Ons reis na die Lae Lande 2023
- ferisshirley
- Nov 6, 2023
- 3 min read
Updated: Nov 21, 2023
DEEL 2
Uitstappies na Rotterdam, die 19 windmeulens van Kinderdijk, 'n besoek aan 'n plaas waar kaas en houtklompe veraardig word en sluit die dag af met 'n tadisionele ete by die Paauw-familie.
Ons stap Sondag in Rotterdam rond en besoek die beroemde kubushuise van die argitek Piet Blom. Die idee van hierdie vreemde huise, is om so min as moontlik grondspasie te gebruik vir maksimum spasie.
Die vreemde huise laat mens se kop laat kantel aan die buitekant, maar binne is die leefruimtes heel gerieflik. Die huise is op verskilende vlakke gebou en pas amper soos 'n legkaart inmekaar en glad nie goedkoop nie. Die styl, dink ek, sal ook nie in almal se smaak val nie.
Ons besoek ook ‘n groot binneshuise kosmark in Rotterdam. Die verskeidenheid kosstalletjies is oorweldigend. Ons kies smaaklike gevulde aartappelfritters by een van die tradisionele kosstalletjies om die hongerkol te vul.
Gerwin, ons gids, demonstreer aan ons hoe mens ‘n rou haringvis eet en daar is selfs van ons reisgenote wat saam-smul. Die on-avontuurlustige eters, ek inkluis, sê maar “nee dankie” al vertel die proeërs dat die smaak goed vergelyk met sushi. Harings is die effens groter neefs van die sardientjie.
Later vaar ons op ‘n boot en verwonder ons aan die negentien windmeule van Kinderdijk. Die oudste van die meule is al in 1640 gebou en almal is vandag nog in gebruik. Toentertyd was die windmeulens gebou vir die drooglegging van grond. Al die windmeule is nog in werkende toestand en het ‘n inwonende meulenaar wat gratis bly, maar verantwoordelik is vir die windmeul.
Ons besoek een van die ou meule, nou ‘n museum, en ervaar iets van die leefwyse van die meulenaar en sy gesin wat in die meule gebly het. Die spasie is taamlik beknop en word op verskillende vlakke, behalwe die grondvloer, bewoon. Die beddens lyk soos ingeboude ‘cots’ en bra ongemaklik. Die hedendaagse meulenaars bou gewoonlik ‘n meer moderne struktuur waarin hy meer gerieflik kan woon, naas die windmeul.
Ons besoek ‘n klein kaasfabriek waar verskillende soorte kaas deur die plaaseienaar en sy vrou gemaak word. Ons kry die geleentheid om van die kase te proe en is beïndruk deur die verskeidenheid en smake. Die Hollanders is tereg beroemd vir hul lekker kaas.

Op dieselde plaas demonstreer 'n klompe-maker aan ons hoe die tradisionele houtklompe gemaak word. Die klompe lyk lomp en swaar, maar is onverwags lig te danke aan die tipe hout waarvan dit gemaak word. Klompe is baie praktiese skoeisel op die plase waar landerye oor die algemeen nat en modderig is. By plaashuise staan die gesin se klompe gewoonlik gereed by die deur.
Terug in Amsterdam, geniet ons ‘n tradisionele maaltyd by die Pauw-familie op hul plaas waar ons hartlik verwelkom word. Die spyskaart belowe: Pea soup or seasonal vegetable soup as voorgereg met hoofgeregte: Hotchpotch of root vegetables/curly cale/endives/sausage meat/ ham and Dutch meatballs. Nagereg is “Home-made apple pie with whipped cream and ice cream”.
Die sop en nagereg word aan tafel bedien deur die familie, maar die hoofgeregte is buffet-styl en die geregte word in groot plat panne aangebied. Behalwe die smaaklike sop, is die tradisionele geregte nie wat ek verwag het nie. Die “hotchpotch” is toe nie ‘n “stew” soos ek verwag het nie, maar alles is saamgemash soos babakos. Selfs die vleisgeregte is nie iets om oor huistoe te skryf nie.
Na 'n besondere besige Sondag, keer ons terug na ons hotel in Amsterdam.
Lees volgende keer in Deel 3 van Maastricht, Luxemborg en Dinant.
Comments