top of page

Maastricht, Bostogne, Luxembourg, na Belgie:

Ons toer deur die Lae Lande Deel 3


Maandag besoek ons Maastricht en loop op die groot plein waar André Rieu sy skouspelagtige konserte uitvoer. Maastricht spog ook met pragtige ou kerke, ou handelaarshuise en selfs die oorspronklike antieke muur om die stad. Een van die ou kerke word vandag as ‘n boekwinkel gebruik.



Na ‘n ligte middagete van geroosterde toebroodjies, vertrek ons na Bastogne waar die “Battle of the Bulge” gedurende die Tweede Wêreldoorlog plaasgevind het.


Later die dag besoek ons die 12de eeuse Cistercian Orval Abbey met ‘n ryk geskiedenis en een van die min brouerye wat nog beroemde Trappist bier brou. Daar is verskeie voorwaardes waaraan Trappist bier moet voldoen: dit moet onder andere in die klooster deur Trappist monnike wat daar woon, gebrou word. Slegs ‘n beperkte hoeveelheid Trappist bier word nog tradisioneel gebrou en word teen aardige bedrae verkoop.


Ons gids vertel die legende van Mathilde wat haar goue trouring per ongeluk in die fontein naby die Abbey laat val het. Soos alle sprokies eindig dié een ook goed, want ‘n vis het haar ring in sy mond vir haar teruggebring. Die fontein is toe na Mathilde vernoem en ‘n vis met ‘n ring in sy bek is die embleem van hul Trappist bier.


Ons sluit die besoek af met kaas en ‘n proesel van die beroemde, peperduur Trappist-bier. Almal stem saam dat die bier besonder goed is, maar min mense sal dit kan koop teen ongeveer R1021,67 vir twaalf bottels of R93 per glas.



Die laaste skof van die dag neem ons na ons hotel in die Hertogdom van Luxembourg waar ons die aand getrakteer word met ‘n heerlike buffet-ete. Luxembourg is een van die kleinste lande in Europa en het in 2023 ‘n populasie van 660,809, waarvan die helfte van ander lande afkomstig is.


Groothertog (Grand Duke) Henri is die konstitisionele monarg van hierdie skilderagtige hertogdom wat in 1994 tot ‘n UNESCO World Heritage Site verklaar is. Luxembourg het ontwikkel tot ‘n skatryk land met van die hoogste GDP per capita. Luxembourgish, Frans en Duits is die drie amptelike tale en indien jy hier wil kom werk, moet jy twee van die drie magtig wees. (Wikipedia)


Ons vergaap ons aan die Paleis met sy Vlaams-Renaissance fasades, die asemrowende uitsig vanaf “die mooiste balkon in die wêreld” waar jy afkyk op die kloof tussen die Alzette en Petrusse riviere en geniet dit om die atmosfeer van hierdie besondere land te beleef.




Dinsdagoggend besoek ons die Luxembourg American Cemetry en Memorial waar Generaal George S. Patton en honderde soldate se grafte met wit kruise aangedui word. Hierdie rusplek is die stille getuie van so baie wat hul lewens vir hul land in die Tweede Wêreldoorlog geoffer het.



Ek sit uit vir die opsionele uitstappie na die antieke Romeinse stad Trier, in die suid-weste van Duitsland. Trier is onder andere, bekend vir ou Romeinse geboue wat behoue gebly het soos by Port Nigra en die stad is ook die geboorteplek van Karl Marx.


Bertie besluit om in Trier die tradisionele Duitse sauerkraut en varkskenkel met aartappels te proe. “Die sauerkraut het ‘n suur strepie, maar nie te erg, net reg. Die varkskenkel was lekker – nie geurig nie, maar los van die been. Die aartappels was niks om oor tekere te gaan nie.”, is sy bevinding.



Woensdag ry ons deur België en stop vir ‘n wyle in Dinant, die geboortedorp van Adolphe Sax, uitvinder van die saxofoon. Die hele dorpie, nie net die museum, is ‘n ode aan Adolphe Sax en sy uitvinding. Daar is byvoorbeeld oral afbeeldings van saxofone en dit, sowel as die naam Adolphe Sax, word ook in vele name van eetplekke en winkels gebruik.



Ons verlaat die skilderagtige Dinant en sien uit na ons volgende stop: Brugge.


Lees volgende keer die laaste aflewering van ons onvergeetlike toer deur die Lae Lande.


 
 
 

Recent Posts

See All
Om 'n gegewe perd in die bek te kyk

Wie hou nou nie daarvan om ‘n geskenk te ontvang nie? Daardie afwagting terwyl jy die pakkie oopmaak en wonder: “Wat sou dit wees?” Die...

 
 
 
Op Robbeneiland

WAS JY AL DAAR? Op Donderdag 20 November 2024 besoek ek en Bertie Robbeneiland. Bertie vir die tweede keer en uiteindelik, my eerste...

 
 
 

Comentarios


bottom of page