Ode aan Bertie
- ferisshirley
- Oct 3, 2022
- 4 min read
Updated: Mar 4, 2024
WAT 'n MYLPAAL!
Op 19 September 2022 het my wederhelf Hubert Zedokus Feris, Bertie, sewentig geword.
Ons het die mylpaal die daaropvolgende Saterdag gevier vir die baie spesiale geleentheid wat dit was. ‘n Lewe van liefde, geluk, hartseer en harde werk; ‘n lewe waarop hy met genoegdoening kan terugkyk, maar ook kan uitsien na die toekoms.
70, die aantal jare van ons lewe, volgens Psalm 90: 10:
“Die dae van ons jare – daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen.”
Niemand weet hoeveel jare vir jou beskore is nie, daarom is dit die kwaliteit meer as die lengte van ‘n lewe wat belangrik is. Dit moet wonderlik wees om aan die einde van jou lewe geen spyt te ervaar oor dinge gedoen óf ongedaan nie.
Welkom!
Bertie het as kaalvoet-seun op Langeiland en Keimoes grootgeword saam met twee susters, Charlotte en Loretta, en sy broer Alfred. Die goeie waardes waaarmee hul ouers, Zedokus en Regina Feris (néé Koopman), hulle opgevoed het, is een van die redes waarom hulle almal vandag suksesvolle mense is.
Bertie het op UWK sy BA-graad en Onderwysdiploma voltooi asook ‘n B.Ed- graad deur Unisa. Hy het by Senior Sekondêreskool Oranjezicht op Keimoes begin skoolhou en op die jeugdige ouderdom van 27 skoolhoof geword van ‘n skool met 1200 leerders en ‘n personeel van amper 60. Die pos was aanvanklik waarnemend en niemand anders het kans gesien vir die verantwoordelikheid nie.
Na twee jaar is Bertie permanent aangestel en later het die skool se leerdertal tot 1600 en die personeel tot 65 gestyg. Hy moes boonop ook verantwoordelikheid neem van die besproeïngsgrond op Langeiland ná sy pa se dood. Dit was genade, sy karakter en ondersteuning van familie en vriende wat hom in staat gestel het om al die verantwoordelikheid op so ‘n jong ouderdom te kon hanteer.
Na alle bewyse was Bertie ‘n goeie skoolhoof. Op sy verjaarsdag het Johannes Chifa, een van sy oud-leerders wat nou by Oranjezicht skoolhou, ook verjaarsdaggroete gestuur en hom bedank vir die positiewe invloed op sy en ander leerders se lewens. Die skool se goeie matriek-uitslae oor jare, het ook van Bertie en die personeel se toewyding getuig.
Tog was dit altyd Bertie se begeerte om sy eie ding te doen. Dit sou bietjie moeilik wees op ‘n klein dorpie; dit was voor ‘n mens van enige plek af kon werk indien jy ‘n rekenaar en internetfasiliteite het. Ons het opgepak en Kaap toe getrek vir die volgende fase van ons lewe.
Die aanpassing in die mooie Kaap was sonder haakplekke danksy ons vriendskap met Paul en Ruby Jordaan. Bertie het aanvanklik saam met Paul, by wie hy baie van bemarking geleer het, gewerk.
In 1992 het hy sy eie besigheid begin. Dit was ‘n harde pad met vele lewenslesse, maar hy het uitgehou, voortgebou en sy besigheid, Cape Investment Advisors, tot ‘n suksesvolle maatskappy gevestig. Ons het ook die besigheid se 30ste bestaansjaar saam met Bertie se sewentigste gevier.
Bertie is ‘n omgee-mens en veral ‘n familiemens. Hy is 'n geliefde seun, broer, pa, neef, oom en man. Sy suster Loretta noem hom ‘n “Mensch”, ‘n Woord in Yiddish wat beteken: “A person of integrity, morality, dignity, with a sense of what is right and responsible.” Bertie is daardie mens wat jy bel as jy ‘n probleem het en iemand wat sal uitreik om bande te behou met familie en ou vriende.
Familie
Vir sy kinders is hy “Pappa”, ‘n teenwoordige pa wat altyd daar is vir sy kinders en op hulle beurt is hy die eerste man in hul lewe, ‘n pa vir wie hulle onvoorwaardelik lief is. Die gebalanseerde grootmense wat hulle is, is ‘n getuigskrif van ‘n sterk pa in hul lewe. Alize, ons oudste, het Bertie op sy verjaarsdag geluk gewens namens haar, Leanne en Conrad. Sy het hom bedank vir sy liefde, sorg, voorbeeld asook vir al die lewenslesse wat hulle by hom geleer het.
Vir my is Bertie my geliefde man: ‘n rots, sterk, standvastig en ek het nog nooit nodig gehad om aan sy liefde te twyfel nie. Ons deel baie belangstellings en ons kan lekker saamlag. Bertie het ‘n aweregse sin vir humor en dit help as mens kan lag vir die komiese situasies van die lewe. Natuurlik het ons mekaar al te na gekom en seergemaak, dit is onvermydelik want ons is feilbare mense, maar ons kon nog altyd oor probleme praat en dit uitstryk. Daarom is ons dankbaar dat ons vanjaar ons 45 ste huweliksherdenking kon vier en sien uit na die toekoms.
Dit was goed om saam met familie, vriende en kollegas Bertie se 70 jaar op die aarde te vier en die gastelys was maar ‘n netelige saak. Ons sou graag almal wat belangrik in ons lewe is daar wou hê om saam te vier, maar dit is nie altyd moontlik nie. Ons het Mamma Feris so baie gemis wat ook as gevolg van haar omstandighede nie daar kon wees om haar oudste se sewentigste te herdenk nie.
Cheers!
Die gesellige gees en atmosfeer van die aand is vasgevang in die pragtige fotos van Natalie Gabriëls.
Tot ons weer gesels, vier daardie spesiale oomblikke, mylpale en geleenthede.
Groetnis.
Shirley Rose
Fotos: Natalie Gabriels Photography
Comments