top of page

Paasfees: Tradisies en Rituele

Updated: Aug 24, 2022

HOE EN WANNEER HET DIT ONTSTAAN?


Die verhaal begin soos gewoonlik, “Lank, lank gelede”, toe Moses opdrag van God ontvang het om die Israeliete uit Egipte te lei en Farao geweier het om hulle te laat gaan. God het toe tien plae gestuur om Farao te dwing om die Israeliete te bevry, maar die eerste nege plae kon hom nie oorreed nie.


Voor die tiende plaag, die dood van die eersgeborenes, kry die Israeliete opdrag om ‘n lam te slag en die bloed van die lam aan die lintels en kosyne van hul deure te smeer. Daardie nag het die doodsengel deur Egipte getrek en al die eersgeborenes van die Egiptenare is die volgende dag dood aangetref. Die doodsengel het by al die huise van die Israeliete, wat met die bloed van die lam gemerk was, verby gegaan.

Exodus 12:23: “For the Lord will pass through the land and strike down the Egyptians. But when He sees the blood on the top of the and sides of the doorframes, the Lord will pass over your home. He will not permit His death angel to enter your house and strike you down.”


Na die verskriklike straf het Farao die Israelite laat gaan. God het die Israeliete opdrag gegee om elke jaar hierdie bevryding te herdenk met die Pesach Sederfees. Die woord Paasfees is afgelei uit die Hebreeuse “Pesach” en Latynse “Pascha”; ook “Passover” in Engels.


Die Engelse term “Easter” en die gebruike van paashase en paaseiers het hul ontstaan in Heidense gebruike. “Easter” is afgelei van “Ishtar” (Ook genoem Astarte, Eostre, Ostera, & Eastre) die godin van vrugbaarheid. Hase is gesien as ‘n simbool van vrugbaarheid en eiers was vir baie antieke volke ‘n simbool van nuwe lewe of ‘n nuwe begin. Pasga val in die lente in die Noordelike Halfrond en so het die simbole van lente verweef geraak met Paasfees.


Reeds in antieke Griekeland en Rome het vriende aan mekaar versierde eiers geskenk gedurende lentefeeste. Later was eiers een van die kosse wat nie gedurende die vastyd voor Paasfees geëet was nie. Eiers was gekook om langer te hou en is eers op Paasondag geëet.

Die gebruik om eiers weg te steek vir kinders om te soek, het moontlik in Duitsland ontstaan na aanleiding van 17de eeuse Duitse tekste. Kinders was vertel dat die paashaas eiers bring en wegsteek wat hulle dan moet soek.


Selfs die oorsprong van paasbolletjies lê ver in die verlede in die verwewing van heidense tradisie en Christelike rituele. Dit was glo die gebruik om vrugte- en speserybolletjies te bak vir die lentegodin Eostre. Die vier kwarte wat deur die kruis op die bolletjie gevorm is, was glo simbolies van die vier kwarte van die maan.


Voor die Christelike era in Britanje, was dit algemene gebruik om gebak met ‘n kruis te merk. Teen 1592 is die gebruik van die kruissimbool op gebak deur Koningin Elizabeth 1 verbied omdat dit té “Katoliek van aard is”. “Die enigste uitsonderings was op Goeie Vrydag, Kersfees en begrafnisse. Die bekende simboliek van die kruis het dus gelei tot die sterk assosiasie wat vandag bestaan tussen Paasfees end die gekruisde paasbolletjie.”


Die oorspronklike naam vir paasbolletjies was “Good Friday buns” of “cross buns”. “hot cross buns” is vir die eerste keer in 1733 aangeteken en dui vermoedelik op wat bakkers in die straat geroep het wanneer hulle hul warm, vars bolletjies wou verkoop.



Die eet van brood en vis wys moontlik terug na die verhaal van hoe Jesus die mense met vyf brode en twee visse gevoed het. ‘n Verdere faktor kan die Katolieke gebruik van die eet van vis op Vrydae wees. Die eet van kerrievis het as ‘n Kaapse tradisie ontstaan. Die resepte is waarskynlik deur die slawe uit Oos-Indië na die Kaap gebring en die pekeling van vis en vleis was ‘n praktiese oorweging. Daardie tye was verkoeling nie beskikbaar nie en die gebruik op skepe sowel as op land was om vleis en vis “in te lê” of te pekel om bederf te voorkom.


Paasfees, die herdenking van Jesus se dood en die viering van Sy opstanding, is onlosmaaklik verbind aan die Joodse Pesachfees. Volgens Johannes, het Jesus op die vooraand van Pesach gesterf. In die Bybel word Jesus die “Lam van God” genoem: Joh. 1:29 “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” In Kor. 5:7 “Ons paaslam is immers geslag: dit is Christus.”



Jesus het aan sy dissipels gesê toe Hy die laaste maal saam met hulle geëet het: “Dit (die brood), is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis” Nadat Hy wyn aan hulle gegee het: “ Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” 1 Kor. 11:23-31


Die Apostel Paulus het hierdie opdrag aan die vroeë Christene gegee: Dat Jesus deur die rite van die eet van brood en die drink van wyn herdenk moet word totdat Hy weer kom. Tot vandag toe vier ons elke jaar Paasfees en onthou dat Jesus vir ons sonde aan die kruis gesterf het.



Mag Paasfees altyd vir ons as Christene aan hierdie onbaatsugtige offer herinner.


Geseënde Paasfees aan almal.


Shirley Rose


Bibliografie: Wikipedia: Paasfees; www.bergsigdv.co.za

Pasga, plae en die paashaas; Kos vir die Pase- die storie agter die tradisies www.foodandeverythingafter.wordpress.com (Anneke Potgieter)

Jesus’ covenant and the Passover: fdeanhackett.com

Illustrasies: Pinterest

32 views

Recent Posts

See All
bottom of page