top of page

Oor Brei, Hekel, Blokraaisels en Legkaarte

Updated: Mar 7

OOR BREI, BLOKRAAISELS EN LEGKAARTE




Leanne se hekel- en breiwerk.


In die verlede het vroue meestal vir praktiese doeleindes gebrei; truie vir die gesin en natuurlik truitjies en kousies vir babas. Dit was bloot goedkoper om ‘n trui te brei as om een te koop.


Vir baie mense, soos my ma, was brei ook ‘n aangename tydverdryf. Vandag is ‘n handgebreide trui ‘n gesogte item en is dit peperduur (na regte) om enige handgemaakte artikel te koop. Deesdae word brei en hekel hoog aangeskryf, nie net as stokperdjie nie, maar ook as terapie.


Brei het ‘n kalmerende effek en baie mense kan die terapeutiese waarde daarvan insien. Almal van ons is soms genoodsaak om iewers te wag vir een of ander afspraak of geleentheid en niemand wat ek ken hou daarvan om te wag nie.


Ek let op dat die meeste mense hulself op hul fone besig hou en al hoe minder mense verkies om 'n boek of tydskrif te lees. Selde, indien ooit, sal iemand wol en penne uithaal en begin brei.

Om te brei en te hekel is, behalwe baie ander voordele, so kalmerend dat Colette van der Merwe dit in ‘n artikel (Maroela Media) “wolterapie” noem.


Daar is baie voordele in wolterapie. Onder andere verminder dit angs en spanning en mens hoef nie noodwendig ‘n ingewikkelde patroon of item aan te durf nie. Kreatiewe mense kan hulself uitleef in die brei van truie, kunswerke, speelgoed ensovoorts.


Verlede week op die Tv-program “Kwela” was daar ‘n insetsel van ‘n jong meisie wat ‘n suksesvolle besigheid opgebou het deur sagte speelgoed te brei en te verkoop.


 Leanne, my dogter, het die belangstelling in brei en hekel van beide haar oumas gekry en sy brei met vrolike kleure wol die mooiste truie en ander items. Sy het ook al vir ‘n paar gelukkiges in die familie ‘n handgebreide trui, mus of serp geskenk.




My suster Valerie het ons ma se liefde en aanleg vir handwerk en veral hekel geërf. Sy het byvoorbeeld al die “Ons Vader-gebed” gehekel en dít sit glo nie in almal se hekelbroek nie.


Valerie en Mamma


Valerie doen ook die mooiste gare- en lint-borduurwerk. Sy het vir elkeen van haar kinders ‘n kunswerk geborduur en is tans besig met een vir my! Ek sien uit daarna om dit ‘n ereplek in my huis te gee.





Is dit nie pragtig nie? Die rosies moet nog met lint borduur word.


Ander verwante tydverdrywe of stokperdjies is blokkiesraaisels en legkaarte. Die voordele in die voltooing van blokkiesraaisels en legkaarte is algemeen bekend.

 My skoonma het vir jare lank blokkiesraaisels voltooi en ek glo dat dit bygedra het om haar brein tot op ‘n hoë ouderdom skerp te hou.


Vir jare al was dit in my agterkop om nou, na aftrede, ‘n legkaart aan te pak. As oud-onderwyser weet ek hoe baie voordele daar vir kinders sowel as grootmense is om ‘n legkaart te bou. Ek was egter nie haastig nie en het geweet dat ek deur die regte prent geïnspireer sal word.


Laat verlede jaar stap ek verby ‘n boekwinkel en daar op ‘n tafel sien die vrolike, kleurvolle legkaart van ‘n skildery van Portchie.


Ek steek vas en twyfel ‘n bietjie, want die legkaart het 1000 stukke en ek is nie van die geduldige soort nie. Ag, dink ek, dis mos ‘n langtermyn projek en daar is geen deadline nie. Ek koop toe die mooie legkaart, maar kry elke keer ‘n goeie verskoning om nie daarmee te begin nie.


Die aanvanklike plan was dat ek gedurende die Desember-vakansie sou begin, maar toe redeneer ek dat tussen al die sosiale verpligtinge deur, dit beter sal wees om te wag vir die nuwe jaar.


Toe Januarie amper op ‘n einde is, begin ek op ‘n dag om die stukkies min of meer in kleure te organiseer; ek sit ook die kant-stukkies bymekaar.


Die 1000 stukke is so intimiderend dat ek wonder of ek miskien te ambisieus was, miskien moet ek met ‘n legkaart van 500 stukke begin. Die besluit laat my sommer verlig voel en begin ek uitkyk vir ‘n legkaart met minder stukke.


By dieselfde boekwinkel loop ek toe ‘n legkaart raak met "net" 300 stukke. Die naweek toe ek beplan het om daarmee te begin, maak ‘n aanhoudende hoofpyn dit onmoontlik en weer stel ek uit. 


Die dag toe ek uiteindelik begin, raak ek erg gefrustreerd met die stadige vordering. Ek begin twyfel of legkaarte bou die regte tydverdryf is vir my; mens hoef darem nie jouself te straf nie!



 Ek weet ek moet geduldig wees, want legkaart-bou is ‘n langtermyn projek. Een van die voordele van ‘n legkaart bou is dan juis om jou geduld-spier te oefen.


Probleem is dat ek daardie tyd om ‘n legkaart te bou, liewer wil gebruik om te lees, te skryf, blokkiesraaisels in te vul of selfs die prente in my kreatiewe Bybel in te kleur. Ek vind dit baie meer terapeuties.





 Ter wille van die voordele en om te voltooi wat ek begin het, sal ek wel die halfgeboude legkaart voltooi, maar glo nie ek sal weer een aanpak nie. Ek is egter bly dat ek dit wel probeer het, want hoe anders sal mens uitvind of jy van iets hou of nie.


Volgens www.formacionyestudios.com is blokkiesraaisels en legkaarte voordelig omdat dit die brein aktief besig hou.


·      Dit verbeter mondelinge en skriftelike vaardighede.

·      Vertraag die begin van demensie.

·       Help met probleemoplossing.

·      Help met herkenning van patrone en verskillende perspektiewe.

·      Help met ontspanning.

·      Verskaf die bevrediging om ‘n projek te voltooi.



Daar is ‘n verskeidenheid aktiwiteite en stokperdjies om vrye tyd op ‘n aangename manier te verwyl en terselfdertyd ook jou brein aktief besig te hou. Hoe vroeër mens begin, hoe beter.


Groete tot volgende keer.

Shirley Rose

52 views

Recent Posts

See All
bottom of page