top of page

Pragtige Opaal

WAT WEET JY VAN DIE MISTERIEUSE STEEN?



Die eerste keer toe ek 'n Opaal gesien het, was aan die vinger van Frances, my neef se vrou. Al was ek in my tienerjare, was ek gefassineerd met die pragtige ring met ‘n steen wat ek nog nooit vantevore gesien het nie. Ons het nie die naam van die blou steen met ‘n kleurespel van die reënboog geken nie, maar dit het nie saak gemaak nie. Almal het Frances se ring bewonder.



My belangstelling in edelstene het my bekend gestel aan Opale en het ek besef dat die steen in Frances se ring ‘n pragtige blou opaal was. Swart opale is die skaarste en duurste. Swart Opale is nie noodwendig “swart” nie, maar het diep/donker kleure wat die helder kleure in die steen op hul beste laat vertoon. Daar is ook water-opale, melk-opale en groen opale. Vuur-opale word in Meksiko en Brazil gevind.



In die antieke wêreld was opale skaars en meer kosbaar as diamante. Die oudste vonds van opale is 4000 vC in ‘n grot in Kenia ontdek. Opale was ook bekend aan die Babiloniërs, Grieke en natuurlik die Romeine. Hedendaags is opale meer geredelik beskikbaar nadat opale in Australië ontdek is en voorsien die land ongeveer 90% van opale wêreldwyd.



Opaal is poreus, met ‘n voginhoud van tot 10%, Die steen meet 5.5 tot 6.5 op Moh se skaal van hardheid en moet beskerm word teen seep, rome en parfuum.


Soos met alle edelstene, is daar ook talle legendes en bygelowe rondom Opaal. Die Romeine het geglo dat Opaal magiese kragte het en het dit as teenvoeter vir melankolie (depressie), oogsiektes, naarheid en koors gebruik. Die Spaanse seevaarders het Opale uit Suid-Amerika en Peru na hul land gebring. Hulle het Opaal beskou as ‘n gelukbringer en talisman teen teëspoed.


Opaal help glo om verlies te verwerk deur aanvaarding en voorkom nagmerries as jy daarmee onder jou kussing slaap. Dit is ‘n simbool vir versterking, beskerming en balans. Mediteer met Opaal vir ‘n dieper, breër blik op die wêreld.


In 1829 verskyn daar egter ‘n roman van Sir Walter Scott met die titel: “Anne of Geierstein”, of “The Maiden in the Mist”. Die verhaal vertel van Hermione wat altyd ‘n groot, skitterende opaal saam met haar dra, maar onbekend aan haar, rus daar ‘n vloek op die opaal. Op ‘n dag val daar toe gewyde water op die opaal en al die mooi kleure verdwyn. Hermione sak in ‘n floute neer en die volgende dag verdwyn sy en die opaal en bly daar net ‘n hopie as oor.


Kort na die verskyning van die roman, daal die verkope van Opaal drasties en daarvandaan word die steen beskou as draers van ongeluk. Slegs mense wie se geboortesteen dit is, mag dit sonder nadelige gevolge dra, is geglo. Diamanthandelaars het die bygeloof gebruik en mense aangemoedig om liewer diamante te koop.


Koningin Elizabeth het met haar eerste besoek aan Australië in 1954 die bekende Andalooka Opaal-halsnoer ontvang, maar dit is slegs ‘n paar keer deur haar gedra.


Koningin Victoria het haar min aan die bygeloof gesteur en het ‘n groot Opaal-versameling gehad. Napoleon het ‘n 700 karaat Swart-Opaal met baie rooi kleurespel aan Keiserin Josephine (1763-1814) gegee. Die Opaal is “The Burning of Troy” genoem. Ongelukkig is daar geen afbeelding van die besondere Opaal nie en het dit gedurende die Tweede Wêreldoorlog verdwyn en is nooit weer gesien nie.


Glo mense vandag nog dat Opaal ongeluk bring? Ek weet nie, maar dit is ‘n steen wat om een of ander rede nie baie gewild is nie. Miskien omdat die stene waartoe ons toegang het van ‘n swakker kwaliteit en minder mooi is? Ken jy dalk iemand wat ‘n Opaal-ring of hangertjie het of dalk ‘n storie oor Opale? Ek sal graag wil hoor, veral van Oktober-babas wie se geboortesteen dit is.


Onomacritus (500 vC) beskryf Opaal so: “Die delikate kleure en broosheid van die Opaal laat mens dink aan ‘n mooi, geliefde kind.” Is dit nie mooi nie?


Vrolike groete tot ons weer gesels.


Shirley Rose


Fotos: Pinterest

 
 
 

Recent Posts

See All
Om 'n gegewe perd in die bek te kyk

Wie hou nou nie daarvan om ‘n geskenk te ontvang nie? Daardie afwagting terwyl jy die pakkie oopmaak en wonder: “Wat sou dit wees?” Die...

 
 
 
Op Robbeneiland

WAS JY AL DAAR? Op Donderdag 20 November 2024 besoek ek en Bertie Robbeneiland. Bertie vir die tweede keer en uiteindelik, my eerste...

 
 
 

Comments


bottom of page