top of page

Het Suid Afrikaners 'n tipiese stylvoorkoms?

Updated: Jul 12, 2021

Suid Afrikaanse Styl

Die Colombiaans-Amerikaanse joernalis en redakteur, Nina Garcia, skryf in haar boek “The little black book of Style”, van die smeulende styl van Colombiaanse vroue. Sofia Vergara, ‘n Colombiaans-Amerikaanse aktrise, is ‘n sprekende voorbeeld van dié sexy styl.

Franse vroue se styl is legendaries, ‘n styl met “Je nais se quois”; wat vertaal word as “An appealing quality that cannot be adequately described or expressed.” (Definition: Merriam Webster) ‘n Selfversekerde houding wat grens aan arrogansie, is deel van Franse sjarme. Foto’s op Instagram en Pinterest toon ‘n neiging na ‘n natuurlike voorkoms met min grimering en los haarstyle. Dié vroue verkies goeie kwaliteit in klere en bykomstighede, maar is nie voorstaanders daarvan om duur handelsmerk-logos tentoon te stel nie. In hul Youtube-videos gee Marianne Lecoeur en Justine Leconte handige wenke oor Franse styl.

Alyssa Beltempo en Analisa B deel op hul beurt die Italianers se stylwenke. Die Italiaanse uitdrukking “La bella figura”, beteken nie net letterlik “Beautiful figure” nie, maar ook veel meer. “It specifically means to dress well to make a good impression. Wanting to look appealing, is a common desire for Italians, an integral part of the culture we are immersed in as children. www.lagazettaitaliana.com “La bella figura”, though, is much more than appearance. It is also about dignity, hospitality and politeness.” Elia Lafelice. Wat ‘n lieflike stylfilosofie.

In Suid-Afrika is style is so uiteenlopend soos die mense wat hier woon en dit is goed so. Daar is soveel verskillende kulture in ons land en die verskillende style beїnvloed soms mekaar met interessante “fashion fusion” gevolge.


Modeneigings in ons land verskil selfs van stad tot stad. Johannesburgers se styl is meer formeel en “in die mode” as die Kapenaars se meer gemaklike styl. Suid Afrika het uitstekende klereontwerpers wat hul plek kan vol staan op wêreldverhoё. Afrika-invloede word al hoe meer gesien in oorsese ontwerpers se versamelings. Helder kleure was nog altyd kenmerkend van Afrika en tradisionele materiale soos Shwe Shwe is al hoe meer in aanvraag.


Ontwerpers soos David Tlale, Marianne Fassler, Errol Arendz en Jacques van der Walt (Black Coffee) is maar ‘n paar gevestigde groot name. Daar is vele jong, opkomende ontwerpers wat met hul skeppings soos ‘n vars briesie deur die modewêreld waai. Hulle ontwerpe is miskien ook meer toeganklik vir jong mode-navolgers. Ander ontwerpers soos Hugo Fleur, inkorporeer Suid Afrikaanse simbole soos die protea, in hul ontwerpe en dit is gewild onder Suid Afrikaners.

Simon Rademan spreek hom soos volg uit op Rooi Rose se Twitterblad: “Suid Afrikaanse vroue is baie styvol, belese en ingelig. Verder sê hy: “It remains important to be yourself, have fun with fashion and not take yourself too seriously." Ek stem heelhartig saam dat mens jou eie styl moet volg en jou klere geniet.Die meeste van ons koop klere by kettingwinkels en kan nie ontwerpersklere bekostig nie. Dit beteken nie dat ons nie ons eie styl kan uitbeeld nie. Om te spaar en die beste kwaliteit wat jy kan bekostig te koop, is ‘n goeie beginsel. Skakel goedkoop “fast fashion” uit; ons moet almal meer bewus leef en minder afval genereer. Basiese kledingstukke van goeie kwaiteit hou langer en lyk beter. Bykomstighede kan gebruik word om dit anders te laat lyk of selfs meer modern.

Soos reeds gesê, is individuele styl is ‘n konsep wat ek heelhartig ondersteun. Wat my wel pla, is dat party mense nie altyd die gepaste klere aantrek vir 'n geleentheid nie. Dit is byvoorbeeld, tog nie te veel gevra om nie met net ‘n jean en t-hemp na die teater te gaan nie. Deur net ‘n baadjie by aan te trek, word die voorkoms opgradeer, of vervang die t-hemp met 'n hemp. Jou voorkoms behoort te reflekteer of dit ‘n informele of formele geleentheid is en dit hoef jou nie ‘n plaas se prys te kos nie. Die klassieke swart nommertjie of ‘n rok in jou gunsteling kleur, is altyd gepas. Weereens, jy kan dit met bykomstighede en skoene aanpas by die geleentheid.

Troues is van die geleenthede waar baie mense klere-faux pas maak. Almal betrokke by die reёling van ‘n troue spandeer tyd en geld om daarvan ‘n onvergeetlike ervaring te maak. Hulle vereer jou met ‘n uitnodiging en hopelik vereer jy die okasie deur gepas aan te trek. Sommige troues en geleenthede is formeel, ander informeel. Soms word die drag op die uitnodiging aangedui, maar indien nie, maak liewer seker.

Sover dit my aangaan, alhoewel daar tog ooreenkomste is, het Suid Afrikaanse vroue nie ‘n tipiese modestyl nie, maar is ons elkeen stylvol in eie reg.


Foto's van Pinterest.

Dra jou styl met trots tot ons weer gesels.

Shirley Rose



110 views

Recent Posts

See All
bottom of page