top of page

Reis om die son in 365 dae

Updated: Jan 13, 2023

DAG 11 VAN 365

Dit is weer sulke tyd: die begin van ‘n nuwe jaar met alles wat daarmee gepaard gaan: Sommige mense is al van verlede week af terug by die werk, ander begin vandeesweek, ander het dwarsdeur die feestyd gewerk en sleep voort op ‘n (amper) leë tenk. Die skole begin vandag in sommige provinsies en volgende week in die ander.


Paartjies wat gedurende die feestyd afgehaak het, begin hul lewe saam as ‘n egpaar, sommige saam met kinders uit vorige verbintenisse. Afgestudeerdes begin ‘n nuwe werk as hulle so gelukkig is en vir werkloses strek die jaar soos ‘n bedreiging voor hulle uit, of met die hoop vir 'n nuwe werk.


“n Nuwe begin hou vir baie ‘n bekoring in en sien dit as ‘n kans om ‘n nuwe blaadjie om te slaan en beter te doen. Ek onthou hoe ek altyd my nuwe boeke vir ‘n nuwe skooljaar ervaar het: Net my beste handskrif sal goed genoeg wees vir die kraakskoon blaaie. Die onvermydelike teleurstelling wanneer ek die uitveër moes gebruik of, nog erger, ‘n streep moes trek deur die verkeerde woord/e, kort op die hakke van my goeie voorneme.



Aan die begin van ‘n nuwe jaar is ons vol verwagting en drome van hoe dit sal verloop, maar voor ons ons oë uitvee, is nog ‘n jaar verby en baie of al ons drome en verwagtings het iewers deur die loop van die jaar stilweg gesneuwel.


"Môre, volgende week/maand sal ek begin oefen/ stap/ leer kitaar speel, ensovoorts. Ek moet/wil net eers (………….)"; en so gaan die tyd ongemerk verby. Geskrifte het deur die eeue heen gewaarsku dat vandag, nóu, al is wat jy het. Gister is verby en môre is nie gewaarborg nie.


In die Bybel lees ons in Matteus 6:25: Moet julle nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernisse. Elke dag het genoeg moeilikheid van sy eie.” “Leef vandag voluit vir God!” Lees Mat. 6:25-33.



In sy boek The Power of Now, skryf Eckhart Tolle: “Accept the present moment as if you have chosen it.” Dit dien geen doel om te wens dat omstandighede anders moet wees nie. Dit beteken egter nie om niks daaraan te doen indien jy jouself in ‘n slegte situasie bevind nie, Tolle sê dat enige aksie beter is as geen aksie.


Indien dit wat jy kies om te doen ‘n fout is, leer daaruit, dan is dit nie meer ‘n fout nie maar 'n les. Indien jy geen poging aanwend om die situasie te verbeter nie, leer jy niks en jou (slegte) omstandighede bly dieselfde.



Wyshede deur die eeue moedig ons aan: “Leef vandag voluit!” “Doen vandag wat ookal jy moet doen.” “Carpe diem! Gryp die dag!” “Maak gebruik van daardie geleentheid wat nou oor jou pad kom.” “Met die waters wat verby is sal die meule nooit weer maal nie.” “Leef een dag op ‘n slag.”


Ons het die geleentheid vir nog ‘n reis om die son, maar dié lang reis beleef ons een dag op ‘n slag. Lewe elke dag asof dit jou laaste is, miskien is dit. Elke ervaring tot vandag het ons voorberei vir die hede. Beweeg vorentoe, neem aksie. Elke besluit en aksie van vandag beïnvloed die toekoms.


Beskou die aarde as ‘n skool waar jy lewens-lesse moet leer en soos die spreekwoord sê, jy kry eers die toets en dan die les. Jy sal verseker foute maak, faal en soms jou kop hard stamp.


O ja, pasop ook vir die AAK! Soms raak ons bietjie te groot vir ons skoene en kan dit gebeur dat die lewe ons ‘n “Attitude Adjustment Klap” gee. Wanneer dit gebeur, staan op, stof jouself af en gaan aan.



Beskou die lewe as een groot avontuur en dink aan elke dag, elke oomblik,as ‘n nuwe begin; moenie jou lewe omwag vir iets wat eers moet gebeur voordat jy eers met jou “regte” lewe kan begin nie.


In die rolprent Groundhog Day (1993) met Bill Murray en Andie MacDowell, beleef die hoofkarakter dieselfde dag oor en oor totdat hy besef dat hy die verloop van die dag kan verander deur verskillende besluite te neem en sodoende die uiteinde te verander. Hoeveel mense beleef dieselfde dag vir jare en hoop op ‘n ander uitkoms?


Neale Donald Walsch het gesê: "Life begins at the end of your comfort zone.” Die goeie nuus is dat jy dit nie alleen hoef te doen nie. Wees daar vir ander mense, vind krag in jou geloof, sluit aan by organisasies of groepe. “I am because of you.” “Humanity towards others.” Ubuntu. “No man is an island.”


Op ‘n nuwe begin elke dag, geniet die reis!


Groete.

Shirley Rose


Bronne: Die Bybel; The Power of Now, Eckart Tolle; Pinterest

 
 
 

Recent Posts

See All
Om 'n gegewe perd in die bek te kyk

Wie hou nou nie daarvan om ‘n geskenk te ontvang nie? Daardie afwagting terwyl jy die pakkie oopmaak en wonder: “Wat sou dit wees?” Die...

 
 
 
Op Robbeneiland

WAS JY AL DAAR? Op Donderdag 20 November 2024 besoek ek en Bertie Robbeneiland. Bertie vir die tweede keer en uiteindelik, my eerste...

 
 
 

Comments


bottom of page