top of page

"Outisme: 'n Wye spektrum met verskillende ervarings"

Updated: Feb 20, 2023

In haar boek, Raaiselkind, vertel Annelie Botes die verhaal van Alexander, ‘n kind wat op die Outisme Spektrum is. Dié boek is geïnspireer deur Alexander, die kind van Annelie se kollega, gedurende die tyd toe die skrywer op Bedfordview gewoon en skoolgehou het.


Annelie vertel hoe almal, sy inkluis, wat met die kind in kontak gekom het, geglo het dat hy ‘n stout, bedorwe brokkie is. Sy beskryf 'n voorval toe Alexander tydens ‘n besoek saam met sy ma, van haar “kosbare goedjies verniel het." Sy was so ontsteld dat sy ma en kind summier uit haar huis weggejaag het.


Toe Alexander uiteindelik op vyf jaar gediagnoseer is met Outisme, het Annelie steeds geglo dat dit net nog ‘n verskoning vir sy “stoutigheid” is. Sy het egter begin oplees oor Outisme en hoe meer sy uitgevind het, hoe meer het dit haar gefassineer. Na nog drie jaar van navorsing, het sy Raaiselkind geskryf en is dit in Maart 2008 gepubliseer.


Die boek vertel die hartroerende verhaal van ‘n gewone gesin se disintegrasie na die derde kind, Alexander, se geboorte. Alexander is ‘n moeilike baba. Hy skree aanmekaar en die dokters kan nie uitvind wat fout is nie. Die uitdagings om die seuntjie wat 24/7 toesig benodig te versorg, het ‘n ingrypende impak op die gesin se lewe.


Ingrid, Alexander se ma, is later verplig om by haar werk te bedank terwyl die mediese onkostes oploop. Alexander se pa begin hom aanvanklik eers emosioneel onttrek, maar later verlaat hy sy gesin omdat hy “nie langer in dieselfde huis as die skreeuende kind kan bly nie.” Die twee ouer sussies word noodgedwonge na ‘n koshuis gestuur.


Ingrid se vriendskappe sneuwel een-vir-een en sy kry geen ondersteuning van die kerk of gemeenskap nie. Ingrid en Miriam, sy oppasser, sukkel om alleen die mas op te kom.


Die klassieke simptome soos beskryf in Raaiselkind, is nie noodwendig by alle kinders wat op die spektrum gediagnoseer is, teenwoordig nie. Die feit dat geen twee kinders op die spektrum is dieselfde nie, kan ook 'n diagnose kompliseer.

  • Kinders op die spektrum is geweldig sensitief vir sensoriese aspekte soos harde geluide, helder lig, klere- sowel as voedselteksture.

  • Sommige kinders vertoon simptome soos herhalende gedrag, woedebuie, hiperaktiwiteit en ‘n gebrek aan sosiale vaardighede.

  • Dit is asof ‘n kind soos Alexander toegesluit is in sy eie wêreld en dit is moeilik om tot hom deur te dring.

  • Outisme kan nie altyd op ‘n vroeë ouderdom gediagnoseer word nie. In die meeste gevalle word ‘n diagnose eers gemaak wanneer die kind vier of vyf jaar oud is. "Die kombinasie van faktore is belangrik." volgens Dr. Larisa Surkova, Ph.D, Sielkundige

  • Outisme is nie ‘n siekte nie, maar ‘n neurologiese toestand. Gewone mense is Neuro-tipies, terwyl mense op die spektrum as Neuro-divers beskryf word.

(Seuns sowel as meisies kan met Outismespektrumversteuring gediagnoseer word, maar dit is meer algemeen by seuns. Ek gebruik deurgaans manlike voornaamwoorde ter wille van vereenvoudiging.)


Hoe vroeër ‘n kind wat op die spektrum is gediagnoseer kan word, hoe beter is dit vir sy toekomstige sukses. Dit is beter om die kind so gou as moontlik met behulp van kundiges fuksionele vaardighede te ontwikkel om hom instaat te stel om sosiaal in die samelewing in te pas. www.Af.healthy-food-near-me.com


Volgens studies lyk dit asof 1 uit elke 100 kinders met ‘n soort Outismespektrumversteuring (ASS) gediagnoseer word en dit kan wissel van lig tot ernstig. www.warbleton council.org

Op www.Maroelamedia.co.za vertel Carina Verwey hul gesin se verhaal in “’n Ma vertel: My seuntjie met outisme.” Klein Ethan se verhaal toon weereens dat elke kind se verhaal anders is, maar wys ook die baie ooreenkomste.


In gevalle waar ‘n kind met ‘n gemiddelde tot hoë intelligensie op die spektrum is, is dit soms moeilik om hom vroeg te diagnoseer omdat sulke kinders uiters suksesvol word om sommige simptome te vermom. (“Masking”) Die gevolg is dat hy gewoonlik eers as volvassense gediagnoseer word. Teen daardie tyd is daar bykomende trauma waaraan die persoon onderwerp was omdat hy nie op ‘n vroeër stadium die nodige ingryping kon kry nie.

Saam met outisme kan daar ook depressie, angsversteuring, disleksie en ADHD gediagnoseer word. Die volwasse person met outisme vind dit onder andere moeilik om ‘n werk te behou omdat hy, ten spyte van verstandelike vermoëns en vaardighede, dit baie moeilik vind om gewone werksomstandighede en kollegas te hanteer.


Hoogfunksionerende mense was vroeër met “Aspergersindroom” gediagnoseer, maar die term word verkieslik nie meer gebruik nie as gevolg van negatiewe assosiasies met die man na wie die sindroom vernoem is. Die “Diagnostic and Statistical Manual, Vyfde Uitgawe, (DSM 5), vervang “Aspergersindroom” met “Hoog Funksioneel”.


“Hierdie kinders sal steeds sosiaal meer probleme ondervind, geneig wees om lesings te gee eerder as om te gesels, ‘n nou belangstellingsveld hê, obsessief wees oor seker dinge, uiters roetinegebonde wees, selektiewe eters wees, sekere kledingstukke nie wil dra nie, eienaardige taal hê. Hulle leer maklik vreemde aksente aan en is baie geheg aan skerms – die rekenaar is hul beste maat.” (DSM 5)


(Dit verg ‘n hele span mense om ‘n Outisme-diagnose te maak. Die beste ding om te doen indien van die tekens by ‘n kind waargeneem word, is om hom by die huisdokter te kry vir ‘n verwysing indien nodig.)


Selfs hoog funksionele mense op die spektrum se daaglikse bestaan is ‘n stryd wat vir baie mense moeilik is om te begryp. Net soos enige ander beperkede toestand byvoorbeeld ‘n fisiese gestremdheid die lewe van ‘n persoon kan kniehalter, ervaar mense op die spektrum ook beperkings. Ongelukkig is die tekens van hoog funksionele outisme nie altyd sigbaar nie en die simptome wat wel waarneembaar is, is nie altyd sosiaal aanvaarbaar nie.



Die lewe gooi vir almal draaiballe en mens kan probeer wegvlug daarvan of jy kan alles tot jou beskikking inspan om dit te hanteer. Oor die algemeen toon mense baie begrip indien jy hulle in jou vertroue neem, want almal het beslis ondersteuning nodig in moeilike tye. “Wanneer jy verstaan, oordeel jy nie.”


Sonskyngroete aan almal, veral diegene met spesiale uitdagings.


Shirley Rose


Verwysings: Outisme: ‘n Wye spektrum met verskillende simptome en ervarings. www.afrikaans.com

‘n Ma vertel: My seuntjie met outisme www.maroelamedie.co.za

Raaiselkind, Annelie Botes, 2008, Tafelberg Uitgewers

56 views

Recent Posts

See All
bottom of page