top of page

OOR OUDWORD

Ons almal raak oud en elkeen se storie is verskillend, maar ons lag soms lekker saam oor klagtes wat tog so bekend klink of snaakse videos oor die komiese aspekte van oues van dae. Die beste boek oor veroudering wat ek nóg gelees het, is Elsa Joubert se “Spertyd”.


In haar boek skryf Elsa Joubert oor haar lewe in ‘n ouetehuis. Die scenario is die ideale omstandighede: ‘n pragtige fisiese omgewing van gerieflike woonstelle en tuine, goeie versorging van die inwoners, familie en vriende wat omgee en kom kuier, selfs uitstappies na resturante en teater en kuiers by die kinders. Dié prentjie is vir min beskore, want slegs ‘n klein persentasie van afgetredenes kan sulke verblyf bekostig.


Die ironie is dat Joubert selfs onder haar “ideale” omstandighede ontheemd voel. Aanvanklik leef sy ‘n besige, sinvolle lewe, maar mettertyd, soos haar gesondheid agteruit gaan en haar tydgenote sterf, skilder sy ‘n mistroostige prentjie van ouerword en die aftakeling wat daarmee gepaard gaan.


Danksy mediese vooruitgang en faktore soos ‘n gesonde leefstyl, raak ons gemiddelde leeftyd al hoe langer. Hiermee kom natuurlik nuwe eise en vraagstukke: Het ons genoeg voorsiening gemaak vir ‘n langer lewe na aftrede? Moet ons noodwendig aftree op sestig of vyf-en-sestig? Wat beplan ons om na aftrede te doen?


Hoe ons hierdie bonusjare aanpak, hang hoofsaaklik van onsself af. Dr. Hannetjie van Zyl-Edeling meen dat jy die oudag kry wat jy dink jy sal en dat die grootste beperking is hoe ons oor ons liggaam dink en wat ons oor veroudering glo; oudword, sê sy, is ‘n kopspeletjie (mindgame). Sy vertel van professor Ellen Langer (Harvard) se “Tree op asof”-eksperiment in 1979 met 16 mans in hul laat sewentig- en tagtigerjare.


Die mans is geneem na ‘n oord waar hulle in twee groepe van agt verdeel is. Aan die een groep is opdrag gegee om op te tree asof hull twintig jaar jonger is. By hul bestemming aangekom, moes hulle hul eie tasse dra en alle huishoudelike take self doen vir ‘n week. Die kontrolegroep is slegs gevra om te dink aan en te praat oor gebeurtenisse in die jaar 1959. Voor en na die eksperiment is foto’s van deelnemers geneem en is hulle fisies geёvalueer ten opsigte van verskeie kriteria.


Aan die einde van die weeklange eksperiment, is daar weinig verskil gevind in die fisiese en geestelike toestand van die kontrolegroep. By die eksperimentele groep mans was die uitkoms verbasende positief op al die getoetste kriteria. Fisies was hulle meer aktief en gesond, positief en het hulle selfs jonger gelyk as voor die eksperiment. My gevolgtrekking is dat ‘n positiewe ingesteldheid nie genoeg is as jy daarmee op die stoep gaan sit nie; jy moet aktief wees.


In haar eie boek, “Over the hill/moon: a guide to positive ageing”, skryf Dr. Van Zyl- Edeling dat jou gene níe jou lot bepaal nie. Die verhaal word vertel van Suster Bernadette, een van die slimste nonne by die Skool van die Susters van die Notre Dame. Sy was gediagnoseer met ‘n dubbele ApoE-geenstatus wat onder normale omstandighede beteken dat sy ‘n kandidaat is vir Alzheimers se siekte.


Suster Bernadette was bekend vir haar aktiewe leefstyl en intense belangstelling in die omgewing. Haar fisiese en intellektuele toetse was onveranderd tot haar dood aan ‘n hartaanval op 85, met geen simptoom van Alzheimers nie. ‘n Nadoodse ondersoek het wel van die ergste Alzheimers-plaakaanpaksels getoon, maar danksy haar besige brein en liggaam, kon die brein nuwe bane bou om die verbrokkelende breinpaadjies te vervang.

Dit is verblydend om te hoor hoe baie ons kan doen om so lank as moontlik aktief te bly en sodoende die laaste jare van ons lewe sinvol te beleef.


Dr. Hannetjie van Zyl-Edeling gee die volgende praktiese wenke:

  • Begin so vroeg as moontlik om positiewe veranderinge aan jou daaglikse roetine te bring; die meeste gesondheidsprobleme ontwikkwel nie oornag nie.

  • Kry jou dieet in orde.

  • Maak seker jou dermbioom (aktiewe bakteriё in jou dermkanaal) is in ‘n goeie toestand.

  • Vas met tussenposes deur tussen sekere etes vir minstens 12 tot 16 ure niks te eet nie. Vas help die liggaam om insuliensensitiwiteit te herstel en dra by tot vernuwing van breinselle.

  • Sorg vir minstens 7 tot 8 ure van goeie slaap, ook nodig om breinselle te vernuwe.

  • Verlaag jou stresvlakke. Langtermynstres verlaag die imuunstelsel en jou brein se vermoё om helder te dink. Aandagtigheid (mindfulness), meditasie, uitstappies in die natuur en asemhalingsoefeninge, verlaag stresvlakke.

  • Oefen gereeld 20 tot 30 minute per dag, minstens 5 keer per week.

  • Breinoefeninge is net so noodsaaklik.


Geskryf na die lees van Elsa Joubert se “Spertyd” en Dr. Hannetjie van Zyl-Edeling se artikel: “Ouderdom is ‘n kopspeletjie” in die Joernaal-tydskrif, Somer 2021.





161 views

Recent Posts

See All
bottom of page