top of page

Sterrekyk in Sutherland

"EK REIK NA DIE STERRE, NIKS IS OOIT VIR MY TE VER NIE..."


Op 4 April vanjaar was ons 47 jaar getroud en Bertie het die familie wat kon teenwoordig wees, saamgenooi om die geleentheid in Sutherland te vier.



'n Besoek aan Sutherland, so 400 km vanaf Kaapstad, is een van daardie items op mens se emmerskop-lysie wat jy nog altyd wil/sal doen, maar talle kere uitstel. Konstruksie van die Southern African Large Telescope (SALT) in Sutherland is in 2000 begin en is vanaf 2011 ten volle funksioneel.



Die ligging van die grootste teleskoop in die Suidelike Halfrond, was sorvuldig gekies omdat Sutherland ideaal geleë is met betrekking tot die ander groot teleskope in Chile en Australië. Tesame met die teleskope daar, help SALT met ononderbroke dekking van die lugruim uit die Suidelike-halfrond. www.salt.co.za




 Sutherland is 1450 m bo seevlak geleë en word dus blootgestel aan al die koue lug uit die suidweste, vandaar die reputasie van die koudste plek in Suid Afrika. (www.karoohoogland.gov.za ) Ons was daarom voorbereid en het ons warmste truie, musse en baadjies gepak.


Voor ons links afdraai na Sutherland, draai ons eers regs vir ‘n vinnige stop op Matjiesfontein. Nadat ons bietjie bene gerek het met ‘n stappie deur die pragtige tuine, geniet ons ‘n drankie op die stoep van die Lord Milner Hotel.



Fotos 4&5: Leanne Feris


Die weer was heel aangenaam toe ons Donderdag die vierde April in Sutherland aankom, maar die weervoorspelling het die berugte koue weer beloof vanaf Vrydag. Ons hou ook duim vas vir ‘n wolkelose hemel sodat ons wel kan sterre kyk.


Ons gaan tuis in die ruim selfsorg-gastehuis DKC Accommodation; eiendom van Facebook vriendin Dawn Marsh-Giblin.



Donderdag-aand klink ons ‘n glasie en geniet ‘n rojale fees by die Ou Meule Restaurant. Die mense van Sutherland se porsies is gul en Charlotte en ek smul nie net daardie aand aan ons lamskenkels nie, maar daar bly genoeg oor vir die volgende dag.


 Soos Murphy dit wil hê, word sterrekyk Vrydagaand by SALT gekanselleer; nie te wyte aan wolke nie, maar omdat die vog-inhoud in die lug te hoog was. Blykbaar kan dit die sensitiewe lense van die teleskoop beskadig.


Gelukkig vir ons is daar ook Sterland Stargazing waar die eienaar, Jurg, se kragtige teleskope ons instaat stel om die sterre van nader te bekyk. Die ervaring skop af met ‘n glasie sjerrie, ‘n praatjie en ‘n kort film oor die verskillende sterre- konstelasies voor ons na buite beweeg.


Foto: Loretta Feris

Verskillende sterre-konstelasies. Foto: Pinterest


Ons maak beurte om deur die teleskope te kyk terwyl ons in halfmaanvormige skerms wag. Dit is lekker koud, maar ons is warm genoeg aangetrek om die ervaring te geniet.

Jurg stel sy teleskope in en ons kyk met verwondering na verskeie sterre en konstelasies wat hy met ‘n sterk laser uitwys.


 Ons sien onder andere ‘n rooi ster (wat beteken dat dit amper uitgebrand is), die Suiderkruis, die Leeu, die Jagter (Hyades), die Sewe Susters (Die Pleiades) en ook die “Juweleboks”. Laasgenoemde benaming na aanleiding van ‘n groepering van 12 geel, oranje en rooi sterre wat soos juwele lyk.


Fotos: Pinterest

Saterdagoggend gaan ons op ‘n begeleide toer van die South African Astronomical Observatory (SAOO)- Kompleks. Op 'n heuwel net buite die dorp, word die SALT asook ander teleskope gehuisves. Daar is selfs verblyf vir besoekende sterrekundiges op die terein.




Ons gids Patrick vermaak ons met interessante feite en vertellings. Buite is dit mistig, koud en winderig, maar ons is in vervoering oor die moderne, massiewe teleskoop. Vlae van die verskillende universiteite van oor die wêreld wat aan navorsing deelneem, pryk aan die binnekant van die reuse gebou wat die teleskoop huisves.



In ‘n ander gebou word die Elizabeth-teleskoop, die oudste teleskoop in Suid-Afrika, gehuisves en word steeds gebruik vir verkenning van die hemelruim in die Suidelike Halfrond. Diè teleskoop was aanvanklik in die Observatorium in Kaapstad.



Saterdagaand sluit ons die naweek af met ‘n vleisie op die kole en gesellige samesyn terwyl ons gesels oor ons sterrekyk-ervaring.



 Sondgoggend na ontbyt val ons in die pad, terug huistoe. Ons terugtog val saam met die naweek toe storms die Helderberg-area geteister het en as gevolg van die sterk winde, is die Hugenote Tonnel gesluit.


Ons moes teen ‘n slakkepas in sterk wind en digte verkeer oor die Du Toitskloof-pas kruip terwyl roekelose bestuurders kanse waag om verby motors en trokke te jaag. Deur die genade het ons veilig tuisgekom en kon ek die spanning van die terugtog uit my skouers voel vloei.


Indien Sutherland wel ‘n moontlike ervaring op jou emmerskop-lysie is, kan ek en baie ander gelukkiges wat al daar was, dit sterk aanbeveel. Selfs sonder teleskope is die sterre só helder daar, mens voel jy kan daaraan raak. Wat ‘n naweek was dit nie!



Warm groete.

Shirley Rose

59 views

Recent Posts

See All
bottom of page