Kleintyd in Cilliers en Lutzburg
- ferisshirley
- Dec 5, 2023
- 6 min read
Updated: Jul 8, 2024
SONNETJIE
Die eerste jare van my kleintyd was idillies, want daar was ‘n oorvloed van liefde en warmte.

Ons gesin het in twee vertrekke gewoon aangrensend aan die huis van die Saals. Antie Miemie, Mamma se suster, was getroud met uncle Saal en hulle was alreeds ‘n gesin van ses toe my ma en pa daar gaan woon het.
Ek en my broer, Robbie (Robert), het saam met neefs en niggies, wat vir ons meer soos broers en susters gevoel het, opgegroei. Ons twee gesinne het lekker saamgewoon en soms saam op uitstappies gegaan. Ek onthou uitstappies na die Augrabies waterval en die warmwaterbron op Riemvasmaak.
Uncle Saal was hoof van die tweeman-skooltjie op Cilliers, ‘n buitewyk van die dorp Kakamas en my pa het as die ander onderwyser daar begin skoolhou. Mamma en antie Miemie was huisvroue, soos die meeste vroue in daardie era.
Die twee susters kon baie lekker saam kuier en saam lag, soms dat die trane rol. As kind was dit vir my fassinerend om te sien dat mens kan lag dat die trane loop; trane en hartseer of seerkry gaan mos gewoonlik saam, dan nie?
Uncle het 'n gewoonte gehad om, as hy my sien, in so 'n sangerige stemtoon te begin sing: "Son,Son, Son, Sonnetjie!" Die gevolg was dat die Saals my toe "Sonnetjie" begin noem het. Toe Valerie later bykom, was Uncle se liedjie vir haar: "Sy's klein, sy's fyn, sy's wonderlik!"
Na ‘n paar jaar het Daddy hoof geword van die tweeman-skooltje op Lutzburg, ‘n naburige buitewyk van Kakamas. Mev. (Juffrou) Swain was die ander onderwyser. Sy het my bekend gestel aan Boet, Sus en kie. van die Sub. A-leesboek-faam. Ek het elke dag skool toe gedwaal en is toe sommer op vyfjarige ouderdom al vir Sub. A ingeskryf.
Die vriendskap tussen ons en die Saals het voortgegaan sonder onderbreking.
Sondae is daar beurte gemaak om bymekaar te kuier. Dit was vir my tog te lekker om in die kombuis na Mamma en antie Miemie se geselskap te luister. Waaroor hulle gepraat het, kan ek nie onthou nie.
Wat ek wèl onthou, is die gekoesterde, atmosfeer van grootmense wat gesels en kinders wat speel, omgewe met die geure van middagete. Gebraaide boud en aartappels in die oond, soet pampoen, groenboontjies en gewoonlik jellie en custard of gebakte poeding (in die winter) vir nagereg.
Teetyd was daar altyd koek en tee. In die somer was daar keuses tussen stroopsoet waatlemoen en spanspek, die sappigste Kakamas-perskes, druiwe en vye. Vakansie-tye het ek soms alleen of saam met Robbie vir ‘n paar dae by die Saals gaan kuier.
Dié vakansie-kuiers was die lekkerste lekker. My niggie Ansie was ook my beste maatjie, al was sy ‘n paar jaar ouer as ek. Ons het gespeel en soms is ons gestuur om melk by een van die mense wat ‘n melkkoei gehad het, te gaan koop. Wintertyd het ons lemoene gaan koop by oubaas Koppiekop.
Die ander groot lekkerte vir my, was die boeke en tydskrifte (Die Brandwag en Huisgenoot), sommige al jare oud, by die Saals. Daar was so ‘n klein buitekamertjie vol van hierdie juwele. Ek kon lees nog voor ek begin skool gaan het en van toe af was lees, my geliefkoosde tydverdryf. Soveel so dat Ansie soms vir my vies geword het omdat my neus gedurig in ‘n boek was.
Saans het ons met groen Palmolive-seep gewas, ‘n Geur wat ek vir altyd daarna met die Saals sou assosieer. Na aandete was daar huisgodsdiens gehou. Uncle Saal het uit die Bybel gelees en daarna het ons by ons stoele gekniel en elkeen het ‘n kans gekry om te bid. Ons kinders het almal dieselfde gebed opgesê: “Liewe Jesus maak my hartjie rein, en gehoorsaam en soet. Amen.”
Ek onthou ook die mooi sionsgesange wat ons gesing het om die huisgodsdiens af te sluit.
Die gebedjies het seker gewerk, want ons was ongelooflik “soet”. Ek kan glad nie van enige bakleiery of stryery onthou nie en ek onthou ook geen pakslaes nie. Dit was ondenkbaar om enigiets wat “die grootmense” sê, te bevraagteken.
Nie nig Ansie nie. Was sy parmantig! Sy en antie Miemie was die enigste mense wat ooit gestry het. Ek kon nie glo as Ansie teruggepraat het nie en het gewens dat sy tog liewer net stilbly. Vandag weet ek dat dit gesond is dat ‘n kind ook ‘n opinie het en dat dit beslis gehoor mag word.
Die predikant op Kakamas was Ds. Sinclair. Hy het volgens ‘n vasgestelde program, die Sondagdiens in die skooltjie op Lutzburg kom waarneem. Die ander Sondae het Daddy die boodskap gebring en selfs ten tye begrafnisse waargeneem. Mamma het Donderdae die Susters-bidure gelei. Vir die Nagmaaldienste, Paasfees en Kersfees, het almal die kerk op die dorp bygewoon.
Dis nou almal behalwe Uncle Saal en Mnr. Horne, die skoolhoof op Kakamas. Hulle het ‘n uitval met die dominee gehad, nie dat ek ooit uitgevra het waaroor nie. Ek kon wel later aflei dat dit oor oor die algemeen patronistiese, disrespekvolle houding van Ds. Sinclair was. Die dominee het ook nooit op Cilliers gaan preek nie. Daar was ‘n ouderling, oom Petrus, wat op Cilliers dié taak verrig het.
Die Sondae wanneer ons nie op Cilliers gaan kuier het nie, het ons die namiddag by die mense van Lutzburg gaan kuier. Ons huis en die skool was effens eenkant, min of meer ‘n kilometer van die woonbuurt af. “Meester” en “Miesies” was altyd hartlik by almal se huise verwelkom.
Ons eerste stop was oom Ernest (uitgespreek “Ễnis”) en ant Lya wat my “Salpoppie” genoem het. Hul dogters, Pop en Kerliet, het vir die grootmense tee gemaak.
Volgende stop was oom Tôtie en ant Tietie waar daar gereeld ‘n geskater van die lag was. Oom Tôtie het die skerpste sin vir humor gehad.
So nou en dan het ons ook by oom Ernest se ander seun, oom Nicky en sy vrou ant Doll, gaan kuier. Ek en Robbie het rondgeloop tussen die skoolmaats. (Wanneer ek nie grootmens-geselskap geluister het nie.)
Sommige naweke het Daddy en Mamma gaan tennis speel in Kakamas, en dan het ons by die Horne-gesin gekuier. Ek onthou ook die Brand- en Croy-gesinne.
van Kakamas.
Die Horne’s was ‘n groot gesin en almal was maats en vriende. Gerrit, die oudste seun, was later saam met Bertie op Carlton van Heerden in Upington, asook op UWK en het goeie vriende geword. Gerrit het selfs ons troukar bestuur in 1977.
Naby ons huis in Lutzburg was ‘n klipkoppie wat ons kinders gereeld gaan klim het. Daar was ‘n grot in die kop en dit was lekker om daar te gaan sit en die wêreld daar van bo af te bekyk. Kakamas is aan die oewers van die Oranjerivier geleë en daar was wingerde en groen lusernlande so ver soos die oog kon sien.
By die watervoor naby ons huis het ons soms gaan piekniek hou en lekker in die water gespeel het. Ons het ons eendag boeglam geskrik vir 'n likkewaan in die einste watervoor.
(Op die foto's hierbo is twee van Mamma se susters, Antie Hannie en Antie Rosie. Op die tweede foto is Uncle Gert en antie Rosie saam met Robbie en Merle op hul verlowingspartytjie. Op die derde foto is Mamma se broer oompie Floors Bock en sy vrou, antie Bettie.)
Daar is ‘n ouderdomsgaping van ses jaar tussen my en my broer Robbie. Sy maats was almal ouer as ek en al was ek soms die lastige klein sussie, was daar ‘n hegte band tussen ons. Robbie het ook, toe ek groter was, my agter op sy fiets gelaai en na die biblioteek op Kakamas geneem.
My suster Valerie, wat vier jaar jonger as ek is, en broer Tony (Anthony), vyf jaar jonger, is op Lutzburg gebore. Tony was ‘n sieklike baba en het baie gehuil. Valerie was omtrent ook nog ‘n baba en Daddy het min of meer haar versorging oorgeneem, want Mamma het haar hande vol gehad met Tony.
Ek kan onthou hoe Daddy altyd saans vir Valerie aan die slaap gesing het. Een van sy gunstelinge was “Moon River”. Ant Noi’ntjie, een van die kerksusters, het later haar eie liedjie opgemaak:
“Valerie’tjie, Meester sinne (s’n), Meester het iets, Miesies het niks. Tony’tjie, Miesies sinne, Miesies het iets, Meester het niks.”
Tony het darem later, danksy Dr. Wessels, ‘n smeer-ouma en al wat raat is, ‘n gesonde seuntjie geword. As gevolg van die klein ouderdomsverskil tussen Valerie en Tony, het hulle tweetjies ‘n noue band ontwikkel. Tony het vir Valerie "Doewie" genoem, vir Daddy was sy "Valletjies" en vir albei van hulle was ek "Ousus".
Mens se vormingsjare is so belangrik en ek dink dat mens gepantser is teen baie terugslae wat jy op die lewenspad teëkom, indien jy ‘n gesonde kleintyd gehad het. Die jare op Cilliers en Lutzburg was gelukkige jare en ek sal altyd daardie tyd se herinneringe koester.
My hart gaan uit na kinders wat nie die voorreg van gekoesterde kinderjare het nie en my hart sing vir elke kind wie se koms na uitgesien word en wie se ouers verantwoordelikheid neem om 'n gebalanseerde kind groot te maak.
Hartlike groete tot ons weer gesels.
Shirley Rose
Comments