top of page

My pa was 'n digter

Updated: Jul 19, 2024

C. J. Hollenbach

Toffie, Coenie, Meester, Uncle, Daddy, Oupa, Mnr. Hollenbach, Mr. Hollie, Hollenbach. My pa het omtrent soveel titels gehad as sy baie talente. Hy het op Oudtshoorn gekwalifiseer as onderwyser, maar eintlik was hy ‘n kunstenaar.


Sy verhaal begin op 8 Augustus 1934 in Namakwaland as die jongste van 12 kinders van Coenraad Jozef Hollenbach en Elizabeth Cloete. My oupa se pa was een van drie Hollenbach broers wat uit Duitsland na Suid-Afrika gekom het en my ouma was die dogter van ‘n Namakaptein, Dirk Cloete.


Hulle gesin het, soos baie in daardie jare, arm grootgeword en baie rondgetrek agter werk aan. Hulle het uiteindelik op Upington gaan woon waar Oupa Hollenbach op 74 en Ouma Bet op 83 oorlede is.


Daddy se eerste pos was op Cilliers, ‘n buitewyk van Kakamas waar Uncle Saal hoof van die klein skooltjie was. Uncle Saal was met Antie Miemie, my ma se suster getroud. Dit is waar my ma en pa ontmoet en getrou het. My broer Robert en ek het saam met die Saal-niggies en -neefs grootgeword en ek het baie aangename herinneringe van die dae op Cilliers.


Lutzburg, ‘n ander buitewyk van Kakamas, was ons gesin se volgende tuiste. Daddy was as hoof van die tweemanskool daar aangestel. Hier het “Meester” nie net skoolgehou nie, maar ook kerk en selfs begrafnis. Mamma oftewel “Miesies”, het weekliks die vrouebiduur by ons huis gehou. Daddy en Mamma was gerespekteer deur die gemeenskap, het ook vriende gehad op die dorp waar hulle gekuier en tennis gespeel het. Daddy het later selfs ‘n rugbyspan afgerig en as skeidsregter opgetree.


Valerie en Tony is op Lutzburg gebore en verskil net ‘n jaar in ouderdom. Tony was ‘n sieklike baba en het omtrent al my ma se aandag geverg. Daddy moes toe noodgedwonge meer aandag aan Val gee wat hul band baie versterk het. Tussendeur het ons en die Saals steeds oor en weer gekuier en saam op uitstappies, onder andere na die Augrabies-watervalle, gegaan. Hierdie jare soos ek dit onthou, was idillies.


As klein dogtertjie onthou ek die potloodportrette wat Daddy van figure uit die geskiedenis geteken het en op sy klaskamer se mure vertoon het. Ek het gedink dat almal se pa’s kon teken. Hy het oor die jare gedigte geskryf wat in “Die Ligdraer”, die N.G.Sendingkerk se mondstuk, asook die koerant “Landstem” en tydskrifte “Huisgenoot” en “Brandwag” gepubliseer was. Die amptelike Kinderbondlied van ons kerk, is ook hier in Lutzburg deur Daddy geskryf.


Ons gesin het in 1964 verhuis na Keimoes, die mooiste, groen oase-dorpie langs die Oranjerivier. My pa is as onderwyser aangestel by Primêreskool George-eiland waar my suster Valerie en ek ook skoolgegaan het. Daddy het hier ook gewoeker met sy talente. Hy was ‘n gesogte seremoniemeester en het as skoolkoorleier saam met Mnr. Johnson, baie bekers in koorkompetisies verower. Charmienne, die baba van ons gesin, is in Keimoes gebore.



Die bruin laerskole van die dorp en omgewing het die “Keimoes Kultuur Vereniging” gevorm wat verskeie geleenthede soos koorkompetisies, lentefeeste en optogte gereёl het. Daddy het sy kunstalent ingespan wanneer daar kostuums of sierwaens vir die skool geprakseer moes word.


Nadat Daddy vir twee jaar Afrikaans, Wetenskap en Rekeningkunde gedoseer het aan die Senior Sekondêreskool Oranjezicht, is hy in 1987 terug na Primêreskool George-eiland waar hy toe as hoof aangestel was. Tussendeur het Daddy ook verder gestudeer deur Roggebaai Kollege en Unisa.


'n Grootse oomblik vir my pa was toe hy saam met Ds. Patrick Petersen, Noёl Adams, Andrѐ Boezak, Floris A. Brown, M.C. Mackier en Marius F. Titus, die digbundel “Aankoms uit die skemer”, uitgegee het in 1988. Melvin Whitebooi het destyds in Rapport berig: “Hollenbach neem sy leser op ‘n ontstellende reis waarin hy ‘n groot deel van sy “eie self” openbaar. Daar is bitterheid oor dwaashede soos die Groepsgebiedewet, hartseer-woede oor die vierjarige Rosaline Cloete wat op Kakamas deur ‘n R1-geweer doodgeskiet is… en daar is ‘n stryd met God.”


Die meeste gedigte van Daddy se eie bundel, “Gister se gestaltes”, is geїnspireer deur die sosio-ekonomiese omstandighede van die Bruinmense in die Apartheids-era, maar getuig ook van sy geloof. Dié bundel is ook in 1988 deur Prog- Uitgewers gepubliseer. Dr Roswitha Schutte het die volgende oor sy bundel te sê: “Die stem wat tot die leser spreek in Hollenbach se beskeie bundeltjie van dertig bladsye, hoort duidelik aan iemand wat wéét van bitterheid en haat oor swaarkry en onderdrukking en die behoefte aan verandering. Maar dit is ook iemand wat toevlug en troos gesoek en vir homself gevind het in die geloof in God.”


Ons sal nooit die groot opwinding vergeet toe Joan Kruger en kameraman Johan Nel van SAUK in 1989 ‘n onderhoud met Daddy by ons huis gevoer het nie. Dit was later op TV in die “Uit en Tuis”-Joernaalprogram uitgesaai.


In 1996 word my pa deur die ATKV vereer “Vir sy besondere bydrae op die Afrikaanse kultuurterrein…” en in 1997 word die gedig “Terugblik” in ‘n poёsiebloemlesing vir studente, “Reёnboogstemme”, opgeneem. ‘n Kortverhaal “Oom Sakkie, Die Lispelaar”, verskyn in 1999 in Kalahari Korrels, ‘n kortverhaalbundel uitgegee deur die ATKV- tak van Upington.


My pa kon uit sy maag lag as iets vir hom snaaks was en het gemaklik met mense verkeer, maar ek vermoed dat hy eintlik ‘n introvert was. Sy kunstenaarsiel was sekerlik soms uitgedaag deur die daaglikse sleur van die lewe en ek dink nie baie mense het hom regtig geken nie. My verhouding met hom was beslis nie altyd ideaal nie en miskien verstaan ek nou, met groter volwassenheid, baie dinge oor hom beter.


Hy het ook groot hartseer beleef met die dood van eers sy seun Tony in 2000 en Mamma die jaar daarna. Ons gesin moes in 2003 van my pa afskeid neem en, vir hom gespaar, in 2004 van ons babasus, Charmie.




Daddy se kunswerke, ‘n selfportret in potlood en ‘n waterverf van die bekende waterwiel van Keimoes, is saam met sy digbundels, sy kinders se trots en onvervreembare erfenis. Hy het diep spore in ons lewens getrap en blywende indrukke op mense gemaak.

Ek eer sy nagedagtenis.


Tot ons weer gesels.

Shirley Rose

 
 
 

Recent Posts

See All
Om 'n gegewe perd in die bek te kyk

Wie hou nou nie daarvan om ‘n geskenk te ontvang nie? Daardie afwagting terwyl jy die pakkie oopmaak en wonder: “Wat sou dit wees?” Die...

 
 
 
Op Robbeneiland

WAS JY AL DAAR? Op Donderdag 20 November 2024 besoek ek en Bertie Robbeneiland. Bertie vir die tweede keer en uiteindelik, my eerste...

 
 
 

Comments


bottom of page