top of page

Modes en Styl van my Jeug

Die Modes en Styl van my grootwordjare


Praatjies oor mode en styl was nie juis hoog op die geselslys in ons dorpie nie, mens moes darem net “ordentlik” lyk. Die grootmense het ‘n standaard, klassieke voorkoms gehad, maar die jonger geslag het graag die nuwe modes soos die “skandalige” mini en “beehive”-haarstyl hul eie gemaak.


Almal het huisklere, uitgaanklere en kerkklere gehad wat nie vir ander geleenthede gedra was as vir die doel waarvoor dit gekies is nie. Nuwe klere was gewoonlik kerkklere en soos dit ouer word, is dit afgegradeer vir ander behoeftes. Vroue het kerkhoede gedra, nie noodwendig om stylvol te lyk nie, maar as ‘n teken van respek. Die gebruik was dat vroue hul hoofde moes bedek in die kerk. Hierdie gebruik het later in onbruik verval, maar tot vandag toe is daar nog vroue wat ‘n hoed Sondae kerk toe dra.


Hofskoene met hoe of laer hakke was saam met broekiekouse verpligte bykomstighede by die kerkrok, selfs in die warm somer. Kerkklere was die formeelste kleredrag wat ons geken het. My ma het altyd gepraat van jou “Sunday best”. Mans het ‘n pak en ‘n das gedra en gesweet in die snikhete Noordkaapse somers. Gemeenskapslewe het rondom die kerk gedraai en daar was nie veel ander geleenthede vir “uitgaan” nie.


Die meeste vroue, met die uitsondering van onderwysers, verpleegsters en enkele ander, was huisvroue en het ‘n nylon “overall” as hul daaglikse uniform gedra. Hierdie oorrokke was beskikbaar in groen-, blou-, pienk- en oranje-en-wit geruite patroon of effekleurig. Soms is ‘n doek hierby gedra, meestal vir higiёniese redes terwyl kos voorberei word. Kinders het ook die doek gebruik om hul ma se bui te lees. As dit laag oor haar voorkop was, moes jy maar in jou spoor trap, want dan was haar lont kort en jy wou nie die een wees wat dit laat ontplof nie. Soms was dit maar net so gedra omdat sy hoofpyn gehad het en dan moes ons nie geraas maak nie.


Niemand sou egter droom om in die “overall” iewers heen te gaan nie. Vroue het dan uit die kategorie “uitgaanklere” gekies vir Donderdae se vrouebiduur, inkopies, of om oor naweke by familie of vriende te gaan kuier. Mense was gesteld op hul voorkoms, want dit was vir hulle ook ‘n teken van selfrespek. Deur ons ouers se voorbeeld is ons geleer om netjies te lyk wanneer ons die huis verlaat.


Vandat ek kan onthou, het ek gewens dat ek liewer geleef het in die dekades toe vroue lang, wye hoepelrokke gedra het. Dit was vir my baie mooier en romanties as die modes van die sewentigs, toe ek ‘n tiener was. Selfs die modes van die vyftiger jare was vir my mooier en vrouliker as sjoebroekies en klokbroeke. My antie Lenie het “bellbottoms” beskryf as “broeke met ‘n “skirt” aan elke been”. Minirokke was ook nog gewild, maar darem nie meer so erg kort nie.


Nog ‘n mode was om geel en pers saam in ‘n uitrusting te dra. ‘n Groepie van ons hosteliete op Zonnebloem het besluit om self vir ons geel pofmou-bloese te maak. Ek het myne met my pers koordverweelbroek gedra terwyl ander meisies dit met hul pers maksi- of minirompe of broeke gekombineer het. Sjoebroekies was nie toegelaat op St. Claire-Koshuis nie, maar ‘n paar waaghalsiges het dit gewaag tydens hul af-Sondae of -naweke. Maksi-rompe of -rokke was omtrent al mode van die sewentigs waarvan ek gehou het.


Toe ek in 1973 begin skoolhou het, het ek my karige salaris omtrent in totaal op klere gespandeer. Ek het nog altyd daarvan gehou om mooi aan te trek en toe kon ek dit elke dag doen as ek gaan werk. My kerkklere was nog steeds net vir Sondae. My hakke moes verkieslik hoog wees en vandag het ek die eelte en liddorings om te wys vir daardie plesier.


Daar was mettertyd meer geleenthede om op te tof toe ons kon gaan fliek, dans of lekker huispartytjies hou. Om met klere te speel was ‘n bron van plesier en ek het nooit moeg geword om interessante kombinasies uit te toets nie. My kleresmaak was nooit waaghalsig of op die voorpunt van die mode nie, maar dit was ook nie vervelig nie.


Een van my gunsteling-rokke.

Het jy 'n klerefilosolfie of nie? Hoeveel tyd, indien enige, spandeer jy om te beplan wat jy gaan dra?


Praat saam asseblief en deel gerus die skakel na my blog.


Geniet ‘n stylvolle dag tot ons weer gesels.


Shirley Rose











27 views

Recent Posts

See All
bottom of page