top of page

Pak jou tas vir die reis!

Updated: Jan 25, 2023

PAK JY LIG OF DRA JY 'N PAKKAAS?

Of dit vir besigheid of vir plesier is, jou tassie moet jy pak as jy op reis gaan. Per motor of per vliegtuig maak natuurlik ‘n verskil, maar mens wil tog ook nie opgesaal sit met die beslommernis van ‘n klomp bagasie nie.



Vir die gewone reisiger is dit deesdae makliker om met slegs handbagasie op ‘n vliegtuig te klim. Dit skakel die wag vir jou bagasie ná die vlug uit en daar is geen risiko van bagasie wat nie saam met jou by jou bestemming aangekom het nie.



Vir my is ‘n goue middeweg verkieslik. Wanneer ons vlieg, pak ek ‘n groter tas om “in te check” asook ‘n kleiner een en ‘n handsak as handbagasie.


Enige waardevolle items, medikasie, toiletware, ‘n ekstra stel klere, onderklere en pajamas kom in die kleiner tas. Indien my groter tas nie saam met my opdaag nie, het ek ten minste die nodigste by my.


Jy kan jou huiswerk doen en byvoorbeeld na die weervoorspelling kyk, maar dan gebeur dit nog steeds dat jy koud kry op ‘n plek wat veronderstel is om ongemaklik warm te wees daardie tyd van die jaar. (Soos nou met my en Bertie hier in Kuruman waar dit reën en koel is buite.)


Die ander werklikheid van “lig pak”, is dat jy sal moet wasgoed was daar waar jy gaan, want een of ander tyd is daar nie meer skoon klere oor nie. In ‘n warm klimaat is dit ook nie moontlik om enige kledingstuk twee maal te dra nie.



Vir almal wat die komende feesseisoen op reis gaan, hetsy per motor of per vliegtuig, is hier ‘n paar wenke wat ek handig vind:


1. Begin by jou bagasie. Kies ‘n tas wat lig is en wat wiele het. Sommige van die ouer tipe tasse weeg sonder enige klere reeds sowat 500g en ‘n rugsak mag “cool” wees, maar om ‘n swaar een te dra, is nie.


2. Beplan beslis. In die somer is dit warm ja, maar een streek se warm verskil van die volgende. Neem altyd ‘n ligte baadjie saam. (‘n “Ama-ding”, het my ma dit genoem.)


3. Beplan ook watter aktiwiteite jy meestal gaan doen en pak daarvolgens.


4. Vir die somer is rokke vir my ‘n “no brainer”, een item en jy is klaar (en koel) aangetrek. Mens kan altyd ‘n ekstra laag onder of bo-oor aantrek indien nodig.


5. Kies jou materiale versigtig. Linne is ‘n gewilde keuse vir die somer, maar jy moet bereid wees om te stryk of om met gekreukelde klere rond te gaan. (‘n Draagbare klere-stomer sal help indien jy plek het daarvoor in jou tas.)


6. Goedkoop sintetiese mareriaal is lig, maar sal jou laat sweet. Klere van poli-katoen is my keuse vir die somer. Ander kreukelvrye materiale is Poliëster, Tencel/lyocell en Spandex.


7. Tekkies is natuurlik nou hoogmode en almal dra dit by alles, maar my voete wil nie toe wees in die somer nie. Op my paklys vir die somer is net sandale.


8. Pak klere wat saans sowel as deur die dag gedra kan word. Indien ons saans uitgaan, dra ek die klere (rok) wat ek die volgende dag wil aantrek.


9. Laat duur juwele tuis en neem eenvoudige basiese items vir elke dag se dra saam op reis. Kikker kleredrag vir aandgeleenthede op met statement oorbelle. Swaar halssnoere sal jou net laat sweet.


10. Vou of rol? Wat van ‘n kombinasie van die twee metodes? Watter klere sal beter pak indien jy dit vou en watter as jy dit rol? Gebruik “packing cubes” om alles mooi gevou/gerol bymekaar te hou.


11. Maak seker dat jou naam en telefoonnommer aan jou bagasie vas is en bind ‘n kleurvolle lint of iets dergeliks aan/om jou tas om dit tussen die vele ander (swart) tasse op die voerband uit te ken.



Na ‘n jaar se harde werk verdien jy ‘n wegkomkans en bon voyage as jy op reis gaan. Vir diegene wat verkies om tuis te bly, gaste verwag, nie instaat is om weg te gaan nie, onthou: Jy verdien ook ‘n blaaskans.


Ontspan onder ‘n boom, kuier by hartsmense, neem jouself uit vir koffie/ ete/ teater/ ‘n facial, mani of pedi. Lees daardie boek waarby jy nie uitkom nie, wees goed vir ander, maar ook vir jouself.


Sterkte met die laaste take vir die jaar!


Goedheid en guns tot ons weer gesels.

Shirley Rose


 
 
 

Recent Posts

See All
Om 'n gegewe perd in die bek te kyk

Wie hou nou nie daarvan om ‘n geskenk te ontvang nie? Daardie afwagting terwyl jy die pakkie oopmaak en wonder: “Wat sou dit wees?” Die...

 
 
 
Op Robbeneiland

WAS JY AL DAAR? Op Donderdag 20 November 2024 besoek ek en Bertie Robbeneiland. Bertie vir die tweede keer en uiteindelik, my eerste...

 
 
 

Comments


bottom of page