'N WOORD VIR DIE NUWE JAAR
- ferisshirley
- Jan 10, 2024
- 3 min read
Updated: Jan 14, 2024
NOGTANS SAL EK BLY WEES
Gewoonlik maak ek nie nuwejaarsvoornemes nie; wat ek wel doen, is om ‘n woord vir die nuwe jaar te kies. Hierdie woord vleg dan soos ‘n mantra deur al my ervarings van daardie komende jaar.
Verlede jaar het ek die woord “hoop" gekies en het ek dit nodig gehad! Daar was geleenthede waar hopeloosheid gedreig het om my te oorweldig, maar dan het ek aan my woord vasgehou en onthou dat die hoop beskaam nie.
Soos alle goeie dinge, kom alle slegte dinge gelukkig ook tot ‘n einde. Soms moet mens langer as ‘n jaar wag, maar dis ook ok. Meestal soek mens vinnige oplossings, maar vir baie situasies is tyd die enigste oplossing. Nie dat jy net kan terugsit en wag vir die uitkoms om te gebeur nie, aikona! Terwyl jy wag is daar baie gebed, sweet en trane nodig om die beste oplossing te laat gebeur.
Ons wens mekaar voorspoed toe vir elke nuwe jaar, maar ons weet ook dat ‘n nuwe jaar onvermydelik ook vol uitdagings gaan wees. Persoonlike - en uitdagings in die familie tref gewoonlik die hardste en die seerste.
Daarmee saam kom uitdagings in ons land soos probleme met elektrisiteit en droogtes en dit voel jy deeglik aan jou bas. Internasionale kwessies soos oorloë, pandemies en ekonomiese insinkings spring ons ook nie vry nie.
Dit is in tye soos die dat ek my woord soos ‘n mantra herhaal: “En die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.” Rom. 5:5.
“Jesus Christus wat na Sy barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop.” 1 Petrus 1:3.
Jer. 29:11 het my herinner: “Ek weet wat Ek vir julle beplan het,” sê die Here. “Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.”
Glo my, daar was oomblikke waar my gemoed maar laag was en hoop gedreig het om te verdamp, maar ek het vasgeklou. Om boedel oor te gee, is nie ‘n opsie nie. Ons is deur 2023 en ons is nog staande. Die hoop beskaam nie.
Dit werk gewoonlik so: Ek begin wonder wat my woord vir die nuwe jaar sal wees en iewers gedurende daardie eerste paar dae van die jaar, kom 'n woord helder op in my gedagtes. Daarna sien en lees ek dit oral raak en dit bevestig dat daardie woord my padkos vir die jaar sal wees.
Vanjaar het my woord in Engels kom aanmeld en verklaar:“JOY”.
Ek gaan soek ook verse in die Bybel kry onder andere: Romans 15:13: “May the God of hope fill you with all joy and peace in believing, so that by the power of the Holy Spirit you may abound in hope.” Daar word “hoop” en “joy” sommer saam in een teks aan my gegee!
In die Bybel is daar so baie teksverse oor “joy”, maar die brief van Paulus aan die Fillipense word in geheel beskryf as “The Epistle of Joy” (https://thepointchurch.co.uk )
Dit is as gevolg van Paulus se gesindheid in die tronk waar hy gedemonstreer het hoe om onder alle omstandighede blymoedig te wees.
Dit laat my dink aan ‘n vrou wat bekend was daarvoor om altyd die silwer randjie raak te sien in moeilike omstandighede. Iemand daag haar op ‘n dag uit en sê: “Waarvoor kan ‘n mens dankbaar en bly wees as jou kind vermoor word?” Haar antwoord? “Ek sal bly wees dat ek nie die moordenaar se ma is nie.”
Al gaan dit hoé sleg, daar is altyd iets om oor bly of ten minste dankbaar te wees. In sy boek “Man’s search for meaning”, kom Victor Frankl tot die slotsom dat die allerlaaste keuse wat mens het, is dat jy kan kies met watter gesindheid jy deur die lewe gaan, ongeag jou omstandighede.
Ons blymoedigheid kan gesteel word wanneer ons verwagtinge koester van mense en omstandighede waaroor ons geen beheer het nie. Om dit anders te wil, is ‘n “nodelose besigheid”,soos Oubaas van Sewende Laan-faam sou sê. Al wat jy wel kan beheer, is jouself en jou gesindheid.
Soek daagliks die vreugde van klein dingetjies: jou gunsteling kleur, 'n skaterlag, skoon lug, ‘n skaduboom, die getjirp van voëltjies, sonskyndae of ‘n lekkerleesboek. Dit is soms eers wanneer iets van jou weggeneem word dat jy besef hoeveel vreugde dit aan jou verskaf het.
My wens vir almal wat hier lees, is “JOY” in al haar vorme: dankbaarheid, vergenoegdheid en, al is dit net soms, ongebreidelde vreugde!
Ten slotte: “Be a bringer of Joy”; dit is aansteeklik!
Vrolike groete.
Shirley Rose
Bronne: Pinterest, Die Bybel
Comments