Ons reis na die Lae Lande 2023
- ferisshirley
- Nov 1, 2023
- 2 min read
Updated: Nov 6, 2023
DEEL 1
Was dit nou lekker om in Nederland, Luxemburg en België te toer! Mense, “toer is nié ‘n vakansie nie”, soos een van die plaaslike gidse gesê het. Ons was vodde toe ons na twaalf dae uit en tuis was.
Dit is eerstens ‘n marteling om vir 12 ure soos sardientjies ingeprop te sit terwyl mens deur die lug klief en met dikgeswelde voete en enkels in die vreemde afklim. Ewenwel, die geleentheid om in verre lande te kan stap en ander kulture te beleef, maak dit die moeite werd.
Ons land Vrydagoggend 4 Augustus in Amsterdam op Schiphol Luhawe en ek voel gedisorienteerd terwyl ons soek na die afgespreekte ontmoetingspunt waar ons veronderstel is om Gerwin, ons gids, te ontmoet. Ons mis egter die eerste afgespreekte tyd en omdat ons nie die drie ure wou na die volgende afgespreekte tyd nie, neem ons 'n taxi na ons hotel.
Ons verwonder ons aan die waterkanale en tradisionele gewel-fasades van die ou stad. Later ontmoet ons die toerdirekteur, Gerwin Staal, asook die res van ons toergeselskap. Daar is mense van Australia, VSA, Kanada met ons as die enigste Suid-Afrikaners. Die toer word afgeskop met 'n verwelkomings-ete terwyl ons rustig met 'n boot op die kanaal vaar.
Die Nederlanders en Belge is nou nie juis bekend vir hul kulinêre vaardigheid nie, maar kosgewoontes en gebruike bly interessant. Amsterdam is deur die jare heen bekend vir godsdiensvryheid en etniese aanvaarding en was al vanaf die sestiende eeu ‘n tuiste vir immigrante.
Daar woon, onder andere, ‘n beduidende getal Marokaanse- en Turkse minderhede in dié kosmopolitaanse stad en op ons eerste dag word ons verwelkom met smaaklike Marokaanse disse terwyl ons rustig op een van die talle kanale vaar.
Dag twee in Amsterdam besoek ons die Rijksmuseum en verwonder ons aan ‘n selfportret van Van Gogh, “Die Nagwag” van Rembrandt, “Die Melkmeisie” van Vermeer en vele ander beroemde kunstenaars.
Na die middag vertrek ons na ‘n historiese vissersdorpie, Monnickendam, en stap langs die hawe waar tipiese seilbote vasgemeer lê, verby ou gewelhuisies en verkeer gesellig in ‘n plaaslike restaurant vir aandete. Na ‘n sop- of slaai-voorgereg, volg ‘n smaaklike hoofgereg van vis en skyfies, of ‘n slaai vir die vegetariërs. Vir nagereg kies ek sorbet met ‘n bessie-kompot.
Oor die algemeen het wit wyn in Nederland nie ‘n hoë alkoholinhoud nie en smaak ook nie watwonders nie. Die verskeidenheid biersoorte beskikbaar, sal baie mense oorreed om eerder bier te drink en die meeste mense in restaurante verkies dan ook bier bo wyn.
Op dag drie besoek ons die Delft Pottebakkery waar ons ‘n demonstrasie besigtig hoe die beroemde blou Delftse porseleinware gemaak word. Agterna drink ons koffie en eet vars soetgebak in die restaurant. Wafels is ‘n gesogte item wat oral op menu’s verskyn.
Lees volgende keer verder: Deel 2: Rotterdam, die 19 windmeulens van Kinderdijk en plaasbesoeke.
Comments