top of page

Swart as 'n teken van rou

Updated: Oct 9, 2022

LEWE EN VERLIES IN DIE TYD VAN COVID

Nadat my skoonpa in 1976 op die jong ouderdom van 56 gesterf het, het my skoonma vir ‘n jaar lank na sy dood swart klere gedra. Dit is ‘n ou tradisie dat ‘n vrou na haar man se dood swart dra, maar selfs in die sewentigs was daar min mense wat dit nog gedoen het.


Hierdie sigbare teken van rou het my destyds diep getref en ek weet nie of dit ‘n goeie of slegte ding is dat die gebruik in onbruik verval het nie. “There is nothing either good or bad but thinking makes it so.” sê Hamlet. Miskien ‘n aanvegbare stelling waaroor ons anderdag kan debateer.


Vandag nog is swart meestal die kleur wat na begrafnisse gedra word en wat gesien word as ’n teken van rou. “In Christian symbolism, Black denotes the Holy Spirit, it is the colour of Pentecost and is the liturgical colour of Good Friday.” www.wou.edu.com “Black has many spiritual properties and is associated with cleansing situations and grief. It can represent forgiveness and absolution.” www.quornesha.com



Beide my ouers sowel as ‘n broer en ‘n suster is lank voor Covid aan ander oorsake oorlede, maar ek het deeglik kennis gemaak met die ontreddering wat die dood bring. Die kans om Covid te oorleef, bring deesdae onsekerheid op ‘n totale ander vlak. Daar is geen patroon van wie gaan oorleef en wie gaan sterf aan dié virus nie. Oumense en jongmense sterf; sommige met ko-morbiditeite oorleef terwyl ander sterf. Oёnskynlik gesonde mense sterf dae nadat hulle met Covid gediagnoseer word terwyl ander na maande in intensiewe sorg tog oorleef.


Die onsekerheid hang soos ‘n onheilspellende wolk oor ons koppe en dit raak al hoe moeiliker om die altydteenwoordige positiewe dinge ook raak te sien. So baie mense het familie en vriende deur hierdie virus aan die dood afgestaan en die pyn laat ons soms stom en platgeslaan. Tog is daar nog mense wat die bestaan van Covid ontken en weier om veiligheidsmaatreёls na te kom.


Die lewe gaan aan en dis goed so, maar mense dra swaar aan hul verliese. As die dra van swart klere jare vantevore mense deur die routydperk gehelp het, is dit nie jammer dat ons nie meer hierdie tradisie handhaaf nie? Na my mening beteken die dra van swart klere “Ja, ek gaan aan want ek moet, maar ek het ook tyd nodig om by hierdie nuwe fase van my lewe aan te pas.”


Niemand wil bejammer word nie, maar ons moet ook versigtig wees om nie die verkeerde etiket op iemand anders se emosies te plak nie. Miskien is dit empatie, simpatie of solidariteit in plaas van jammerte en dan verloor ons ‘n kans om troos te ontvang. Oor die algemeen bedoel mense goed, maar weet nie hoe om te help of wat om te sê nie. Moenie skroom om te vra wat jy van jou familie of vriende benodig nie.


Net iemand wat al ‘n geliefde aan die dood afgestaan het, weet hoe eensaam die dae, weke en maande na die begrafnis kan wees. Dis ‘n tyd wanneer jy probeer aanpas by ‘n lewe met hierdie groot leemte wat gelaat is deur die een wat nie meer daar is nie. Ons treur elkeen op sy eie manier en niemand kan vir iemand anders die aanvaarbare tydsduur voorskryf nie. Ek dink mense voel soms onder druk om klaar te huil en aan te gaan met die lewe.

Om ‘n geliefde se lewe te vier is goed en gepas, maar laat ons nie die behoefte om ook te treur ignoreer of afmaak nie. Daar is ongelukkig geen kortpaaie nie. Tyd genees ook nie alle wonde nie, maar die pyn versag en jy leer om met verlies saam te lewe.


Laat jouself toe om die onbeskryflike pyn van verlies ten volle te beleef, op die ou end is dit die beste. Onderdrukte emosies kan later as fisiese stres manifesteer en dit lei weer tot bloeddrukprobleme, gebrekkige geheue en selfs selfbeeldprobleme.


Goedheid en guns tot ons weer gesels.

Shirley Rose




69 views

Recent Posts

See All
bottom of page