top of page

Legendes, tradisies en simbole

Updated: Aug 24, 2022

Waardevol of nutteloos?


Vanaf die vroegste tye het mense probeer sin maak van gebeure en natuurverskynsels rondom hulle. Legendes het ontstaan en simbole was gekies om gebeure, emosies of fisiese verskynsels uit te beeld en te verklaar.

Simboliese eienskappe was toegeken aan diere, stene, voels, blomme en ander dinge uit die natuur. Die son byvoorbeeld, is gesien as die universele vader en die maan as die universele moeder. Die son het lewe, krag en glorie voorgestel en was deur antieke Egiptenare en Babeloniers aanbid.


Vandag nog word universele eienskappe aan simbole toegeken en word eeue-oue rituele of aanpassings daarvan steeds uitgevoer. Die troukoek byvoorbeeld, is 'n lang tradisie wat dateer uit die antieke Romeinse tyd en die Middeleeue. Die sny van die koek verteenwoordig die eerste aktiwiteit wat die paartjie saam doen. In die verlede het die bruid dit alleen gedoen om die verlies van haar maagdelikheid te simboliseer. Wanneer die bruid en bruidegom mekaar 'n stukkie troukoek voer, simboliseer dit 'n verbintenis om voorsiening te maak vir mekaar.


Instansies, sportspanne, politieke partye, skole ensovoorts kies 'n simbool en of slagspreuk om hulle te verteenwoordig. Die meeste Suid Afrikaners kan die sportspanne en politieke partye in ons land se simbole herken. Hierdie simbole ontwikkel gewoonlik organies uit die geskiedenis en daarom krap dit baie mense om as daarmee gepeuter word. Daar was byvoorbeeld groot ongelukkigheid oor die moontlike verwydering van die springbok as die embleem van Suid Afrika se nasionale rugbyspan.


Die kruis staan sentraal as simbool van die Christelike godsdiens. Ander simbole soos kerse verteenwoordig Jesus as die lig van die wereld en duiwe simboliseer die heilige gees, onskuld en reinheid. 'n Duif wat 'n olyftak in sy snawel dra, simboliseer vrede, nuwe lewe en hoop.


Kerse het ook 'n diep simboliese betekenis in ander gelowe soos Judaisme. Kerse word Vrydagaand voor sononder en Sabbat, aangesteek in elke Joodse huis en sinagoge en 'n spesiale Havdalah-kers aan die einde van die Sabbat om die begin van 'n nuwe week te verteenwoordig.


Deur die jare heen het mense vir hulself 'n persoonlike talisman gekies. Ek twyfel of baie noodwendig glo dat daar enige magiese kragte in skuil, maar die eienskappe wat deur hierdie simbole verteenwoordig word, kan dien as inspirasie en aanmoediging op die lewenspad.


Kristalle en edelstene word gesien as draers van energie en word deur baie mense gebruik in verskeie praktyke. Selfs kleure, so word geglo, het 'n uitwerking op die emosies; nie net van die persoon wat dit dra nie, maar ook diegene rondom hom of haar. Ons assosieer byvoorbeeld blou met kalmte en rooi met energie en passie.


Mense gebruik baie simbole in hul alledaagse lewe. Getroudes en verloofdes dra ringe om hul verbintenis te simboliseer, maatskappye het kleure en uniforms waaraan hulle uitgeken kan word, die simboliese sleutel na volwassenheid word vandag nog aan baie mondiges oorhandig. Die motor waarmee jy ry is vir baie 'n simbool van hul welvaart en status.


Die Kerk, skole, kollege en universiteit wat my help vorm het, het met hul wapens en leuses my pad gerig tot nou. Die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA), met 'n lighuis, Bybel, kombers en anker binne 'n onvoltooide sirkel as embleem, vorm die basis van my komvandaan. Die leuses van Primêreskool Môrelig:"Ora et Labora" (Werk en Bid), Zonnebloem: "Ut filii lucis ambulate"(Let us walk as children of the light) en Unisa: "Pro Gentibus Sapientia" (Learning in service to humanity) het ek aangeneem as my eie.


Of ons darvan hou of nie, die simbole in ons lewe praat 'n taal van hul eie; van die materiële tot die geestelike. Die Bybel verklaar dat jy herken sal word aan die vrugte wat jy dra: Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing, is die vrugte van die Gees. (Galasiers 5:22-23)


Het jy persoonlike simbole of rituele wat vir jou belangrik is?

Tot ons weer gesels, groetnis.


Shirley Rose


35 views

Recent Posts

See All
bottom of page