top of page

'n Taal wat sing ...

AFRIKAANS

“Kierang” en “aspris”. Dis maar twee van my gunsteling woorde in Afrikaans. Ek loop op ‘n dag ‘n houertjie vir “Asprispille” by ‘n padstal raak en moes dit net koop; daar loop gans te veel mense rond wat baie aspris kan wees.


Ingrid Jonker en ook Wilma Stockenström het al die woord “kierang’ in gedigte gebruik. In “Bitterbessiedagbreek” skryf Jonker:

“Papegaai-bont eggo

kierang kierang my

Totdat ek bedroё

weer die koggel kry”


My moedertaal kan sing, dans, huppel, troos en enige gevoel, geleentheid ofomstandigheid beskryf.

Amanda Strydom sing sy kan rock in haar taal. Karen Zoid, Laurika Rauch (sing die mooiste lirieke van Chris Torr), Elvis Blue, Theuns Jordaan en Johannes Kerkorrel sing liedjies soos Beautiful in Beaufort-Wes, Blouberg se strand, Lisa se klavier, Sonvanger, Sprokie vir ‘n stadskind en Klein Tambotieboom. Die lirieke van liedjies soos dié voer jou mee en skilder met woorde die mooiste beelde. Dan is daar die nimlike David Kramer, “almal se pêl.”


“Rap” oftewel “kletsrym” in Afrikaans? Luister hoe speel kunstenaars soos Hemelbesem, Yoma, Snotkop en Jack Parow met Afrikaans. Yoma is onder andere die agtergrondrapper van die sepie “Arendsvlei” met “Arend”. Mens hoor die lekkerste ritme wat jou onwillekeurig saam laat beweeg.



Van “mens” gepraat, so op ‘n ligter noot: My swaer Basil vertel toe hulle uit Vryburg na Rustenburg getrek het, het ‘n vriend vir hom gesê dat wanneer jy verhuis, verander jou naam mos na “‘n mens”. Sy vrou het glo gedurig hardop laat hoor: ‘n Mens kan die stoel in dáárdie hoek sit.” Of “’n Mens kan solank hierdie bokse kar toe dra.”

Humor is geil in Afrikaans. Wie kan ‘n grap of staaltjie vertel dat jy lag tot jou oё traan soos in “Oppiestoep”? En hoeveel maal verskyn daar keer op keer ‘n gevatte sêding na een of ander insident in die nuus? Suid-Afrikaners het vlymskerp humor.


Vannie Kaap se kostelike gesegdes is ‘n nimmereindigende bron van vermaak:

“Coloureds can be so judgerag: Sit te veel by die huis, dan is jy gevrek; gaan jy uit naweke, dan is jy ‘n party-kop. Hou jou bek, dan is jy ‘n bang-broek; praat terug, dan is jy harregat. Loop kerk, dan is jy te holy-holy; loop jy nie kerk nie, is jy afvallag. 18 jaar oud en swanger, dan is jy ougat; maar 25 en ‘n virgin, dan is jy ‘n joke. As jy nie werk nie, is jy ‘n lui-gat; werk jy, is jy ‘n dik-ding. Drink ‘n bietjie wyn, dan is jy ‘n dronklap; los die wyn, dan is jy te sturvy.”


Die briljante talente van Taliep Petersen en David Kramer het ons die genot van “District Six, the musical” gegee; één van hul baie sukses-stories.


Nuutskeppings hou Afrikaans veerkragtig en vars. So beteken “bedoosd” van Ingrid Jones, die geneigdheid om mense in boksies te plaas of te etiketteer. “Moenie so bedoosd wees nie; net omdat ek bruin is, beteken dit nie ek drink papsak-wyn nie. Ek waardeer ook goeie wyn.” Diana Ferrus se “Komvandaan” lê uit die staanspoor, gemaklik op die tong.

Grendeltyd het gesorg vir ‘n vars oes nuutskeppings soos: “grendelglipsie”, “wynappel”, “grypkoper” “tuinholler” ensovoorts. Tegnologiese terme soos “toep”, “potgooi” en “vonkpos” het ‘n paar jaar gelede glad nie bestaan nie.


Op skool moes ons idiome soos tafels leer en ken. Idiomatiese uitdrukkings soos “die kat uit die boom kyk; die kat in die donker knyp; soos kat en hond baklei; dis nie ‘n kat om sonder handskoene aan te pak nie; is maar ‘n paar met die woord ‘kat’; daar is te veel om hier te noem. Van “met Jan Tuisbly se karretjie ry” tot “die hond in die pot kry”, kommunikeer ons tog te lekker. (Michele van der Merwe op Litnet.)


Die verskillende variante van Afrikaans is verrykend; byvoorbeeld die melodieuse klanke en woordbeelde van Griekwa-Afrikaans. Hans du Plessis het verskeie digbundels in hierdie idioom uitgebring, onder andere: Innie skylte van die Jirre- Griekwapsalms en annerlike goeterse yt die Woord yt.



“‘n Gedig /poёsie is ‘n letterkundige teks in versvorm” en “digvorm verwys slegs na ‘n soort gedig wat ‘n bepaalde stel reёls volg” (in ‘n sonnet, bv.) verklaar Wikipedia. Eugene N. Marais se uitbeelding van die reёn as ‘n vrou met ‘n karos en armbande wat winkend oor die berg aankom, is ‘n briljante voorbeeld van personifikasie; ‘n moet-lees.


Die meeste hedendaagse digters gebruik ‘n meer vrye versvorm om hulself in ‘n gedig uit te druk. In sy gedig “Kô, laat ons sing” skep Adam Small met die woorde:

“ o God

Maak vi’ ons lig moet hierie woorde soes met kerse!”

Antjie Krog het later (Kwêla, 2002), dié woorde gebruik as titel vir haar boek.


Hedendaagse digters soos Diana Ferrus, tower magiese beelde op en woel diepgaande emosies los met haar digkuns. Haar ode aan Sara Baartman, geskryf in 1998, is die innigste troos wat ek al ooit gehoor het, veral soos voorgedra deur haarself.


Ter afsluiting die seenwense:

Mag die Jirre jouse

binneste roer

en mag suffel goedgeid jou

slat, lat jy eintlik

loop en skaamkry oor

allie genade

(Pinterest)

Tot ons weer gesels.

Shirley Rose

74 views

Recent Posts

See All
bottom of page