Hoeveel emosies het 'n mens?
- ferisshirley
- Mar 1, 2023
- 4 min read
Updated: Nov 21, 2023
EMOSIES EN GEVOELENS
Het jy geweet daar is ‘n verskil tussen emosies en gevoelens? Hoe goed kan jy jou gevoelens beskryf?
Op die internet is daar ‘n verskeidenheid lyste van emosies; sommige lys 5, ander 8, 25, en so gaan dit tot 87 emosies wat Brené Brown in haar boek: Atlas of the heart (2021) bespreek. Sy is van mening dat dit uiters noodsaaklik is om die korrekte naam vir jou emosie te gee voordat jy dit kan aanspreek.
Die doel van Brown se boek is om 'n ensiklopedie van die spektrum van emosies asook die vaardighede om dit te hanteer, saam te stel.

Ter wille van goeie geestesgesondheid, moet ons ‘n manier vind om in harmonie met ons emosies te leef. Om dit reg te kry, is dit nodig dat ons meer te wete kom oor emosies en gevoelens. (Die meeste navorsers ondersoek gewoonlik 5 emosies naamlik Woede, Afsku, Vrees, Geluk en Hartseer.) www.frontiersin.org
Alle mense ervaar emosies, maak nie saak aan watter nasie of kultuur hulle behoort nie, Indien enige mens byvoorbeeld skielik deur ‘n gevaarlike, wilde dier gekonfronteer word, sal hy/sy vrees ervaar, want dit is ‘n oer-instink. Vrees verhoog jou hartklop, laat ons weet die situasie is gevaarlik en dat ons dadelik iets moet doen byvoorbeeld weghardloop of veg.
Alyssa Cooks-Campbell (Speech/Language and Occupational Therapist) identifiseer 8 van hierdie oer- emosies wat positief of negatief kan wees:
1. VREUGDE – Wanneer iets positief of opwindend met ons gebeur.
2. HARTSEER – Wanneer ons verlies ervaar.
3. WOEDE – Wanneer ons verraai voel.
4. VREES – Wanneer ons in gevaar verkeer.
5. GELUK – Wanneer ons veilig en versorg voel.
6. AFSKU – Wanneer ons gekonfronteer word met iets grusaam.
7. VERTROUE – Wanneer ons ander mense kan respekteer en aanvaar, kan ons hulle vertrou.
8. VERWAGTING – Wanneer ons nuuskierigheid, belangstelling of gewaarwording geprikkel word.
Emosies stel ons instaat om sosiale vaardighede en goeie instinkte te ontwikkel asook hoe om sosiaal-aanvaarbaar in moeilike omstandighede op te tree. Om ons emosies te onderdruk of te probeer ignoreer, kan lei tot toksiese gedrag en swak geestesgesondheid.
Dit is nodig om ons emosies te verstaan indien ons suksesvolle verhoudings wil handhaaf; hetsy in ons persoonlike lewe of in die werkplek. Begrip van jou emosies verbeter jou emosionele intelligensie, besluitnemings-vaardighede en om ‘n gesonde emosionele balans te vind.
Gevoelens kan nie bestaan sonder emosies nie terwyl emosies grotendeels onafhanklik voorkom. Dit is meer spesifiek en nie almal ervaar gevoelens op dieselfde manier nie. In plaas van net “kwaad/woedend” (die emosie) te wees, kan iemand meer spesifiek gevoelens van aggressie, wraak en wrewel (resentment) ervaar.
Gevoelens kan ook ‘n aangeleerde gevolg wees van ‘n emosionele skok (trigger). Byvoorbeeld as iemand Aragnafobies is, kan dit wees dat ‘n vroeë negatiewe ervaring jou geleer het om bang te wees vir spinnekoppe.
Gevoelens kan ook bewuste ervarings van onbewuste emosies wees as gevolg van tauma. So kan sommige mense negatiewe gevoelens teenoor hul ouers ervaar omdat hulle as kind woede ervaar het byvoorbeeld as gevolg van ouers se egskeiding of as jy as kind deur hulle mishandel is.
Dit is raadsaam om sulke negatiewe gevoelens te identifiseer en aan te spreek, verkieslik met behulp van ‘n terapeut. Die gevolge van die onderdrukking van sulke gevoelens kan ‘n erg negatiewe impak op ‘n person se geestesgesondheid hê.

Gevoelens word ook beïnvoed deur ons familie, sosiale kringe, geloof en kultuur. So byvoorbeeld kan aangeleerde negatiewe gedrag soos woede-uitbarstings en drankmisbruik die gevolg wees van die onaanvaarbaarheid om negatiewe emosies te verwoord. (Ons praat nie daaroor nie.)
‘n Ander voorbeeld van kulturele invloed op emosies en gevoelens, is rituele rondom die dood. In die meeste kulture word daar ‘n herdenkingsdiens, troosdiens, begrafnisdiens of al drie, gehou. Daar word ook na die begrafnis ‘n samekoms met iets te ete of selfs ‘n “after tears” partytjie gehou. Al hierdie gebruike help om die agtergeblewe familie en vriende te troos, om die verlies te begin verwerk en om die oorledene se lewe te vier.
Allaya Cooks-Campbell gee 4 maniere om jou emosies en gevoelens te bestuur:
1. Erken jou emosies, moet dit nie onderdruk nie. Onderdrukte emosies veroorsaak angs, depressie, slaapprobleme, onverklaarbare pyne en skete, stres en verslawing. Probeer om jou emosies ‘n naam te gee en spreek dit aan of kry hulp.
2. Aanvaar jou emosies. Dit is vir baie mense moeilik om hul emosies te aanvaar en daarmee saam te leef. Emosies sal altyd deel van ons lewe wees, daarom moet ons ‘n manier vind om dit te erken en daarmee saam te leef.
3. Haal asem. Ja, ons hoor dit gereeld, maar neem ons die eenvoudige raad ernstig op? Wanneer ons intense emosies ervaar, gaan ons brein in versnelrat en begin ons gedagtes wild rondhardloop. As ons stadig begin asemhaal, is jou fokus op jou liggaam en nie jou gedagtes nie. Die brein kry dan die boodskap dat ons nie in gevaar is nie en kan ons kalmeer.

Nie een van ons is perfek nie, inteendeel, perfeksionisme is ‘n ongesonde manier om negatiewe emosies te probeer uitskakel. Aanvaar jou menslikheid asook die van jou medemens, ons probeer almal ons bes al lyk dit nie altyd so nie.
Vriendelike groete tot ons weer gesels.
Shirley Rose
Bronne: Atlas of the Heart (2021) Brené Brown
Allaya Cooks-Campbell (Speech, Language & Occupational Therapist)
Comentários