Oor 'n koppie tee
- ferisshirley
- Oct 19, 2022
- 4 min read
Wie gesels nog kopstukke oor’n koppie tee? Hoé drink jy jou tee? Sjeel tee soos Lyntjie Jaars? Swart met baie suiker soos my uncle Saal? Met kondensmelk soos ek? Drink die jonger geslag nog tee?
Ek onthou toe ek grootgeword het was tee die kuier-drankie. My geliefde uncle ‘Teus het sy tee swart met SES teelepels suiker gedrink. Ek het hom eenkeer gevra of hy tel en of hy maar net ingooi, want ek het niemand geken wat so baie suiker neem in tee nie. Mamma en antie Miemie (die susters), het hulle tee sterk, met melk en suiker geniet; my pa het syne flou, swart met min suiker verkies.
Rooibostee het eers later deel van my lewe geword, ek dink nie my ma het veel van die smaak gehou nie. Dit was in elk geval die tee wat mens drink saam met toast as jou maag omgekrap was. Rooibostee was, net soos swart tee voor teesakkies, met “los” tee gemaak, maar is langer op die stoof gelaat om te trek.
Deesdae is daar tee te kus en te keur (meer as 3000 soorte): Swart tee, Chai (swart tee met melk en spesserye), Groentee, Kamomille, Pepperment, Heuningbostee, verskeie gegeurde tee en natuurlik, Rooibostee. Dié eg Suid-Afrikaanse tee wat in die Sederberg-streek verbou word, raak al hoe meer gewild. Rooibostee word al van die vroegste tye af deur die inheemse bevolking gebruik vir sy beskikbaarheid en gesondheidsvoordele.
Daar is studies wat bewys dat nie net Rooibostee nie, maar die anti-oksidante in baie soorte tee jou imuunstelsel kan verbeter, inflamasie kan beveg en die liggaam beskerm teen kanker en hartprobleme. www.pennmedicine.org
Tee vorm ‘n integrale deel van baie tradisies soos ‘n verjaarsdagtee, kombuistee, ooievaarstee en selfs begrafnistee. Tee was goed genoeg vir ‘n spesiale geleentheid, of om sommer net te geniet; alleen, of met wie ook al tee-tyd daar is. Elf-uur en vier-uur is tradisioneel tee-tyd. Dit was gewoonlik die (ouer) kinders wat vir die grootmense moes tee maak.
Om saam met my suster Valerie ‘n tee’tjie te drink, is steeds een van ons lekkerste rituele. Dit laat ons aan Mamma dink wat tog so lief was vir ‘n lekker koppie tee. En was sy partikulêr oor haar tee! Dit moes sterk wees en verkieslik in ‘n mooi koppie geniet word. Dit is Mamma wat van tee’tjies gepraat het en ons susters het heel onbewustelik ook begin praat van tee’tjies. Swaer Basil het op ‘n dag vir Val gevra: “Nou hoekom moet dit so klein wees?
Die geskiedenis van tee begin in China ongeveer 2700 BCE* en is eers na Europa versprei deur die Oos Indiese Kompanjie in die vroeë 17de eeu. Tee was aanvanklik net vir medisinale redes gebruik en eers later vir algemene gebruik. Die Chinese het ook tee gebruik in verskeie rituele, belasting en selfs as geskenke gegee.
*Deesdae word die afkorting BCE (Before the Christian Era) verkies. www.britannica.com
Aanvanklik was tee skaars en duur, agter slot en grendel gehou en natuurlik was dit weereens net toeganklik vir die ryk elite. Tye het verander en in 2016 het ‘n studie bevind dat tee die gewildste drankie wêrelwyd is. www.euromonitor.com
Melk was aanvanklik deur die Britte by tee gevoeg om die natuurlike bitter smaak te temper, maar ook om te verhoed dat die dun porseleinkoppies waarin dit bedien was, bars. Dit was ook die Britte wat begin het om suiker by die tee te voeg wat tee nog meer gewild gemaak het.
Die Amerikaners verkies hul tee koud of met ys, veral in die somer en is tweede op die lys van 15 lande wat die meeste tee drink. China is eerste en Suid-Afrika 13de. Teesakkies is in 1908 in Amerika ontwikkel nadat ‘n teehandelaar van New York tee in sysakkies vir bemarkingsdoeleindes na restaurante en kafees gestuur het. Die tee was net so in die sakkies gebruik omdat dit meer gerieflik was en dié gebruik het vining gewild geword. www.irely.com
Kenia is vandag die grootste swart tee-produsent in die wêreld, terwyl chai die gewildste in Oos-Afrika is. In Wes- en Noord-Afrika is ‘n hibiskustee, Bisap, ook genoem Kirkade, die gewildste tee. Die gebruik van tee is ouer as die gebruik van koffie, wyn en miskien selfs ook ouer as die drink van bier.
Die Karookruie, Kankerbossie of Sutherlandia, was ook deur die jare heen gebruik deur die inheemse mense van Suid-Afrika as medisyne teen kanker, tuberkulose, griep, diabetes en kroniese moegheid. Daar is nog nie genoeg studies gedoen wat klinkklare bewyse verskaf vir al die gelowe nie, maar mense glo wat hulle ervaar. Die erg bitter smaak van kankerbossietee verseker myns insiens dat die drink daarvan slegs vir medisinale redes sal bly.
Daar is studies wat bewys dat nie net Rooibostee nie, maar te danke aan die anti-oksidante in baie soorte tee jou imuunstelsel kan verbeter, inflamasie kan beveg en die liggaam beskerm teen kanker en hartprobleme.
Geniet jou gunstelingdrankie tot ons weer gesels.
Groetnis.
Shirley Rose
Bronne: www.britannica.com, www.tea.co.za, www.vahdam.com, www.cultureready.org, www.pennmedicine.org, www.wikipedia.org, www.tinroofteas.org, www.euromonitor.com, www.stashtea.com, www.zepbrook.co.uk, www.worldfoodwine.com, www.cfas.howard.edu, www.thespruceeats.com, www.emaygenes.co.za
Pictures: Pinterest
Eerste drie fotos: Miranda Filmore
Comments