Luister jy of hoor jy net?
- ferisshirley
- Mar 16, 2022
- 3 min read
Updated: Mar 23, 2022
OORLOG: DIE GEVOLG VAN GEBREKKIGE KOMMUNIKASIE?
Daagliks word ons met nuusberigte en beelde van die oorlog in Oekraïne gekonfronteer. Elke verwoeste gebou, huilende kind, sukkelende oumens en moedelose gesig beeld in volkleur die tragiese gevolge van oorlog uit.
Redes en argumente waarom die Rusland tot hierdie stap oorgegaan het, oortuig my nie dat sulke vernietiging ooit die antwoord kan wees nie. Voel Putin op die stadium dat die Weste nie na hom geluister het nie? Voel hy bedreig?
Hoe is dit dat ons in hierdie eeu nog nie geleer het hoe om probleme op ‘n vreedsame manier op te los nie? Luister die mense in beheer van die groot moondhede hoegenaamd na mekaar of praat hulle by mekaar verby met dodelike gevolge? Of is dit ‘n geval van ‘n despoot wat eise stel en nie belangstel in onderhandelinge nie?
Kommunikasievaardighede kan aangeleer word en my vurige hoop is dat kinders en jongmense hierdie vaardigheid onder die knie sal kry. Die vermoë om jou behoeftes en gevoelens in woorde te kan uitdruk, is net so noodsaaklik as die diepe verlange om deur andere gehoor en verstaan te word.
Ons is nie, soos vandag se kinders, al vanaf Gr. R (of selfs nog daarvoor) geleer om ons eie gevoelens ‘n naam te gee nie. “Kwaad”, “hartseer”, “moeg”, “bang” ensovoorts moes ons maar self uitwerk en dan mag jy dit ook nie wys of uitspreek nie, veral nie as jy kwaad is nie. As kind moes ek gereeld hoor: “Maak reg jou gesig!” ”Stout” kinders het miskien net nie die vermoë en woordeskat om te sê wat hulle pla nie.
Dit is so belangrik dat kinders van kleins af geleer word dat elke mens geregtig is op sy/haar gevoelens, maar dat daar aanvaarbare asook onaanvaarbare maniere is om jou gevoelens uit te druk. Daar is mense wat “stilstuipe” kry in plaas van om hul gevoelens in woorde uit te druk. Persoonlik is dit iets waaraan ek nog daagliks moet werk.
Baie van ons wil tog net die vrede bewaar en bly daarom liewer stil, maar jy is dit aan jouself sowel as die ander party verskuldig om in duidelike taal (en met respek) te kommunikeer wat jou pla. Hoe die ander person optree, is ongelukkig nie binne jou beheer nie, maar dit help niemand as jy uit vrees vir ‘n uitbarsting liewer die saak onder die mat invee nie.
Binne gesinsopset behoort elke lid op sy/haar opinie geregtig te wees, met dien verstande dat ‘n opinie nie noodwendig ‘n feit is nie. Kinders moet leer om met mekaar en met grootmense te kan verskil en te redeneer. Grootmense behoort die wysheid, kennis en vaardighede te hê om kinders te kan oortuig waar nodig, maar ook om te aanvaar dat jy en jou kind nie altyd sal saamstem oor dinge nie. Teen die tyd dat kinders die huis verlaat, behoort gesinswaardes die kind se gedrag te onderlê.
Terwyl kinders op skool moet leer om met ander oor die weg te kom, vereis die werksomgewing later in hul lewe, kommunikasievaardighede op ‘n meer gevorderde vlak. Hier word die werksklimaat grotendeels deur die etos van die maatskappy bepaal en hoe dit deur die bestuurders toegepas word.
‘n Goeie leier is elke sent van sy/haar hoë salaris werd. Hierdie mense moet lei deur voorbeeld en goeie kommunikasie en kan werkers inspireer of afbreek. Onderlinge respek vir verskille is ononderhandelbaar en die verskillende persoonlikhede moet met omsigtigheid bestuur word. ‘n Swak leier kan ‘n hele onderneming se groei kniehalter of selfs laat misluk.
Die redes vir Rusland se inval in Oekraïne word in ‘n artikel deur Paul Kirby op BBC News se webtuiste in verstaanbare taal uiteengesit. (Daar is natuurlik nog vele artikels oor die oorlog op ander webwerwe ook beskikbaar.) Dit bring my terug by die vraag: Kon die oorlog deur beter kommunikasie oor die jare vanaf 1994 voorkom word?
Daar word steeds samesprekings gehou om die oorlog te beëindig, maar dit loop elke keer dood, want hoe onderhandel partye as daar nie gee en neem is nie? Onverbiddelike eise behoort nie op die onderhandelingstafel nie. Ongelukkig is die gevolge van mislukte kommunikasie op hierdie vlak katastrofies. Die man op straat wat geen inset gehad het nie, moet dan maar met die tragiese gevolge saamleef.
Daar is geen wenners in ‘n oorlog is nie. Ek glo steeds dat elke mens, of jy ‘n leier is of nie, wel ‘n verskil kan maak daar waar jy is. In jou gesin, werksomgewing, kerk, verenigings, watter platform ook al tot jou beskikking is, skerp op jou kommunikasievaardighede op en gebruik dit.
“’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ‘n krenkende word laat die toorn opkom.” Spreuke 15:1
Van my kant af, vrede vir julle.
Tot ons weer gesels.
Shirley Rose
Comments