top of page

Oor plooie en grys hare...

Twee dinge wat ek van my ma geërf het, is om vroeg grys te word en ‘n mooi vel. My stryd teen grys hare het al in my dertiger-jare begin, maar plooie is nie prominent in my gene nie.


So vyf jaar gelede besluit ek- dis nou genoeg, ek is klaar met die stryd teen grys! Die aaklige grys “halo” was nie iets waarmee ek kon saamleef nie en ek vra die haarkapper om alle kleur uit my hare te haal. Daardie eerste paar weke met die geel hare was ongemaklik, om dit lig te stel, maar die kleur het geleidelik beter geword met die gebruik van “pers” shampoe om die geel te neutraliseer.


Toe die grys hare oorneem, kyk ek na die vaal mens in die spieël en kan myself glad nie met haar identifiseer nie. Party mense laat sny hul grys hare in ‘n parmantige kort kapsel, sommiges speel met groen, blou of pienk saam met die grys om die vaal voorkoms te beveg. Nie een van dié opsies geval my nie.


Ek wil beslis nie weer heeltemal donker gaan nie en vra my geduldige haarkapper om my hare donkergrys te kleur. Dit lyk glad nie donkergrys nie, maar ek hou wel van die sagte bruin soos dit vertoon. Vinnig gaan omtrent ‘n jaar verby en so twee weke gelede besef ek: maar ek is dan nou weer t’rug by die roetine van hare kleur; presies waarvandaan ek wou wegkom!


Verlede week is ek weer terug by Theresa. Kan sy asseblief vir my ligstrepe insit? Hierdie keer gaan ek my hare los om hul ding te doen: raak dan nou maar grys! So tussen die ligstrepe deur, sal die uitgroei hopelik nie te sleg lyk nie. Ek moet maar sterk wees en die vaal bestry deur helder kleure te dra, maar my hare is voortaan grys!

My hare deur die jare.

So gaan koop ek, ook verlede week, ‘n potjie vogroom en ‘n bypassende botteltjie serum; dié met die h-y-a-l-u-r-o-n-s-u-u-r soos geadverteer deur Eva Longaria. By die betaalpunt vra 'n mooi vrou of ek al van die produk gehoor het wat help dat alle rome en serums beter deur die vel geabsorbeer word.

“Is dit nie waarmee die “toner” moet help nie?” wil ek weet.

“Nee”, sê sy, “Toner verwyder net die oorblyfsels van skoonmaakmiddels en vuilheid op die vel. Indien mens nie dié spesifieke produk gebruik nie, sit enige vogroom of serum net bo-op jou vel.”

“Wat kos die wondermiddel?”

“R800,00”

“Nee dankie, ek is tot sover heeltemal gelukkig met hoe my produkte werk sonder die mirakel van 'n room!”

Ek betaal R750 vir die vogroom en serum, dan moet ek nog ‘n verdere R800 opdok om dit te laat werk! Hoe maak jy daai som? Aikôna!



Vanaf sestienjarige ouderdom het ek daagliks ‘n vogroom (Oil of Olay) begin gebruik. Nadat ‘n apteek-assistant genoem het dat Oil of Olay slegs lanolien bevat en nie veel beteken nie, het ek na ‘n produk oorgeskakel wat sy aanbeveel het. Deur die jare het ek met verskillende produkte geëksperimenteer, maar gebruik L’oreal produkte nou al vir ongeveer tien jaar.


Die beskikbaarheid van nuwe velsorgprodukte gepaardgaande met amper futuristiese gesig- en nekbehandelings, laat mens se verstand duisel. Dan praat ek nie eens van plastiese chirurgie en ander “non-invasive” prosedures nie. Die koste hieraan verbonde is astronomies en is ver buite bereik van Jan en San Alleman.


Ek bewonder mense wat nie swig voor plastiese chirurgie nie, al kan hulle dit bekostig. Waarom is ons so hewig gekant teen die gevolge van oudword? Is ons selfbeeld dan totaal aan ons voorkoms verbind? Die skoonheidsbedryf floreer op die mens se ydelheid.


Ek is beslis ‘n voorstaander van selfversorging en om ten minste ‘n persentasie van jou inkomste daaraan te spandeer, maar te veel van enige ding was nog nooit goed nie. Na my mening kan mens goeie resultate kry deur ‘n gereelde velsorg-roetine, meer so as deur die ongereelde gebruik van peperduur produkte.


Gehoor van die man wat op ‘n dag die straat afstap, sy hare pikswart gekleur. Die kwajongens het hom so bekyk en laat hoor: “Kyk die ou gesig met die nuwe hare!”

Die probleem is dat jou hande en nek altyd jou ouderdom sal verklap, al het jy ‘n fietse lyfie en ‘n plooi-vrye gesig. Een of ander tyd moet mens seker begin om jou te versoen met die ouderdomsproses en die fisiese veranderinge wat daarmee gepaard gaan.


Jenny Joseph skryf die onderstaande gedig (1969) oor die vryheid wat ouderdom bring.

Tot ons weer gesels, geniet watter ouderdom jy ook al is.

Mooiloop.


Shirley Rose

155 views

Recent Posts

See All
bottom of page