top of page

Hoe verkies jy om vriende te onthaal?

OOR KOS EN ONTHAAL



My ma het ons kos op ‘n swart Doverstoof gekook. Die kombuis het slegs die basiese toerusting gehad en daar was geen elektrisiteit nie. Ons het‘n Primus (parafienstofie) gehad as ons vining wou water kook of iets soos eiers of wors in ‘n pan wou braai.


Ten spyte van die min geriewe tot haar beskikking, was Mamma se kos smaaklik en haar gebak voortreflik. Ek het nooit enige begeerte gehad om in die kombuis te help nie en het verkies om die huis skoon te maak en wasgoed te stryk. Dit was geen piekniek om in ons kombuis te wees gedurende die somer nie. Mamma het soggens douvoordag opgestaan om haar take in die oggendkoelte klaar te maak.


Ek was een-en-twintig toe ek getrou het en my kookvermoё was maar skraps. My man het altyd gesê ek behandel hom soos ‘n god, want ek bring vir hom brandoffers. Soos baie pasgetroudes daardie jare, was ons eerste huis ‘n twee-kamer oumawoonstel, maar darem met elektrisiteit. Kos was gekook op ‘n elektriese tweeplaatstofie en ‘n enkel-gasstofie. Ironies dat ons gesin net die jaar voor my troue in ons droomhuis met al die nodige geriewe ingetrek het.


Die eerste keer toe ons “onthaal” het, was toe ek ‘n ander paartjie met wie ons bevriend was, een Sondag genooi het vir middagete. Ons het hulle so teen twaalfuur verwag en halftwaalf was die kos reg. Presies wat op die menu was, kan ek nie onthou nie, maar dit was iets soos vleis, groente, rys en aartappels. Vir nagereg was daar “Can en Custard”. My stresvlakke het al hoe hoёr gestyg, want die situasie was reeds spanningsvol vir my en die gewag vir die gaste wat toe omtrent twee ure laat opgedaag het, het alles vererger. Beslis nie ‘n bemoedigende begin vir ‘n groentjie-gasvrou nie.


Ons het in 1989 Kaap toe getrek en deel van ‘n vriendekring geword en so deur die jare was ons na baie geleenthede toe genooi. By die partytjies was daar altyd baie mense en baie kos wat buffetstyl voorgesit was. Ek het nooit rêrig oor my onthaalstres gekom nie, maar het darem genoeg selfvertroue opgebou om een of twee gesinne op ‘n slag vir ete te nooi. Vir ‘n paar groot verjaarsdae en huweliksherdenkings het ons meer mense genooi, maar dan het ek spyseniers se hulp ingeroep.


By een geleentheid was ons genooi na die vyftigste verjaardagviering van ‘n werkskennis van my man. Dit was winter en die partytjie was by hul huis. Die huis het oorgeloop van gaste, want almal is genooi, selfs ons wat nie eens goeie vriende of familie was nie. Oral in die huis was mense; in die kombuis, die slaapkamers en selfs buite het mense rondgestaan. Die voorkamer was omskep in ‘n eetkamer met tafels gelaai met kos. Daar was baie op die spyskaart: verskillende soorte seekos, lam- en hoenderkerrie, braaiboud en ander vleis, ‘n verskeidenheid slaaie, drie nageregte en ter afronding, verjaarsdagkoek. Alles, of dit wat ek kon eet, was smaaklik en goed voorberei.


“n Paar weke later nooi ons toe die man en sy vrou en nog een ander paartjie, ook werkskennisse, vir aandete. Ek het kort tevore in Sarie-tydskrif gelees van ‘n bekende kok, Ina Paarman, wat na New York genooi was om aan een of ander geleentheid deel te neem. Sy was gevra om ‘n tipiese Suid Afrikaanse spyskaart op te stel, wat sy toe gedoen het. Die spyskaart en al die resepte wat sy gebruik het, was tesame met ‘n gloeiende suksesstorie gepubliseer. Ek dog toe dis ‘n goeie idee om die spyskaart net so vir my gaste voor te sit. Dit was tradisionele disse, maar met ‘n “twist” om dit meer interessant te maak.


Die aand van die ete het aangebreek en ek was heel ingenome met myself. Die kos was so smaaklik soos ek gehoop het en die tafel gedek. Kerse, blomme en musiek het bygedra om ‘n gesellige atmosfeer te skep. Die gaste het (betyds) opgedaag en ek het uitgesien na ‘n aangename aandjie. Alles het glad verloop tot ek die hoofgereg en bykosse begin bedien het. Die man by wie se partytjie ons was, het toe begin lag. Hy vind dit vreeslik snaaks dat ons mense vir ete nooi en dan aan hul “huiskos” voorsit. Hy verwys na die kos wat by sy verjaarsdag te ete was en sê dat dít die manier is om gaste te onthaal.


Sy vrou het net daar gesit en met ‘n glimlag haar saamstem gewys. Ek het ‘n grap probeer maak en die man om verskoning gevra vir my onthaalstyl. Die ander manlike gas het my gekomplimenteer en gesê dat hy dink die kos is baie lekker. Nodeloos om te sê, ons het hulle nooit weer na ons huis genooi nie.


My opinie is, of jy gas of gasvrou is, dit is tog so nodig om basiese etiketreёls te ken en goeie maniere te onthou.


Ons sien almal uit na die tyd wanneer ons weer sonder Covid-vrese, gesellig saam met familie en vriende kan kuier.


Groete tot ons weer gesels.

Shirley Rose

24 views

Recent Posts

See All
bottom of page