Laaste skof deur die Lae Lande
- ferisshirley
- Nov 13, 2023
- 4 min read
Updated: Nov 21, 2023
Brugge, Ghent, Brussels en Antwerp
Na Dinant, kom ons uiteindelik Woensdag aan in een van die hoogtepunte (vir my) van die toer: die prentjiemooi Brugge met sy kanale en Gotiese fasades.
Aandete is by Molenspoort, een van die talle restaurantjies naby ons hotel. Ek kies ‘n tradisionele beesgereg wat in bier gestowe word, maar dit is toe nie die sappige dis wat ek verwag het nie. Bertie se waaghalsige keuse, ‘n konyndis, verklaar hy ook as “droog”. ‘n Tradisionele Mosselpot is glo baie lekker en een van ons toerlede wat dit probeer het, beaam dit.
Donderdag word ons op ‘n staptoer deur Brugge begelei deur ‘n plaaslike gids en ek kan nie bybly met fotos neem nie, want elke toneel is ‘n prentjie. Sy vertel onder andere van die tradisionele leefwyse daar en hoe die huise langs die Reie-rivier se planne daarvolgens aangepas is. Daar is byvoorbeeld ‘n “boye” aan die agterkant van die huis waar vis gaargemaak was om onwenslike reuke uit die res van die huis te hou.
Ons sien die huis van Jan van Eck, die beroemdste inwoner van Brugge en die eerste skilder wat met olieverf begin skilder het. Ons stap later verby ‘n standbeeld van diè kunstenaar op die Jan van Eck-plein.
Die ou geboue rondom die plein vertel die verhaal van die leefwyse van die middelklas sowel as die rykes van daardie tyd. So het van die ryk mense se huise sowaar torings (soos kerke s’n) gehad, want hoe hoër die huis, hoe ryker die eienaar, is geglo. Sommige mense het selfs vals hoë fasades aan die voorkant van hul huise gebou om die indruk te skep dat die huis hoër is as wat dit in werklikheid is.
Later verwonder sommige van ons ons aan die ingewikkelde metode om Brusselse kant met die hand te maak. Dit neem glo ongeveer drie jaar om die tegniek onder die knie te kry. Deesdae word kant deur masjiene gemaak en is handgemaakte kant peperduur asook ‘n kuns wat seker mettertyd sal uitsterf.
Na die kant-demonstrasie en 'n ligte middagete, stap ons na Pralinette, 'n sjokolade winkel. Madame De Baets neem ons deur die proses van boon tot sjokolade. Haar man, Fangio de Baets, is die Master Chocoatier van L’Atelier du Chocolat, Pralinette. Ons proe ‘n verskeidenheid van die lekkerste, handvervaardigde Belgiese sjokolade en truffels.
Volgende is ‘n besoek aan die Mouterij bierbouery waar ons, na ‘n toer deur die brouery, ‘n bier-proe gaan geniet. Ons proe die biere Bruinen os, Bourgogne de Flanders en Blonden os. Ek is glad nie ‘n bierdrinker nie, maar vind die eerste twee heel lekker. Die laaste een is bietjie bitter, maar dit is weer Bertie se gunsteling.
Vrydag vertrek ons na Ghent, die middeleeuse hawestad waar ons die drie beroemde kerktorings van St. Niklaas Kerk, The Belfry en St. Bavo’s Katedraal kan sien. Terwyl ek (flou) tee drink by Caffè Rosario, stap Bertie en sommige toerlede deur die stad saam met ons toerleier, Gerwin. My voete is te seer vir nog 'n staptoer.
Oppad na Brussels, sien ons die indrukwekkende Atomium, ‘n moderne struktuur wat vir die 1958 Brusselse Wêreld Ekspo gebou is. Dit is nou ‘n gewilde toeriste aantrekkingskrag en dien as ‘n museum, kussentrum en kulturele bestemming.
Ons volgende stop is die finansiële sentrum van België, Antwerp. Die stad is die middelpunt van die diamant-industrie en die eerste Beurs (Stock Exchange) was in 1460 hier geopen. Volgens legende kom die stad se naam van die Nederlandse woord “handwerpen”.
‘n Reus genaamd Antigoon was die oppasser van die brug oor die Scheldt-rivier en almal moes betaal om die brug oor te steek. Enigiemand wat nie kon betaal nie, se hand is deur die reus afgekap en in die rivier gewerp. “Handwerpen” het toe “Antwerp” geword.
Antigoon het sy skrikbewind gevoer totdat ‘n prins sy kop afgekap het, daarna die reus se hand ook afkap en in die rivier gooi. Daar is ‘n reuse standbeeld op die stadsplein wat die heldedaad uitbeeld.
In die grootste Gotiese Katedraal in Belgie, sien ons die mooiste kunswerke van Peter Paul Rubens, kosbare gebrandkilderde glasvensters, die fynste houtsneewerk en talle ander kunswerke. Voor die katedraal is daar is daar ‘n beeldhouwerk ter ere van die argitek Appelmans, wat nooit die voltooide gebou in sy leeftyd gesien het nie.
Terug in Brussels, vleg ons deur ‘n menigte toeriste deur ‘n groot winkelsentrum Galleries Hubert, wat talle luukse winkels huisves. Ons beur ons weg oop na die standbeeldjie van die beroemde “Manniken Pis”. Die beeldjie is slegs 55.5 cm hoog, maar is ‘n bekende landmerk in die middel van Brussels.
As teenpool vir die “Mannekin Pis”, is die beeldjie “Jeanneke Pis” in 1987 deur die kunstenaar Denis-Adrien Debouvrie opgerig.
Saterdagaand vier ons met ‘n afskeidsete by die Aux Armes De Bruxelles Restaurant en verkeer ons vir oulaas gesellig saam. Vir die eerste keer geniet ek elke kriesel van die kos uit die spens van die Lae Lande.
Elke dis is perfek voorberei en al my tafelgenote stem saam. Die les is seker dat die voorbereiding van kos vir duisende toeriste is nie noodwendig altyd verteenwoordigend van die land se cuisine is nie en dat die restaurant se chef ‘n groot verskil maak.
Die volgende dag vertrek die meeste van ons reisgenote; sommige op nóg ‘n toer, die meeste keer terug huistoe na Amerika, Kanada en Australië. Ons het ‘n pasella dag beplan en geniet die laaste dag in Brussels rustig op ons eie. Ons slenter later die dag deur die Sondagmark op die plein voor die Sofitel Hotel wat die vorige paar dae ons tuiste was.
Die toer was uitputtend, want die dae was propvol aktiwiteite en ervarings wat min gelukkiges kan ervaar. Iemand het iewers geskryf dat reis 'n ervaring is wat jou, al is jou beursie leeg, ryker laat voel. Sela, beslis ‘n belewenis wat ek aanbeveel.
So kom ons ervaring deur die Lae Lande tot ‘n einde. Baie dankie aan almal wat saamgereis het.
Tot volgende keer.
Shirley Rose
Comments