top of page

'n Helder Somerkersfees

KERSFEES DEUR DIE JARE

My eerste herinneringe van Kersfees gaan soos vir enige kind, oor die kersboom, krismisklere en miskien ‘n presentjie. Ons kersboom was ‘n afgekapte doringboomtak met foil spirale wat so op-en-af draai. Ek kon vir lang tye by die boom sit en verwonderd daarna staar.



Daar was nie geld vir duur geskenke nie en ek kan onthou dat daar nooit ‘n groot ding van geskenke gemaak was nie. Vir my was ‘n nuwe krismisrok belangriker as ‘n geskenk, wat as ‘n bonus beskou was. Ons het net een of twee maal per jaar nuwe klere gekry. Vir my was die beste geskenke wat ek kan onthou, ‘n “slaappop” en ‘n ander kersfees, ‘n pop-stootwaentjie. Ek weet ek wou later graag ‘n “troupop” en ‘n “looppop” gehad het.


Kerstyd was altyd oor familie wat lekker saamkuier, die grootmense se gesels in die agtergrond, Mamma en Antie Miemie wat op Oukersdag alles gereed maak vir die Kersete en kinders wat jil en speel. Daar was altyd gemmerbier en kleinkoekies, alles tuisgemaak. Waatlemoen, spanspek, druiwe, vye en sappige geelperskes het die feestelikheid afgerond. My kindertyd op Cilliers en Lutzburg buite Kakamas, was idillies.


Kersfees was anders op ‘n spesiale manier toe ek my eie kinders aan die wonders van Kersfees kon bekendstel. Dit is so spesiaal om verwondering in ‘n kind se gesig te sien en die plesier van iets onder die boom ontdek wat “Vader Krimis” gebring het. Kersdag was steeds altyd met familie gevier asook die tradisionele Oukersdag-gewerskaf om alles gereed te kry vir die volgende dag.



Dinge het verander en ons het nou afgeskaal met die etery en geskenke. My skoonsus en ek neem beurte om Kersdag by mekaar se huise te hou. Elke volwassene is verantwoordelik vir ‘n dis en elkeen kry net een geskenk. Ons trek name voor Kersfees om te bepaal wie vir wie ‘n klein geskenkie gaan koop en daar word besluit op ‘n bedrag wat almal pas.



Ander feestyd-plesiere sluit in kuiers van vriende en familie wat mens min sien, uitstappies met jou gesin, soetsappige krismis-movies op Tv (“Home alone” bly ‘n gunsteling), al die ou en nuwe kersliedjies van Boney M tot Lise Beeckman se “Sonneblom uit Betlehem” en “Somerkersfees” van Koos du Plessis:

Welkom o stille nag van vrede

onder die Suiderkruis

Wyl stemme uit die ou verlede

Oor sterrevelde ruis

Kersfees kom, Kersfees kom,

Gee aan God die eer

Skenk ‘n helder somerkersfees

aan hierdie land o Heer.


Soos ek ouer word, vind ek meer betekenis in die dinge wat geld nie kan koop nie. Die samesyn met jou familie oor hierdie tyd asook die ware betekenis van Kerstyd raak al hoe meer belangrik. “Vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae” gebring deur Jesus na almal wat daarna soek.


Mens dink met liefde aan die familielede wat nie meer saam met ons is nie. Daar is so baie mense wat veral in die Kerstyd swaarkry om verlies te verwerk en wat hierdie feestyd omwens. Ek tel elke dag my seëninge en reik uit na diegene waar ek kan, ongelukkig moet elke mens sy pad stap, niemand kan dit vir jou doen nie.


“What is Christmas?

It is tenderness for

the past, courage

for the present,

hope for the future.”

Agnes M. Pahro

Mag elkeen wat hier lees ‘n geseënde Kerstyd vol liefde en hoop beleef.


Vrede tot ons weer gesels in die nuwe jaar.

Shirley Rose

96 views

Recent Posts

See All
bottom of page