top of page

Is it possible to look good every day?

Updated: Nov 29, 2023

WATTER SOORT KLERE DRA JY IN DIE SOMER OM KOEL TE BLY?

Baie van ons sien elke jaar reikhalsend uit na die meeste mense se geliefkoosde seisoen. Suid-Afrikaners is buitelug-mense en veral gedurende die somer is niemand binneshuis as hulle dit kan verhelp nie.


Dit is ook die tyd wanneer mense so min klere as moontlik dra, want by ons is dit warm! Baie, mans en vroue, verkies kortbroeke en tops met sandale. Vir my is 'n rok is die beste ding om te dra as dit so warm is, maar nie almal verkies rokke nie.


Nie almal lyk goed in 'n kortbroek en top, of die ander gunsteling, moulose rokke nie. Ek is taamlik selfbewus oor die spatare op my bene en my flaparms. As jy nie 'n flenter omgee nie want jy kry warm, dra dit gerus. Ek het so bietjie gaan rondsoek vir vleiende somerklere en bykomstighede. Ek hoop jy kry 'n paar idees waarvan jy hou.


'n Los hemp met 'n wit of blou jean is 'n ou staatmaker-kombinasie en lyk altyd goed. Let op na die stilering /patroon van die lang top op die foto in die middel hier onder. Die v-hals en die opening voor is baie vleiend.

Lospassende hempstyle of kimonostyle lyk net so vleiend saam met leggings.

Lospassende rokke is ideaal vir die somer. Probeer materiale soos katoen en linne as jy nie omgee vir kreukels nie. Ligte materiale soos chiffon vir kaftans of lang tops werk ook goed.

Rokke kan maksi, midi of knielengte wees soos jy verkies. Wit is altyd 'n treffer in die somer, maar probeer ook 'n bietjie kleur. Groen of blou as soliede kleure op hul eie of gekombineer met wit, lyk altyd vars in die hitte.

Eksperimenteer met bypassende broeke en tops. Die broekspyp-lengtes in die derde en vierde fotos hieronder is die kortste wat jou broek behoort te wees. (Tensy dit 'n kortbroek/short is.) Kuitbroeke skree "antie!" Ek het 'n hele paar, maar sal hulle net by my huis dra. Weereens, jou keuse.

Vertikale strepe skep die illusie van lengte; vermy horisontale strepe as jy nie breer wil lyk nie.

Dra een kleur as basis met 'n oop hemp/ kimono bo-oor; dit skep ook 'n vertikale lyn.


Dra bonkige, interessante oorbelle as jy nie kans sien vir enigiets om jou nek in die warmte nie. Handsakke in pastelkleure of strooisakke komplimenteer alle somerklere.

Sonbrille, sonhoede en sandale is jou somer-staatmakers! Onthou, sandale vra vir 'n pedikuur!

Maak nie saak wat ons dra nie, warm sal ons kry. Oorweeg dit tog maar om nie jou goeie oordeel saam met die warmte te laat verdamp nie. Onthou dat ons almal wil goed lyk op ons vakansiefotos.


Mag jy 'n gemaklike maar stylvolle somer geniet.

Warm groete.

Shirley Rose


Fotos van Pinterest




48 views

Recent Posts

See All
bottom of page