneer daar ‘n oormaat van dié gasse in die atmosfeer is, vorm dit ‘n laag wat die hitte op die aarde vasvang en sodoende aardverwarming veroorsaak.


2. VERBRANDING van FOSIELBRANDSTOWWE

Petrol en olie word verbrand olie om energie op te wek. Die verbrandingsproses laat skadelike gasse soos koolstofdioksied in die atmosfeer vry.


3. ONTBOSSING

Plante en bome absorbeer baie van die koolstofdioksied in die atmosfeer gedurende die proses van fotosintese. Daarom word daar na die reënwoude asook ander woude verwys as die longe van die aarde.


4. ONTBINDING van ORGANIESE MATERIAAL

Hierdie ontbindingsproses is ‘n bron van metaan, een van die kweekhuisgasse. Ophoping van organiese afval, rioolstelsels en damme wat nie onderhou word nie, kan groot hoeveelhede metaan in die atmosfeer vrystel.


5. Die ONTGINNING van NATUURLIKE GAS en OLIE stel ook metaangas vry in die atmosfeer. www.warbletoncouncil.org


Aardverwarming het ‘n verwoestende uitwerking op die aarde. Temperature het die afgelope 30 jaar drie keer vinniger styg as voor die Industriële Revolusie. Mense is nie die enigste wat geraak word deur hoë temerature nie, enige spesie (fauna of flora) wat nie by die verhoogde temperature kan aanpas nie, sal uitsterf, soos reeds besig is om te gebeur.


Ontstellende tonele van die gevolge van droogte in Afrika-lande soos Somalië, Ethiopia en Kenia gryp mens aan die hart. Die ironie is dat hierdie deel van Afrika verantwoordelik is vir slegs 0,1% van globale skadelike gas-emissies. Na vier agtereenvolgende seisoene van geen reen, word 36 miljoen mense geraak deur hongersnood en het 8,9 miljoen diere al gesterf. www.issafrica.org


Veldbrande kom oral op aarde voor op groot skaal as gevolg van aardverwarming.


Marine-ekosisteme word ook deur aardverwarming negatief beïnvloed. Die pH balans van seewater word suurder en dit hou ‘n bedreiging in vir seelewe, veral weekdiere, krappe en koraalriwwe.


Ons sien gereeld beeldmateriaal van stukke ysberge in die pole wat afbreek, smelt en stygende seevlakke veroorsaak. Beramings toon dat die stygende seevlakke ‘n groot bedreiging inhou vir eilande en kusgebiede.


Ons sien alreeds daagliks op die nuus tonele van oorstromings soos byvoorbeeld in Indië.



THE CLIMATE IS CHANGING, WHY AREN’T WE?


Daar is BAIE wat gedoen kan word om aardverwarming te vertraag. Ingryping op Nasionale- en Internasionale vlak sal ek nie nou bespreek nie, maar wel dit wat elkeen van ons in ons daaglikse lewe kan doen.


“Watter verskil kan ek tog maak?” dra nie meer water nie. As 5 miljoen mense elkeen die gebruik van plastiek verminder of heeltemal kan uitskakel, help elke individu om ‘n groot verskil te maak.


WAT KAN EK DOEN?


1. Vervoer is een van die grootste bronne van die vrystelling van kweekhuisgasse.

Probeer om nader aan jou werk te bly en vermy spitsverkeer indien moontlik. Werk van die huis af, al is dit net een of twee dae per week.

Stig saamry-klubs, ry trein, bus of fiets of stap wanneer moontlik. Elke bietjie help.

Dink groen as jy ‘n motor koop en kies een wat die langste hou en die minste invloed op die omgewing het.

Die onderhoud van jou motor en die korrekte banddruk kan help om petrolverbruik te verminder.

Beplan inkopies om onnodige ritte te vermy.

Onnodige versnelling en rem terwyl jy bestuur, verbruik ook meer brandstof.


2. Die item wat jy NIE koop nie, is die groenste item. HOU OP KOOP, dit is een van die grootste bydraes wat jy kan maak om afval te verminder.


3. Vermy dit om plastiek-verpakte kos te koop.


4. Neem jou eie herwinbare inkopiesakke.


5. Koop plaaslike produkte waar jy kan.


6. Gebruik jou eie waterbottel of beker vir water en wegneem-koffie.


7. Vermy die gebruik van plastiek- eetgerei en -strooitjies. “Watter verskil maak een plastiekstrooitjie?” vra 5 miloen mense.


8. Koop tweedehands /vintage of/en verstel kledingstukke. Skenk of verkoop klere wat jy nie meer dra nie. Vermy modes en “fast fashion” wat jy net vir een seisoen gaan dra.



9. Koop produkte in jou supermark wat op spesiale aanbod is indien jy dit so gou moontlik kan gebruik, anders word dit weggegooi.


10. Gebruik wat jy reeds het voordat jy weer koop. (Gedurige kragonderbrekings veroorsaak dat baie meer kos weggegooi word).


11. Maak jou eie groentetuin en kompos.


12. Indien jy nie vegataries kan of wil gaan nie (soos ek), probeer ten minste een dag an die week sonder vleis op die menu.

13. Spaar elektrisiteit deur bv. elektriese toestelle te ontkoppel en nie net afskakel nie. (Meer wenke by www.switchandsave,co.za)



Bogenoemde is natuurlik maar net ‘n paar voorstelle waarvan die meeste niks nuut is nie, weet ons dit net of doen ons dit ook?


Ons hoef nie almal omgewingsaktiviste op die wêreldverhoog te wees om ‘n verskil te maak nie, in jou huis en omgewing is genoeg. Ons hoef nie eens al die bogenoemde te doen nie, maar enige poging van ons kant om die aarde te red, maak ‘n verskil.


Tot ons weer gesels leef groener, daar is nie ‘n planeet B nie.




Warm groete.

Shirley Rose

Pinterest

 
 
 

Recent Posts

See All
Om 'n gegewe perd in die bek te kyk

Wie hou nou nie daarvan om ‘n geskenk te ontvang nie? Daardie afwagting terwyl jy die pakkie oopmaak en wonder: “Wat sou dit wees?” Die...

 
 
 
Op Robbeneiland

WAS JY AL DAAR? Op Donderdag 20 November 2024 besoek ek en Bertie Robbeneiland. Bertie vir die tweede keer en uiteindelik, my eerste...

 
 
 

Comments


bottom of page