top of page

Keimoes Deel 2: Skooldae

Updated: Jul 8, 2024

George-eiland-, R.K. Keimoes- en Môrelig Primêre Skole:


In 1964 is my pa in 'n onderwyspos by George-Eiland Primêre Skool aangestel en ek en Valerie was by dieselfde skool ingeskryf. Mnr. P.P. Losper was die hoof met ‘n personeel van ses ander onderwysers.


Al die onderwysers van die skool het op die dorp gebly en die wat ‘n motor gehad het, het aan die ander ‘n saamry- geleentheid gebied. Ons het aanvanklik agter in mnr. Losper se bakkie saamgery skooltoe.


Die jare in George-Eiland was soos een lang speeltyd. Die pouses was soms lank en ons het baie kere by die rivier daar naby gaan speel. Daar was ook ‘n ou hangbrug waarop die mense kon loop om oor die rivier kom.


Van die hangbrug se paaltjies was weg en partykeer het stout. seuns die lendelam brug geskud om ons te terg. Ons moes dan om lewe en dood vasklou om nie daar af te val nie. Ons bewaar-engele moes oortyd gewerk het, want niemand het verdrink of seergekry nie.


Op ‘n keer het ek agter die skool gesit en lees terwyl die onderwysers besig was met ‘n vergadering na skool. Heeltemal opgeneem deur my boek, kan ek onthou dat ek op ‘n stadium vlugtig gewonder het hoekom dit so stil is.


My pa het gedink dat ek saam met Ragel en Kinnie na hul huis toe was. Toe hulle my nie daar kry nie, het hulle rondgevra of iemand my gesien het. Later is almal terug dorp toe met die hoop dat ek op een of ander manier by die huis uitgekom het. Mamma was amper histeries en het geglo ek het verdrink.


Daddy is t’rug skool toe en het my laat die middag, steeds aan’t lees, daar agter die skool gekry. Ek was oortuig dat ek die grootste pakslae van my lewe sou kry. My ouers was so verlig en dankbaar dat ek niks oorgekom het nie, dat ek net moes beloof om dit nooit, ooit weer te doen nie.



Op foto 1 maak Daddy en Mnr. Johnson gereed vir 'n foto en op foto 2 is ons St. 2-klas se koor voor een van die klaskamers. Daddy staan agter en ek staan voor, vierde van regs en Kinnie aan my regterkant.


Die skole in en om Keimoes was kultureel baie bedrywig en daar was gereeld konserte gehou en daar was omtrent elke jaar ‘n koor-kompetisie. My pa en Mnr. J. Johnson was die koorleiers by die skool en het gereeld eerste pryse verower. Ek onthou nou nog die woorde van een van ons wen-liedjies: Bootjie na Kammaland.


Foto 1: Ons sing met oorgawe "Bootjie na Kammaland" onder leiding van Mnr. J.B. Johnson. (Ek staan heel regs) Op foto 2 is my pa as seremoniemeester by dieselfde geleentheid.


Een jaar was ‘n groot Lentefees gehou en elke skool in Keimoes en omgewing was verantwoordelik vir ‘n sierwa vir die lente-optog op die dorp. Skole moes ook, onder andere, ‘n leerder inskryf wat ‘n blom voorstel. Daddy het ‘n kostuum wat ‘n pronkertjie uitbeeld, vir die okkasie aanmekaar geslaan.



Altletiek was vir my ‘n jaarlikse marteling, want ek het nie ‘n enkele atleet-geen geërf nie. Elke jaar moes ons oor en oor oefen en elke liewe jaar het ek weer en weer tweede-laaste gekom. Sal maar nie sê wie het laaste gekom nie.


Skool-inspeksies was vir die meeste ondewysers nagmerrie- ervarings. Die skoolinspekteurs het omtrent ‘n skrikbewind gevoer en wanneer daar kennisgewing van ’n voorgenome inspeksie gekry word, was die hele skool in rep en roer.


Soms het die inspekteur glad nie opgedaag nie, sonder enige rede of verduideliking. Die antiklimaks, tesame met verligting van die onderwysers, was voelbaar.


Na St. 5 (Gr. 7) is ek na R.K. Primêre Skool omdat dié skool ‘n reputasie gehad het vir die goeie uitslae van hul St. Sesse. Die onderwysers was inderdaad hardwerkend en aan die einde van die jaar het ‘n hele paar van ons “eerstegraad” geslaag. (Eerstegraad was enigiets bo 60%)


Mnr. Brian Coetzee, destydse hoof van R.K. Primêre Skool en ook ons Engelse onderwyser.


Die jaar by die Katolieke skool was vir my ‘n openbaring om ‘n geloofsgemeenskap anders as myne, te beleef. Die skool, kerk en klooster was een groot kompleks en die skool was deel van die kerk.


Ons kon daagliks die nonne en priesters sien terwyl hulle besig was met hul daaglikse bedrywighede. Soos ek kan onthou, was die nonne altyd vriendelik en het vir my soos engele gelyk in hul wit klere. Die priesters het met swaar aksente Afrikaans gepraat en het vir my maar ‘n bietjie kwaai gelyk.


 Elke dag om twaalfuur sou die kerkklok lui en dan staan almal om te bid; die woorde van sommige gebede en liedere onthou ek nog goed. Daar was van die leerders en onderwysers verwag om soms dienste in die kerk oorkant die skool by te woon. Ek het ook meer geleer van die belangrike rol van Moeder Maria in die Katolieke Kerk.


Môrelig Primêre Skool op die dorp moes St. 7 en 8 ook huisves en ek het toe vir die volgende twee jaar daar skoolgegaan. Op daardie stadium was daar nog nie ‘n hoërskool vir bruin kinders op die dorp nie.


Die twee jaar by Môrelig was goeie jare en ons het goeie onderwysers gehad. Ons onderrig in Engels op laerskool was seker nie altyd op standaard nie. Ek spot altyd deur te verklaar dat ons Engels deur die medium van Afrikaans geleer het!


By Môrelig het ons beter gevaar met Mnr. W. J. Olivier, oftewel, “Teacher Toy”. Vir die eerste keer in my skoolloopbaan mog ons nie Afrikaans praat gedurende die Engelse periodes nie.

In St. 8 was Mev. Van der Linde, die eerste Engelsprekende persoon by die skool, verantwoordelik om Engels in ons koppe te kry.


Ek onthou goed hoe sy eenkeer haar onderlip in ongeloof vasgebyt het omdat nie een van ons geweet het dat ‘n yskas ‘n “REFRIGERATOR” in Engels is nie. Ons het toe darem al van ‘n “FRIDGE” gehoor.


Behalwe akademie, was atletiek en kulturele bedrywighede ook ‘n integrale deel van Môrelig Primêr. Ons het selfs ‘n debatsvereniging ook gehad. Teen Henry van der Linde het ons nie ‘n kans gehad om ‘n debat te wen nie. Soos sy ma gesê het: “He’s got the gift of the gab.” Natuurlik was dit die eerste keer dat ek dié uitdrukking gehoor het.


Ons het darem die voorreg gehad om ons St. 8-eksamen in die pasklaar Senior Sekondêreskool Oranjezicht te gaan skryf. Die skool is eers die daaropvolgende jaar, 1971, amptelik in gebruik geneem met klasse vanaf St. 6 tot St. 8.


In 1971 is ek toe Kaap toe om by Zonnebloem Opleidingskool te gaan studeer. Na slegs twee jaar kon jy kwalifiseer as kindertuin-onderwyser. Mens kan maar net jou kop skud oor die onkunde.


Ons het beslis nie in diepte kennis van Opvoedkunde of 'n goeie insig in die ontwikkeling van die kind gehad nie. Tog het ons as onderwysers met slegs St.8 en twee jaar opleiding nie te sleg gevaar nie, want ons skoling was deeglik en prakties.


Keimoes was toe nog nie klaar met my nie, want na twee jaar in die Kaap was ek terug om my onderwys-loopbaan daar te begin.


Op 'n ander dag vertel ek graag verder van my lewe in Keimoes.


Nostalgiese groete en mooi loop.

Shirley Rose


 
 
 

Recent Posts

See All
Om 'n gegewe perd in die bek te kyk

Wie hou nou nie daarvan om ‘n geskenk te ontvang nie? Daardie afwagting terwyl jy die pakkie oopmaak en wonder: “Wat sou dit wees?” Die...

 
 
 
Op Robbeneiland

WAS JY AL DAAR? Op Donderdag 20 November 2024 besoek ek en Bertie Robbeneiland. Bertie vir die tweede keer en uiteindelik, my eerste...

 
 
 

Comments


bottom of page