top of page

Oor Vroedvroue en Smeer-oumas

OOR VROEDVROUE EN SMEER-OUMAS

Ek onthou die aand (4 April 1966) van my jongste suster, Charmie, se geboorte baie goed. Haar “Ouma”, soos vroedvroue genoem is, was antie Karliena Ross.


Ant Karliena was al vroegaand laat kom om Mamma te kom bystaan met die nuwe baba se geboorte. Oudergewoonte moes ons, die ouer kinders, maar ons eie afleidings maak en die bedrywighede gade slaan.


Mamma se suster, antie Hannie, was vir ‘n onbepaalde tyd by ons tuis om Mamma agterna met die baba te help. Sy was besig met water kook en was in en uit by die kamer waar ant Karliena vir Mamma ondersteun het.


Op ‘n stadium het antie Hannie, sigbaar ontsteld, uit die kamer gekom en kliphard vir Mamma begin bid. Kort daarna het ant Karliena aanbeveel dat Daddy liewer vir Mamma by die hospitaal moes kry, want daar was komplikasies met die geboorte.


Charmie is toe uiteindelik in die hospital gebore. Dit neem niks weg van hoe ant Karliena Mamma bygestaan het voor, tydens en na die geboorte nie. Sy kon ook sien toe Mamma beter af was in die hospital, want sy het al honderde babas die lewe ingehelp.

(Ant Karliena Ross was ook Loretta se “Ouma” en het Ma Feris met haar geboorte bygestaan.)


Tot in die onlangse verlede, was alle babas tuis gebore met die hulp van ‘n “Ouma”, oftewel vroedvrou. Dit is egter nie ‘n term wat daardie jare gebruik was nie; almal het gepraat van die “Ouma wat jou gevang het”.


Fotos: Pinterest

 In elke dorpie was daar so ‘n (groot)vrou wie swanger vroue, op hul versoek, gaan besoek het in die laaste maande van swangerskap. Sy het haar tydens die geboorte van die baba asook daarna, bygestaan.


Hierdie vroue was meeste van die tyd ook die smeer-vrou of smeer-ouma. Tydens hul besoeke het hulle die swanger vrou “gesmeer” en kon hulle ook agterkom of die baba miskien in die “verkeerde” posisie (brug-posisie), lê.


Die ouma kon in die meeste gevalle die baba deur haar smeer-metodes in die “regte” posisie draai. Hierdie pad van besoeke en intieme kontak met die voornemende ma het ‘n besondere band tussen die vroue gesmee.


Hierdie band moes sekerlik tot troos en ondersteuning tydens die lang en soms moeilike geboorte-proses bygedra het. Selfs na die geboorte was die Ouma se ondersteuning nog daar.


Sy het met wyse raad en daad die nuwe ma bygestaan en soms die baba se lyfie “uitgesmeer”. Die proses het gehelp om van winde ontslae te raak en babas het gewoonlik rustig geslaap na so ‘n smeer-sessie.


Hierdie merkwaardige vroue was dag en meestal snags beskikbaar wanneer wanneer sy benodig word. Hulle het geen betaling vir hul onbaatsugtige dienste verwag nie en omdat hulle geen mediese sertifikate gehad het nie, was hulle en word steeds, nie deur die mediese beroep (amptelik) herkenning gegee nie.


Skoonsus Loretta Feris en my dogter, Leanne Feris, het met ‘n paar van hierdie merkwaardige vroue in die Springbok-omgewing onderhoude gaan voer.


Loretta en Leanne met Antie Veronika Ross van Springbok


Met behulp van die Universiteit van Pretoria, is daar ‘n dokumentêr gemaak van die vroedvroue met wie Loretta (Uitvoerende Vervaardiger) en Leanne (Vervaardiger) onderhoude gevoer het.


In die film vertel Ouma Katriena (Koekie) Majiedt hoe sy vanaf 19 jarige ouderdom deur háár ouma geleer is om in haar vroedvrou-spore te volg.


Foto: Uit die Film: Vroedvroue


Ouma Katriena vertel hoe sy aanvanklik bra onwillig was vir dié verantwoordelikheid, maar haar ouma het gesê: “Leer terwyl ek nog lewe; moenie more oormôre vir my uit die graf uit wil kom optel nie.”


In haar melodieuse Namakwalandse aksent vertel ouma Katriena: “As die kind nie kan bore nie, moet jy die naelstring losmaak”. Sy vertel van “droeë kraam", kinders wat met die helm gebore is en hoe die helm “van voor af agtertoe” afgehaal moet word.


Die mooi en intieme verhouding tussen ouma Katriena en ‘n jong swanger vrou word duidelik in die dokkie uitgebeeld. Terwyl hulle gesels, hou die jong vrou ouma Katriena se hand vas. Terwyl sy vrae vra oor dinge wat pla, is sy duidelik heeltemal op haar gemak.


Ouma Katrien vertel ook hoe sy eenkeer ‘n baba agterop ‘n bakkie moes “vang”. Sy sê: “Jy vat eintlik daai vrou (in kraam) se trane op jou.”


In skrille kontras vertel Lisa Mazeleni in die film van haar ervaring in die hospital toe haar seuntjie gebore was. Dit was om die minste te sê, nie die warm, intieme ervaring met ‘n vroedvrou nie en het sy gevoel dat daar min begrip of ondersteuning vir haar was. Lisa het ook aan nageboorte- depressie gely.


Lisa Mazeleni en haar man


Antie Veronika Roberts van Springbok, een van die vroedvroue in die dokumentêr, het ook die première bygewoon. Sy het ‘n besondere belangstelling en kennis in die gebruik van kruie tydens en na swangerskap.


Sy vertel hoe dassiepis in kookwater goed is om “onsuiwerhede uit die liggaam” te kry. Volgens antie Veronika is dassiepis en koorsbos ook goed (vir ‘n vrou) nadat sy geboorte geskenk het. Sy deel tans haar kennis met Vanessa Cloete, ‘n smeervrou.


Antie Veronika en ouma Katriena glo nog vas aan die gebruik dat vroue tien dae na die geboorte van ‘n baba in die bed moet bly. Volgens tradisie word die “kooivrou” gedurende dié tien dae bederf, versorg en ondersteun. Daarna is sy gereed om volle verantwoordelikheid van haar take weer op te neem.


In die dokumentêr demonstreer antie Veronika hoe sy baba Mauricio smeer. "Ek gebruik mos nou die Vaseline", verduidelik sy. Aanvanklik is die baba huilerig, maar na die smeer-sessie met antie Veronika, is hy rustig en beloof sy dat Mauricio goed sal slaap.


Ek saam met Antie Veronika, baba Mauricio en sy ma Mauricia; heel regs sing oom Johannes en Antie Dina "Daars bemindes in die hemel" in Nama.


Een van die doelwitte van die dokkie, geregisseur deur Prof. Siona O’Connel, is om die kosbare erfenis van vroedvroue in ‘n gemeenskap te dokumenteer en te bewaar. Hierdie oorgedraagde kennis is besig om verlore te raak, want daar is nie baie van die jonger geslag wat belangstelling toon om by die tradisionele vroedvroue te leer nie.


Die Feris-familie


Die meeste vroue verkies deesdae om in 'n hospitaal te kraam, want in 'n noodgeval is mediese hulp onmiddelik beskikbaar. Tog is daar al meer vroue wat die intimiteit van tuisgeboortes verkies.





Vroue het ook die keuse om deur 'n "Doula" bygestaan te word, of die geboorte tuis plaasvind of in die hospitaal. Die Doula is daar uitsluitlik om die vrou te ondersteun gedurende die lang geboorteproses.



Die wonder en misterie van die geboorteproses gryp die mens se verbeelding aan en sal altyd 'n wonderwerk bly. Hoe jammer dat daar vandag nog vroue soos Lisa 'n onaangename ervaring met haar baba se geboorte gehad het.


My wens vir alle vroue wat nog die paadjie moet stap, is dat sy voor en na die geboorte van haar baba gekoester, geondersteun en versorg sal voel.


Groete tot 'n volgende keer.

Shirley Rose

 
 
 

Recent Posts

See All
Om 'n gegewe perd in die bek te kyk

Wie hou nou nie daarvan om ‘n geskenk te ontvang nie? Daardie afwagting terwyl jy die pakkie oopmaak en wonder: “Wat sou dit wees?” Die...

 
 
 
Op Robbeneiland

WAS JY AL DAAR? Op Donderdag 20 November 2024 besoek ek en Bertie Robbeneiland. Bertie vir die tweede keer en uiteindelik, my eerste...

 
 
 

Comentarios


bottom of page