Hou jy van 'n sloertoer?
- ferisshirley
- Oct 27, 2021
- 6 min read
Updated: Oct 28, 2021
SLOERTOER
In 2018 word hierdie lekker woord deur die Woordeboek van die Afrikaanse Taal erken as ‘n nuutskepping vir “road trip”. My eie woordskepping is “padkuier”, want jy ry mos so kuier-kuier en rus-rus.
My wederhelf het miere en is mal oor reis. Oor die jare het hy ons gesin na ‘n hele paar plekke in Suid-Afrika geneem en so het ons onvergeetlike herinneringe van goeie tye. Deesdae is ons kinders groot en ry hulle nie meer saam nie.
Alize, ons oudste, het darem onlangs saamgery toe ons haar ouma in Keimoes gaan besoek het. ‘n Reis met jou volwasse kind is anders as toe hulle klein was, op ‘n ander manier lekker en so betekenisvol.
Om een of ander rede gesels mens in ‘n motor nie net oor ditjies en datjies nie, maar kom daar ook dieper gesprekke en soms selfs familiegeheime na die oppervlak. Miskien is dit die onverdeelde aandag van jou reisgenote, die minder-konfronterende langs-mekaar-sit en die wegkom van die alledaagse wat sulke gesprekke bevorder.
‘n Paar weke gelede pak Bertie en ek ‘n sloertoer aan om dorpies waar ons nog nooit was nie te besoek. Ons vertrek Maandag 11 Oktober uit Kaapstad en ry tot in Riversdal waar ons koeldrank drink by die dominee wat ons 44 jaar gelede getrou het. Hy is nou in sy sewentigs, boer rustig op ‘n pragtige plaas net buite die dorp en het geen planne om af te tree nie. Ons gesels so lekker dat ons skoon vergeet om ‘n paar fotos te neem.
Die aand slaap ons in Oudtshoorn omdat ons die volgende dag ‘n vriendin wil gaan groet. Haar man het in 2020 aan Covid gesterf en ons het haar nog nie weer gesien nie. Hulle was van daardie gelukkige mense wat sielsgenote was en het ‘n besondere verhouding gehad. Hul twee dogters is albei getroud en woon oorsee met hul gesinne. Die een dogter kon as gevolg van reisbeperkings, nie eens by haar pa se begrafnis wees nie. Dit het my opnuut weer getref hoe bevoorreg ons is dat al drie ons kinders in dieselfde plek as ons woon.
Die Doornkraal-padstal net buite De Rust is die eerste van vele op ons reis. Padstalle hou vir baie mense, ook vir my, ‘n besondere bekoring in. Gewoonlik dwaal ek graag deur die rakke vol tuisgebak, handwerk en allerhande snuisterye. Deesdae adverteer baie padstalle roosterkoek om reisigers te lok. Dit werk dit soos ‘n bom as verdere motivering vir my om daar in te gaan. Ongelukkig is alle roosterkoeke nie op dieselfde standaard nie, maar steeds eetbaar. Die eerste prys vir die lekkerste roosterkoek op ons padkuier, gaan na die Farmhouse padstal op Hofmeyr. Ons het ook die lekkerste Nastergalkonfyt daar gekoop.
Dinsdag ry ons op slegte paaie vol slaggate deur Willowmore, Jansenville, Pearston en kom die aand uitgeput op Somerset-Oos aan. Die eerste twee gastehuise waar ons slaapplek soek, is vol bespreek, maar ons kry op ‘n aanbeveling tog ‘n rusplek. Gastehuise in die omgewing kry goeie besigheid van ingenieurs en andere wat windplase aanlê en onderhou. Die groot aantal gastehuise op selfs die kleinste dorpie is opmerklik en mens hoef regtig nie bang te wees om nie iewers geholpe te raak nie.
Daar is natuurlik faktore om in ag te neem voor mens sonder vooraf-besprekings die pad aandurf. Byvoorbeeld, is dit vakansieseisoen of nie, wil jy in ‘n spesifieke gastehuis oorslaap, het jy spesifieke behoeftes, die aantal dae wat jy wil bly en hoeveel mense saamreis. Die ander probleem van akkommodasie op die internet soek, is dat die pragtige fotos en die fisieke plek nie altyd ooreenstem nie.
Na ‘n lekker brêkfis by Blue Lizard Coffee Shop met sy pragtige tuin en aangrensende kwekery, vat ons Woensdag die pad verder. Ons ry deur Cookhouse, wat ons byna mis, want die klein gehuggie se naam verskyn nêrens behalwe op ‘n verweerde muur in verbleikte letters.
Op Cradock waai die wind mistroostig en warrel stof, papiere en plastieksakke rond. Ons ry deur Hofmeyr met sy oulike padstal waar die eienaar, pêrels om die nek, kla oor die stof. Ons betaal vir ons (wen) roosterkoek en nastergalkonfyt en hervat ons reis.
Later stop ons op Steynsburg sodat Bertie ‘n foto van die kerk kan neem. (Hy het vooraf besluit om ons reis deur middel van fotos van kerke te dokumenteer.) Die middedorp is vervalle met verskeie murasies en te midde hiervan staan ‘n imponerende kerkgebou wat ooglopend in onbruik is. Die tuin rondom die kerk is droog en verwaarloos. Ironies die inskrywing op die gedenksteen: “Die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie.” ‘n Straat verder sien ons ‘n kleiner replika van die kerk kompleet met dieselfde siersteen gebou. Mens wonder wat op die dorp met die gemeentes gebeur het.
Ons koop lekker koffie by Haagenhuis Coffee Shop in Burgersdorp en ry net anderkant Aliwal-Noord oor die Oranjerivier. Dié breё rivier vorm ook die grens tussen die Oos-Kaap en die Vrystaat. So terloops, ons kon goeie koffie te koop kry op byna elke dorp. ‘n Aangename verrassing veral vir Bertie wat ietwat van ‘n koffiesnob is.
Die landskap verander algaande in die tipiese grasvlaktes en koppies soos ons verder deur die Vrystaat ry. Rouxville is ‘n mooi dorpie in teenstelling met Zastron, erg verwaarloos, waar ons vir twee aande oorslaap. Die meeste dorpe op ons pad is taamlik vervalle en is skreiende getuienis van onbevoegde munisipaliteite.
Ons uitspanplek op Zastron is die skilderagtige Vultures Nest Lodge wat knus aan die voet van die dorp se berg nestel. Die twee dae daar sit ons van laatmiddag tot vroegaand buite en saam met ‘n gin & tonic, drink ons die rustigheid in. Verkwik vat ons Vrydag die pad verder na Clarens.
Die aanvanklike indruk van ons tuiste vir die volgende drie aande, Woodlands Retreat, is net so bekoorlik soos die naam. Ons stap verby die hoofhuis na ‘n oulike kothuisie in 'n blomryke tuin en die gasheer sluit die deur vir ons oop.
Ek kan my oё nie glo toe ons die spasie voor ons inneem nie. Die vertrek is volgepak met ‘n dubbel-slaapbank, opvoubare slaapbank, ‘n dubbelbed met ‘n hobbelrige matras asook drie ongemaklike stoele. Goedkoop slaapplek vir vyf studente in plaas van vir twee mense soos ons bespreek het. Die plek word geadverteer as ‘n driester hotel met fotos van gerieflike kamers op die webwerf.
Op die webtuiste lyk die verblyf so:
Die kamer aan ons gebied lyk so:
Daar is geen twyfel dat ons in so ‘n plek die paar dae in Clarens gaan deurbring nie en Bertie soek onmiddelik ander verblyf. Hy kom af op Andes Clarens Guesthouse, geleё drie km buite Clarens en ons vra om na die plek te gaan kyk.
Ons ry deur ‘n indrukwekkende hek en ‘n prentjie maak oop voor ons. Grasperke, bome, blomme en plante in die grond asook in groot planthouers maak deel uit van ‘n uitgestrekte, goedversorgde tuin. ‘n Entjie van die groot plaashuis staan die gastehuisie waarheen die eienaar ons neem na ‘n hartlike verwelkoming.
Binne is die plek vyfstergehalte (dit het, nes die vorige plek, 'n driester gradering). Daar is pragtige meubels, ‘n kombuishoekie (die plek is selfsorg soos ons dit verkies), twee gemakstoele en 'n luukse en-suite badkamer. Die kersie op die koek, ‘n balkon met ‘n uitsig op uitgestrekte natuurskoon en landerye wat wegraak in die verte. Ons kan ons goeie geluk nie glo nie.
Saans word ons bederf met ‘n glasie sjerrie en Sondagoggend bring die eienaar, Marius, vir ons varsgebakte worsrolletjies wat Philna, sy vrou, gebak het. (Nou nie koesisters nie, maar net so lekker.) Die plaas is ook ‘n gewilde trou-venue met sy eie boskerk en onthaalsaal. Philna doen self die spyseniering vir onthale en is ook die meesterbrein agter die pragtige tuin. Voorwaar ‘n vrou van vele talente.
Clarens is alles en nog meer as wat ons verwag het. Die pragtige omgewing laat die dorpie lyk soos iets uit ‘n sprokie. Baie gastehuise, restaurante, koffiewinkels, boetieks, spa’s en ‘n verskeidenheid winkeltjies voldoen aan besoekers se elke moontlike behoefte. So twintig kilometer buite Clarens is die manjefieke Golden Gate waar mens jou vergaap aan die unieke sandsteenformasies.
Maandagoggend kom sien Marius en Philna ons af ten spyte daarvan dat hulle in die middernagtelike ure moes opstaan om ‘n krisis af te weer. Hulle moes rook maak in die appelboord om te voorkom dat dreigende ryp die jong vruggies van die bome laat val. Ja nee, dit is harde werk om ‘n suksesvolle boer te wees.
Ons ry deur Betlehem om ons terugtog via die N1 aan te pak. Dit was 'n ryke ervaring om nuwe plekke te verken, maar nou roep die huis. Richmond is ons enigste oorslaapplek om die lang rit na die moederstad te onderbreek.
Doodmoeg en tevrede kom ons Dinsdag-namiddag veilig tuis. “Road trip”, “Sloertoer” of “Padkuier”; dit is goed vir die siel en ek kan dit aanbeveel.
Groetnis tot ons weer gesels.
Shirley Rose
Comments