top of page

Oor Engele

GLO JY DAT ENGELE BESTAAN?

Lyk hulle soos in die tradisionele prentjies en beeldjies? Kan hulle ons regtig help of beskerm?


Die prentjies hierbo is soos ek van kleintyd die engele wat ons beskerm onthou (Photos: Pinterest)


Tans lees ek die boek “Angels in our midst”, onder redaksie van Colleen Hughes en uitgegee deur Struik Christian Media in 2015. In die boek vertel verskeie mense van hul ongelooflike ervarings met engele.

Angels in our midst" delivers a feast of remarkable true accounts, each one uplifting and joyous.”

“You’ll discover that each angel is like no other, as unique as the individual who needs protection or love.”


Amóre Bekker het ‘n soortgelyke boek saamgestel uit vertellings van luisteraars toe sy omroeper was by RSG. “Ek het ‘n engel gesien” is deur Naledi uitgewers in 2023 uitgegee.


“Dié boek is gevul met diep menslike ervarings: van gevaarlike paaie en traumatiese ongelukstonele tot pediatriese sale en intensiewe sorg eenhede… van die verpletterde ma wat langs haar dogter se ongelukstoneel gehelp is deur drie vroue in hoëhakskoene en die wanhopige pasiënt wie se oorlede ouma’n leërskare engele na haar bed toe gelei het tot die geheimsinnige vertroosting van ‘n wit veer op ‘n tafel.”


My suster Valerie en ek het ‘n ding oor engele; sy meer so as ek en ons albei het oor die jare ‘n versameling van tradisionele engelbeeldjies versamel. Hulle trek ons eenvoudig net aan as ons in ‘n plek instap en dan moet ons nog een huistoe neem.


Engele in my kombuis...



In my slaapkamer...


Kersfees-engeltjies


Ek glo onwrikbaar in Psalm 19:11: “…want Hy sal Sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.” Ek glo ook dat engele nie noodwendig lyk soos die tradisionele afbeeldings nie; soos hierbo aangehaal, glo ek dat engele so individueel is soos die mense wat hulle help.


‘n Simbool is ‘n voorstelling van ‘n idee, klank, voorwerp, konsep, ensovoorts.” (Wikipedia) Engele is dus vir my ‘n simbool van beskerming.


Valerie, my engelsuster


My oortuiging is dat almal van ons al ervarings met engele gehad het, al was ons nie daarvan bewus nie. Daardie skietgebedjie of ernstige gebedsversoek vir beskerming het sekerlik gelei tot ingryping waarvan ons nie altyd bewus is nie.


Net om duidelik te maak: ons aanbid nie engele nie; ons aanbid God en Hy stuur engele om ons te beskerm. As ek terugdink, is daar meer as een geval waar dinge baie tragies kon geëindig het.


Jare gelede. in die vroeg- sewentigs, was ons vir die dag by die Aurabies Watervalle. Daardie jare was dit nie soos deesdae, ter wille van veiligheid omvattend afgekamp nie.


Dit was net na die middag toe ek na ‘n stroompie gesoek het om ‘n waterbottel vol te maak. Daar was toe nog geen winkels waar mens gou water kon gaan koop nie. Ek ontdek toe ‘n stroompie water wat skuins teen ‘n rots afloop en klim oor die rant om my bottel vol water te maak.


Die rots was bedrieglik glad en boonop het my voete en hande nat geraak toe ek die bottel probeer vol maak. Ek het gevoel hoe ek begin gly en het vervaart gesoek na vasstrap- of vashouplek. Ek het geroep. maar niemand was naby genoeg om my te hoor nie.


Ek onthou hoe ek na die afgrond ver onder my gekyk het, en hoe daar ‘n kalmte oor my gekom het. Ek kon skielik vashou- en vastrapplek kry en kon ek met bewende bene tot bo klim. Ek dink ek het die bottel gelos, maar kan glad nie onthou nie.


Daar was net groot verligting en die wete dat iets bonatuurlik pas gebeur het. Ek het nooit ‘n groot ding daarvan gemaak nie, ek het wel vir Bertie (ons was daardie tyd nog nie getroud nie) vertel dat ek amper by die rots afgeval het. Ek was daardie tyd te skugter om te sê dat my bewaarengel my gered het.


‘n Ander keer het my kar op die grondpad gegly en in ‘n stofwolk in die veld tot stilstand gekom. Daar was ‘n boompie wat ek rakelings gemis het en die kar kon ook gerol het, want ek het absoluut geen beheer oor die kar gehad nie.


Ek weet my beskermengel was daardie dag ook aan diens. God en Sy engele beskerm ons, ek dink ons moet net vra. Daar is sekerlik baie kere toe ek en my geliefdes beskerm was teen gevaar terwyl ek nie eens daarvan bewus was nie.


Mense vra baie keer na tragiese ongelukke, voorvalle of sterftes: hoe kon God dit toelaat? Ek het ongelukkig nie die antwoord nie. Ek weet net dat God elke mens sy eie wil gegee het en dat mense soms optree teen God se wil.


 Vra ons elke dag dat God se wil in ons lewe sal geskied? In die Onse Vader gebed bid ons: “Laat U wil geskied”. Ongelukkig gebeur daar ook slegte dinge met goeie mense. Daar is geen waarborg dat net goeie dinge sal gebeur nie, maar God is altyd by ons en ons tyd is uitgemeet.


My oortuiging is dat ons op die aarde is om lewenslesse te kom leer, tot diens vir mekaar te wees en God se liefde te demonstreer. Wanneer ons tyd verby is, gaan ons terug na God. Tot dan stuur Hy sy engele om ons te beskerm en te bewaar.


Photo: Pinterest

Bly veilig tot ons weer gesels.

Shirley Rose

22 views

Recent Posts

See All
bottom of page