top of page

Het jy 'n kosbare erfstuk?

Updated: Aug 24, 2022

Wat alles sou as ‘n erfstuk klassifiseer? Is dit iets wat baie geld werd is? Die woordeboek verklaar dit as “‘n nagelate voorwerp” asook “‘n voorwerp wat al vir meer as een geslag in familiebesit is.” 'n Erfstuk kan dus enige iets wees wat van een geslag na die volgende oorgedra word. So ‘n item mag miskien nie ‘n hoë monetêre waarde het nie, maar wel sentimentele waarde.


In enige familie is daar items wat ‘n geskiedenis het, of wat ‘n spesiale storie vertel. Jou ma of ouma se trourok of enige ander vintage kledingstuk wat aan die volgende geslag nagelaat word, kwalifiseer as ‘n erfstuk. So ook ‘n meubelstuk, musiekinstrument, goeie linne, juweliersware, horlosies, porselein, glassware, fotos, familie-resepte, briewe, dagboeke, joernale, handgemaakte items en so meer.


Die enigste juweel wat ek van my ma het, is ‘n goud-en-topaas armband. My ander twee susters het haar horlosie en ringe onderskeidelik, so ons het darem elkeen ‘n stukkie juweliersware van haar. Dié stukke het sy later in haar lewe vir haarself gekoop, want sy was lief vir mooigoed.


Mamma was ook lief vir mooi klere en porselein. Ek wens soms dat die rokke wat sy op fotos gedra het, behoue gebly het. Sy was altyd so stylvol. Sy het ‘n paar stukke Engelse porseleinware as trougeskenk gekry van haar werkgewers, Mr & Mrs C Cullis van Pinelands. Sy was hul twee dogters, Margaret en Betsy-Jean, se oppaster voor haar troue. Slegs die opskepbak, sonder sy deksel, het daarvan oorgebly. Ek het later by Zonnebloem Skool as onderwyser gaan studeer en groot was ons verbasing dat die einste Mr Cullis die hoof daar was. Ek het later ook vir Mrs Cullis ontmoet en hulle was “thrilled to meet Catharina’s daughter.”


Ander erfstukke van Mamma is tafeldoeke

, teekoppies en ‘n poedingstel wat ek nog vir haar gekoop het toe ek begin skoolhou het. Sy was ook lief vir brei en hekel en het die dooprok gebrei waarin my, my broer en susters se jongstes gedoop is. Sy was ook ‘n uithaler kok en bakker, maar dié gawe het nie een van ons susters geërf nie, daarom het ons ongelukkig haar resepte verlore laat gaan. Vandag is ek natuurlik baie spyt daaroor.


Ons erfporsie van my pa het ek volledig bespreek in die blog oor hom: "My pa is 'n digter." Hy het vir ons kosbare erfstukke gelaat in sy gedigte en kunswerke.


Nóg my ma óf my pa het enigiets by hul ouers geërf, maar Bertie het darem iets van sy ouma en oupa: ‘n Duitse bierbeker wat al meer as ‘n eeu oud is. Oumoeder het dit destyds op haar troue as geskenk gekry by die mense vir wie sy gewerk het.


Van my skoonma het ek ‘n kosbare stel glase en waterbeker gekry wat seker ook al 60 plus jare oud is. Ons het ook ‘n mooi blikkie waarin sy as jongmeisie sjokolade by my skoonpa gekry het toe hy nog by haar gekuier het. Hy is ongelukkig al oorlede, maar sy leef nog en is 95 jaar oud. Mamma Feris het na al die jare nog steeds haar trourok en het dit onlangs weer vir ons gewys.


Dit is goed om sulke items by familie-byeenkomste uit te haal en die stories daarvan te onthou en oor te vertel. ‘n Ryke skatkis vol herinneringe is goed vir die mens op sy lewenspad.


Bewaar en koester erfstukke, dit is kosbare skakels met die verlede.

Tot ons weer gesels.

Shirley Rose

67 views

Recent Posts

See All
bottom of page