top of page

Moeilike Lewenslesse

Ons lewe hier op die ondermaanse is glo ‘n leerskool en jy kry dieselfde les oor en oor totdat jy dit geleer het. Nog iets wat ons gereeld hoor, is dat jy eers die toets kry en daarna eers, die les.


Hoe dit ook al sy, die lewe is soms moeilik en niemand word oorgeslaan nie. Die geheim, dink ek, is om eerstens so gou as moontlik te ondersoek of daar watter les te leer is uit enige situasie.


Tweedens, wat is jou basis/kern/grondslag? Jou geloof? Jou familie? Vriende? Veerkragtigheid (Resillience)? Ons as mense benodig ander mense, maar soos ons almal al ervaar het, kan mense jou in die steek laat of diep teleurstel.


Derdens, versterk jou veerkragtigheid. Dr. Lucy Hone van Christchurch het navorsing oor veerkragtigheid gedoen en bevel onder andere aan:

      

  • Hou op vra: “Hoekom het dit met my gebeur?” Aanvaar dat slegte dinge met almal gebeur en nou is dit jou beurt.

 

  • Laat jouself beperkte tyd toe vir daardie malende gedagtes wat oor dieselfde ding wroeg. Daardie “As ek maar dit geweet het sou ek nooit dat gedoen het nie.” Doen dan iets aktief om jouself iets anders gee om aan te dink.

 

  •   Indien jy kan kies om iets te doen, vra jouself af: Sal dit goed wees vir my of nie? Doen dan net wat goed vir jou sal wees.


Daar is vele lewenslesse te leer, maar hier is ‘n paar wat ek in my 69 jaar al geleer het:


  1. Moenie jouself met ander vergelyk nie; daar sal altyd iemand wees wat mooier of leliker, slimmer of dommer, ryker of armer, maerder of vetter as jy sal wees.

Aanvaar jouself en werk aan dit wat jy kan of wil verander.



2. Een van die moeilikste dinge vir my was om te leer om “Nee” te sê. Dit is voorwaar ‘n teken van volwassenheid om gesonde grense te stel in verhoudings; persoonlik en by die werk.

Ek het al baie in my lewe “Ja” gesê om ander mense te plesier of om die vrede te bewaar, ten koste van myself. Natuurlik kan ons soms mense akkommodeer en “Ja” sê, maar stel jou grense.



3. Nog 'n uitdaging, veral vir vroue, is om jouself eerste te stel. Dit is in die meeste vroue se aard om veral hul gesin bo hul eie behoeftes te stel. Natuurlik het ons take en pligte as ma en wederhelf, maar onthou dat as jou beker leeg is, het jy niks om te gee nie.  


4. Ouderdom kom met baie veranderinge en daar is baie wat ons kan doen om die proses gladder te laat verloop sonder om tot uiterstes oor te gaan.


Indien jy die geld het, kan jy dinge soos plastiese chirurgie of allerhande duur skoonheids-behandelings ondergaan. Of jy kan jou vel met vogroom versorg en die onvermydelike plooie aanvaar.


Jy kan jou hare kleur tot die dag van jou dood, of jy kan jou hare laat grys word en in ‘n klassieke of modern styl laat sny.


Fisiese uitdagings daag saam met die ouderdom op. Siektes soos Diabetes, Hoë bloeddruk, Artritus/Rumatiek bring skete en pyne waarteen daar tog dinge is wat ons kan doen om verligting te bring. Hoofsaaklik deur ‘n positiewe gees, beweging en ‘n gesonde diëet.

 



5. Perfeksionisme is net ‘n doring in die vlees. Ek het die lewe vir myself baie moeilik gemaak toe ek vroeër jare wou gehad het dinge soos: My huis moet altyd netjies wees; My kinders (en hul kamers) moet altyd netjies wees; Ek moet altyd goed versorg wees; My klaskamer en my administratiewe take moet altyd netjies en op datum wees. Dit was uitputtend om die minste te sê.

Ek het geleer dat perfeksionisme onbereikbaar is is nie en dat ek nie hoef te probeer om perfek te wees nie.



6. Indien jy klaarheid het oor jou waardes en prioriteite, maak dit besluite makliker.

 



7. Los die verlede se foute in die verlede en môre se kwellings vir môre. Bepaal jou by vandag en leef elke oomblik voluit. Dit klink miskien na ‘n cliché en nie so maklik nie, maar mens kan ten minste probeer.


Gee jouself beperkte tyd in die dag om jou te bekommer oor ‘n uitdaging; dink aan moontlike oplossings, maar doen dan iets anders om jou aandag van die situasie af te lei. Om te sit en tob vererger net jou gemoedstoestand en bring geen oplossing.



8. Die waarde van emosionele intelligensie. Dit beteken om jou eie emosies, sowel as die van ander te verstaan. Die 5 sleutel-begrippe van emosionele intelligensie is:

 

1.      Herkenning van jou eie emosies.

2.     Die vermoë om jou emosies te hanteer en te reguleer.

3.     Self-motivering.

4.     Empatie met ander.

5.     Sosiale vaardighede. www.mhanational.org

 

 Emotionele Intelligensie is ‘n voortdurede proses en ‘n konsep waaraan ek nog elke dag moet werk.



9.  My kinders is onlosmaaklik deel van my. Hul lewenslesse ervaar ek dieselfde as wat ek myne ervaar, indien nie meer so nie. Hulle is volwassenes met hul eie lewens, maar dit beteken nie ek kan ooit emosioneel kan wegstaan nie. Ek dink die meeste ouers weet presies waarvan ek praat.



Ek verstaan ook dat mens nie lewenslesse met een poging onder die knie kry nie; ek bly ‘n werk onder konstruksie solank ek leef.


Geniet die reis tot ons weer gesels.

Shirley Rose

 
 
 

Recent Posts

See All
Om 'n gegewe perd in die bek te kyk

Wie hou nou nie daarvan om ‘n geskenk te ontvang nie? Daardie afwagting terwyl jy die pakkie oopmaak en wonder: “Wat sou dit wees?” Die...

 
 
 
Op Robbeneiland

WAS JY AL DAAR? Op Donderdag 20 November 2024 besoek ek en Bertie Robbeneiland. Bertie vir die tweede keer en uiteindelik, my eerste...

 
 
 

1 Comment


mariottehans
Jul 06, 2024

I can relate to these comments that was described so accurately. I am also a work in progress. Thank you for enlightening us of the pitfalls of life and how we can make it easier for ourselves.

Like
bottom of page