top of page

Kyk na my

SIEN JY MY?


“Mamma, kyk vir my!” Vir ons wat ma’s is, klink die woorde maar alte bekend. Kinders se roep na aandag; hulle wil raakgesien wees. Hulle wil weet Ma is daar, al is dit net in die agtergrond, maar tog binne bereik as hulle haar nodig het.


Kinders kom baie gou agter as ons hulle net weghelp en nie regtig aandag skenk nie. My skoonsus se seuntjie het haar eie woorde aan haar ge-eggo tydens ‘n gesprek tussen hulle: “Can you repeat what I just said?”



Dit is nogal ‘n kuns om jou onverdeelde aandag aan iemand te gee en soms probeer ons voorgee dat ons luister, maar eintlik flous jy niemand nie. Mense kom gou agter as jy nie regtig luister nie. Daar is seker nie ‘n groter kompliment wat jy iemand kan gee as jou onverdeelde aandag nie.


Ek is seker jy het al so ‘n person ontmoet. Iemand wat tydens ‘n gesprek na jou luister en jou raaksien. Iemand wat nie met ‘n halwe oor luister en “ongemerk” soek na ‘n ander gespreksgenoot nie.


Daar is ‘n spreekwoord wat lui dat mense mag vergeet wát jy gesê het, maar hulle sal nooit vergeet hoe jy hulle laat voel het nie. Hoe laat jy jou kind voel as hy of sy by die vertrek inkom? Verhelder jou gesig? Hoe laat jy mense voel wat by jou huis inkom? Voel hulle welkom?


Elke mens wil na waarde geag word, maak nie saak wie of wat hy of sy is nie. Waardig, net omdat jy ‘n mens is. Te maklik word mense onder andere oumense, siekes, gestremdes, bedelaars, huiswerkers, of net omdat jy nie “bekend” is nie, minder mens laat voel. Verdien elke mens nie respek nie?



Ek onthou die boek “LOOK AT ME” (Desember 2007), wat Marlene le Roux saamgestel het met treffende fotos van gestremde vroue, afgeneem deur die internasionaal bekende fotograaf, Lucie Pavlovich. Sy noem dat ‘n vrou met ‘n gestremdheid soms nie as vrou raakgesien word nie. Hierdie boek dwing mense om die vroue en nie hul gestremdheid nie, raak te sien. Wat ‘n inspirasie is dit!


My filosofie is dat alle mense gelyk is en dat almal respek verdien. Hoewel ek persoonlike prestasies erken asook erkenning kan gee aan die harde werk wat sulke prestasies vooraf gegaan het, is dit tog nie al wat jou respekwaardig maak nie. Jy is ‘n mens, jy verdien respek. Die respek om ráákgesien te word.


My filosofie ten spyt, dit is soms bitter moeilik om respekvol te wees teenoor iemand wat nie respek “verdien” in ons oë nie. Egoiste, ongemanierdes, moordenaars, aanranders, noem maar op. Die kwotasie hierbo stel dit baie goed: "Vergewis jou van die feite voor jy aannnames maak. Voor jy oordeel, probeer verstaan. Voor jy iemand se gevoelens seermaak, plaas jouself in sy/haar skoene. Dink voor jy praat."


Jesus stel die voorbeeld hoe om mense raak te sien en hoe om ander met menswaardigheid te behandel. Iemand soos Nelson Mandela dit ook reggekry, daarom is hy my rolmodel. (Dit is soos almal weet, maar een van sy karakter-eienskappe.)



Dit is moeilik om ‘n (verfoeilike) daad van die persoon te skei, mens kan maar net probeer. Ek hét al my humeur verloor en my medemens nie met die nodige respek behandel nie, maar ek werk daaraan. Soos ek ouer word, raak dit bietjie makliker. Dis ‘n kuns om sterk genoeg te wees sodat iemand anders se karakter nie jou optrede bepaal nie.


Ons praat nou hier van mense met wie jou paaie in die alledaagse lewe kruis. Dit beteken nié om mense permanent in jou lewe toe te laat wat jou nie respekteer nie. Verhoudings tussen mense kan net bestaan indien daar wedersydse respek is.


Om as mens te groei en sterk te staan teen die aanslae van die lewe, verg geweldig baie van ons. Kyk om jou en jy sal mense sien wat omstandighede en probleme oorkom wat iemand anders sou platslaan. Word deur hulle geinspireer en leer by hulle, dit is een doel van ons lewe op aarde.


Hopelik kan ons mekaar help om staande te bly deur mekaar in die oë te kyk en te sê: "Ek sien jou."


Met alle respek, tot ons weer gesels.

Shirley Rose

 
 
 

Recent Posts

See All
Om 'n gegewe perd in die bek te kyk

Wie hou nou nie daarvan om ‘n geskenk te ontvang nie? Daardie afwagting terwyl jy die pakkie oopmaak en wonder: “Wat sou dit wees?” Die...

 
 
 
Op Robbeneiland

WAS JY AL DAAR? Op Donderdag 20 November 2024 besoek ek en Bertie Robbeneiland. Bertie vir die tweede keer en uiteindelik, my eerste...

 
 
 

1 Comment


Damell Jackson
Damell Jackson
Sep 30, 2022

hi

Like
bottom of page