top of page

Oor geskenke en ervarings

Updated: Nov 21, 2023

VERJAARSDAG-ERVARINGS EN GESKENKE

Hoe waardeer 'n mens 'n geskenk waarmee iemand jou bederf? Uit die hart, dis hoe. Bertie het onlangs met sy sewentigste-verjaarsdag die wonderlikste geskenke van familie en vriende gekry.

Met geskenkbewyse kon hy self kies wat om te koop, boeke is altyd ‘n gewaardeerde geskenk en vir die braaier van die huis, hoef jy ook nie te wonder wat om te gee nie. Sy kollega, Mabongi Thusi en haar seuns het Bertie op sy partytjie verras met betowerende musiek-items.


My suster Valerie, swaer Basil, hul kinders en gesinne het saamgeklub en het Bertie verras met ‘n lang-begeerde kamera. Basil het onthou dat Bertie die kamera bewonder het die laaste keer toe ons by hulle in Rustenburg gekuier het. Bertie was skoon bewoë oor die onverwagte, groot geskenk.


Die familie-Feris (vrou, kinders, broer en susters) se geskenk was ‘n warmlugballon-vaart. Dit was iets wat op Bertie se emmerskop-lys is, maar een van daardie bederwe wat mens altyd uitstel om verskeie redes. Verlede naweek, uitgesit vir twee van die verjaarsdagervarings, breek uiteindelik aan.


Vrydagoggend staan ons half-vier in die oggend op om half-ses aan te meld by Joostenbergvlakte van waar die ballon opstyg. (Die vlugte is altyd vroeg soggens om verskeie redes, maar dit verklaar ook hoekom mens nie later in die dag die ballonne in die lug sien nie.)



Ons los die kar by Joostenberg Bistro waar ons na die vlug ‘n stewige brekfis, ingesluit by die prys, geniet. Natasha neem ons per kombi, waarmee sy ons ook later weer gaan optel, na die opstygplek. Mens skud amper jou binnegoed los in dié kombi, want die suspensie is gelig om oor rowwe terrein te kan ry.


Terwyl ons ‘n welkome beker koffie drink, vergaap ons ons aan die opblaas van die ballon. Eers net met ‘n yslike waaier en toe met warm lug vanuit gasbranders. Dit neem ongeveer 40 -ton warm lug om die ballon te vul. Die span toets eers die windrigting deur ‘n gewone ballon in die lug los te laat toe die die groot ballon gereed is om op te styg.


Elf van ons klouter saam met die vlieënier in die groot mandjie onder die ballon in. Daar is geen elegante manier om in die mandjie te klim nie, maar almal is vooraf gewaarsku om nie ‘n rok te dra nie.


Die vlieënier, Conrad van Wyk (in die middel in rooi), spog met amper dertig jaar se ervaring in ballon-vlieg en het al onder andere in Skotland en Thailand ook gevlieg. Gedurende die vlug vermaak hy ons met sy staaltjies en kennis. Hy is tydens die vlug voortdurend per radio in kontak met sy ondersteunings-span op die grond. Lea neem fotos en iemand vlieg ‘n “drone” wat ons in die oog hou en ook fotos neem. Die fotos word agterna op hul Facebook-blad gepost. www.ballooningcapetown.co.za



Terwyl ons salig teen ongeveer 24 km per uur deur die lug sweef, verkyk jy jou aan die natuurskoon daar ver onder, sak tussendeur bietjie laer sodat wildsbokke, koeie, skape en selfs tarentale op die grond sigbaar is. Al die mede-passasiers is op hul gemak en geniet die vlug.

Die ondersteuningspan ry padlangs om die ballon te ontmoet waar ons in ‘n gestroopte canola-land op Moeder Aarde te lande kom. Met die landing skuur die mandjie ‘n paar meter oor die stoppelland, maar vir my is dit minder scary as ‘n vliegtuiglanding.


Veilig terug op terra firma!




Op die grond word ons ingewag met die tradisionele sjampanje. Dit is glo die gebruik om ‘n heildronk op die vlug te drink en dan gooi die kaptein ook van die sjampanje op die grond waar ons geland het.


Na ons ontbyt, stap ons deur Ludwig’s Roses Kwekery, op dieselfde perseel as die Bistro, om die pragtige rose te bewonder. Ek het nog nooit so baie soorte en kleure rose gesien nie en daar kan jy nog die rose rúík! Oorkant Ludwig's Roses is daar is ook ‘n kwekery net vir vetplante en 'n lieflike piekniekterrein.


Ons tweede verjaarsdag-ervaring Vrydagaand, is te danke aan die rojale geskenk van Fred, Monica en hul kinders. Hulle het ons albei bederf met ‘n geskenkbewys vir sesgang -maaltyd met 'n gepaardgaande wynproe wat elke dis komplimenteer. (Bertie en ek verjaar op dieselfde dag.)


Dié ervaring was nie net ‘n smaakfees nie, die sommelier het ons vermaak met interessante agtergrond- inligting, geure en smake van elke wyn. Die ervaring was ‘n groot bederf wat ons terdeë geniet het en altyd sal onthou.


Die Tokara-ervaring



Die Menu


Ons het lanklaas soveel pret gehad en volgende sien ons uit na ‘n beplande rit in ‘n Cobra sportmotor!


Baie, baie dankie weereens aan al ons familie en vriende wat Bertie (en vir my) so bederf het. Vrydag 18/11/22 was onvergeetlik!


Met groot waardering en groete.

Shirley Rose

 
 
 

Recent Posts

See All
Om 'n gegewe perd in die bek te kyk

Wie hou nou nie daarvan om ‘n geskenk te ontvang nie? Daardie afwagting terwyl jy die pakkie oopmaak en wonder: “Wat sou dit wees?” Die...

 
 
 
Op Robbeneiland

WAS JY AL DAAR? Op Donderdag 20 November 2024 besoek ek en Bertie Robbeneiland. Bertie vir die tweede keer en uiteindelik, my eerste...

 
 
 

Comments


bottom of page